Die verkiesing het gewys peilings is van onskatbare waarde, skryf Dawie Boonzaaier.

By die Verkiesingskommissie (OVK) se uitslagsentrum verlede week in Midrand was daar 'n onbekende gesig by die DA-tafel wat kort-kort na sy skootrekenaar geloer het.
Die res van die gesigte ken ons almal. Daar was John Steenhuisen, die DA-leier, Helen Zille, die voorsitter van die party se federale raad, Siviwe Gwarube, die DA se hoofsweep, en die woordvoerders Werner Horn en Solly Malatsi.
Maar selfs ná 'n onderlangse geskinder met ander joernaliste kon ek steeds nie vasstel wie die man is wat die een Excel-tabel ná die ander oopgemaak het nie.
Toe ek later 'n kans kry om te vra wie die onbekende man by die tafel is, antwoord een: "Daardie is die waardevolste man in Suid-Afrikaanse politiek."
Johan van der Berg is die hoof van navorsing by die DA en verantwoordelik vir die party se uitgebreide peilingsdata waardeur die DA-leiers se politieke veldtogte gelei word.
Hy voorsien die DA onder meer van peilings waar die geregistreerde kiesers oor 'n tydperk gevra word hoe hulle sal stem, asook hoe hulle voel oor spesifieke kwessies soos, byvoorbeeld, die oorlog in Gasa of Nasionale Gesondheidsversekering (NGV).
Daarby doen hy ook vir die DA 'n dag-tot-dag-peiling waardeur honderde demografies verteenwoordigende mense oor die land heen elke dag telefonies oor hul politieke keuses gepeil word om die verandering in steun te meet.
Die DA se interne peilings toon dat die Suid-Afrikaanse kiesers nie hul steun aan 'n party gaan toesê of wegvat as gevolg van wat in Gasa gebeur nie.
Van der Berg se data is byvoorbeeld gebruik om nie 'n pro-Palestynse veldtog in die Wes-Kaap te begin nie.
Toe elke Jan Rap en sy maat, hierdie joernalis inkluis, die DA pols oor of sy middelwegopsie hom nie gaan kiesers kos nie, het die party sterk gestaan.
Emma Powell, die DA-woordvoerder oor buitelandse sake, het volgehou die DA se interne peilings toon dat die SuidAfrikaanse kiesers nie hul steun aan 'n party gaan toesê of wegvat as gevolg van wat in Gasa gebeur nie.
"Hulle wil stem oor plaaslik kwessies," het Powell gesê.
Dit terwyl die ANC in die Wes-Kaap om elke hoek en draai sy pro-Palestynse standpunt in kiesers se kele wou afdruk.
Die ANC se steun het eindelik verlede week in die Wes-Kaap met nege persentasiepunte afgeneem, terwyl die DA s'n presies dieselfde (55,5%) gebly het.
Dus is die DA-data reg bewys, maar in die verlede is hierdie peilingsdata nie altyd ewe entoesiasties aanvaar nie.
In die aanloop na 2019 se algemene verkiesing was daar reeds data beskikbaar dat die DA besig is om steun onder die Afrikanerkiesers te verloor, maar die destydse leier het dit grootliks geïgnoreer, beweer DA-bronne.
Die DA het uiteindelik in daardie verkiesing met 1,4 persentasiepunte teruggesak en die meeste van sy kiesers aan die VF Plus afgestaan, met die party se leierskorps wat almal op hul swaard moes val.
Onder die huidige leierskorps word die peilingsdata egter gekoester. Greg Krumbock, die DA-LP wat die party se verkiesingsveldtog gelei het, het byvoorbeeld al in November verlede jaar in 'n verklaring onthul dat die DA se peilings die ANC op 40% van steun nasionaal meet.
In Februarie vanjaar het Krumbrock in 'n onderhoud met BizNews onthul dat die DA se interne peilings toon dat oudpres. Jacob Zuma se MK-party die derde grootste party in die land is.
Alles data wat eindelik die afgelope stemdag as reg bewys is, en data waarmee die DA dus sy veldtogte kon aanpas.
Daarom is die DA-lede meer as tevrede met die een persentasiepunt waarmee die party die afgelope verkiesing gegroei het van 20,8% na 21,8%.
Terwyl dit vir Jan Publiek na trae groei lyk, weet die DA-lede dat toe Steenhuisen oorgeneem het, die party intern op 'n treurige 16% gepeil het.
Die lang messe in die blouparty is dus vir eers ongeslyp.
Nie alle partye het egter die hulpbronne om peilings intern te laat doen nie.
Op 27 Mei het die SRF se peiling die ANC se steun op 41,6% gemeet.
Dr. Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die Social Research Foundation (SRF), wys gereeld daarop dat "goeie peilings duur en ingewikkeld is".
Die SRF doen oor die jare verskeie peilings oor 'n wydlopende verskeidenheid kwessies vir sy kliënte, wat die organisasie ook op sy webtuiste beskikbaar maak vir die publiek. Hierdie peilings word gedoen deur die marknavorsingsmaatskappy Victory Research.
En vanjaar is daar besluit om al hierdie peilings in die openbare domein te plaas.
Maar kon hierdie data deur die politieke partye vertrou word?
Kom ons gaan kyk of die data eindelik bruikbaar kon wees.
Die SRF het 'n dag-tot-dag-peiling op 15 April begin wat tot en met 27 Mei die politieke partye se steun gemeet het. Hierdie peiling se basisdata is van 11 Maart tot 5 April landswyd telefonies onder 1 835 demografies verteenwoordigende, geregistreerde kiesers verkry. Van 15 April tot 27 Mei is daar elke weeksdag 200 nuwe respondente bygevoeg en 200 ou respondente verwyder om die steun op daardie spesifieke dag te meet. Die peiling se foutspeling was 2,3%, met die peilings wat selfs vir die kiesersopkoms gemoduleer was.
Op 27 Mei het die SRF se peiling, wat vir 'n 58%-kiesersopkoms gemodelleer was, die ANC se steun op 41,6% gemeet, die DA op 23,4%, MK op 12,1%, die EFF op 11,8% en die IVP op 2,1%.
Die werklike uitslae was die ANC op 40,2%, die DA op 21,9%, MK op 14,6%, die EFF op 9,5% en IVP op 3,9%.
Met die uitsondering van MK was elkeen van die topvyf-partye se werklike uitslae binne die SRF-peiling se foutspeling van twee dae tevore.
Die data-intelligensiemaatskappy AtlasIntel het 'n dag voor die verkiesing, op 28 Mei, 'n peiling bekend gestel wat van 25 Mei tot 28 Mei telefonies onder 2 308 demografies verteenwoordigende kiesers gedoen is. Die foutspeling was 2%.
AtlasIntel het die ANC op 38,5% gemeet, die DA op 20,3%, MK op 14,7%, die EFF op 12% en die IVP op 2,5%.
Die EFF was die enigste party waarvan die uitslae nie binne die foutspeling was nie.
Afrobarometer het op 22 Mei 'n peiling bekend gemaak wat van 23 April tot 11 Mei telefonies onder 1 800 demografies verteenwoordigende volwassenes gedoen is. Die peiling het 'n foutspeling van 2,3%, en is aangepas vir mense wat aangedui het dat hulle beslis sou stem.
Volgens Afrobarometer het die ANC se steun op 39% gepeil, die DA s'n op 19%, MK op 10% en die EFF op 10%. Die DA sowel as MK se werklike uitslae, het in hierdie peiling buite die foutspeling geval.
Op die 20ste Mei het eNCA en MarkData 'n peiling bekend gestel wat in April onder 3 046 geregistreerde kiesers gedoen is. Onderhoude vir hierdie peiling is in lewende lywe gedoen. Dit is vir 'n 65%-opkoms gemodelleer en het 'n foutspeling van 1,8%.
eNCA en MarkData het die ANC se steun gemeet op 43,3%, die DA op 18,6%, MK op 14,1%, die EFF op 11,4% en die IVP op 3,1%. Slegs die DA se werklike uitslag was hier buite die foutspeling.
Die marknavorsingsmaatskappy Ipsos het op 27 April 'n peiling bekend gestel wat van 9 Maart tot 15 April onder 2 545 geregistreerde kiesers gedoen is, met 'n foutspeling van 1,9%. Volgens die peiling was die ANC se steun toe 40,2%, die DA 21,9%, MK 8%, die EFF 11,4% en die IVP 4,4%. Hoewel MK en die EFF se werklike steun ver buite die foutspeling geval het, is dit opmerklik dat Ipsos die ANC en die DA se steun meer as 'n maand voor die verkiesing amper 100% korrek gepeil het.
Met die uitsondering van enkele gevalle is dit duidelik dat al die peilings se uitslae nie mistastings in die donker was nie, maar ingesamelde data wat die werklikheid weerspieël het.
Ten spyte hiervan het verskeie politici, joernaliste en politieke ontleders besluit om in die aanloop na vanjaar se verkiesing politieke peilings as onsin af te maak.
Gareth van Onselen, die uitvoerende hoof van Victory Research, het die afgelope week 'n paar van hierdie Ongelowige Thomasse op sosiale media gekasty.
Daryl Swanepoel, die uitvoerende hoof van die Inclusive Society Institute, het byvoorbeeld in April in 'n rubriek na aanleiding van peilings wat ANC-steun op 40% gemeet het, vir Mark Twain aangehaal: "Reports of my death are greatly exaggerated . . ."
Die bekende joernalis Redi Tlhabi het in Mei getwiet dat sy nie werklik die peilings verstaan nie, maar nogtans bygevoeg dat dit hoogs onwaarskynlik sou wees dat die ANC van 57% in 2019 tot slegs 40% vanjaar sou val.
Dr. Sithembile Mbete, politieke kenner van die Universiteit van Pretoria, het ook gedink dis "simpel" om te dink dat die ANC se steun so ver kon daal.
Die skrywer Jonny Steinberg het in Business Day daarop gesinspeel dat peilingsdata gemanipuleer kon word om die "oordeelsdagkoalisie" van die ANC-EFF-MK soos 'n werklikheid te laat lyk.
Richard Calland, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Kaapstad (UK), het in April in Mail & Guardian geskryf dat die peilings almal die ANC onderskat weens swak metodologie. Hy het voorts nie geglo dat MK 'n risiko vir die ANC inhou nie.
En as jy dink dis dalk net die ontleders wat swak is met syfers, of wat almal skepties was oor MK se werklike invloed, dink weer.
"Polls are for strippers", het Gayton McKenzie, die leier van die PA, in die aanloop na die verkiesing beweer. McKenzie, wat voorspel het dat sy party 12% van steun landwyd sou kry, het telkemale beweer sy party gaan die DA onder 50% kry in die Wes-Kaap. Die PA het landwyd 2,1% steun gekry.
Michael Beaumont, ActionSA se voorsitter, het op sy beurt gesê "". Verskeie peilings het gewys dat ActionSA tussen 1% en 2% van steun sou trek, ondanks wilde bewerings dat hy selfs die grootste party in Gauteng sou word. Beaumont het self "dubbelsyfer"-steun vir sy party voorspel. ActionSA het 1,2% van steun gekry.

Selfs pres. Cyril Ramaphosa het nog in April gesê dat hy nie omgee oor peilings waarin sy party swak vertoon nie, omdat "ons as die ANC weet hoe goed ons gaan vaar, en ons mense weet in hul hart hoe goed die ANC gaan vaar". Die ANC het uiteindelik 'n katastrofiese 40,2% steun gekry - steunvlakke wat eNCA se MarkData-peiling (41,4%), die marknavorsingsmaatskappy Ipsos (40,5%) en die Brenthurststigting (39%) in Februarie gemeet het.
In ag genome hoe akkuraat verskeie openbare beskikbare peilings die laaste paar maande was, sal dit vir hierdie partye in die toekoms dalk die moeite werd wees om nie die data bloot af te maak omdat jy nie daarvan hou nie.
Die Ongelowige Thomasse se grootste fout was dat hulle gedink het die peilings is 'n vooruitskatting of 'n voorspelling. Dit is eintlik maar net 'n skermgreep van hoe 'n spesifieke mark op 'n spesifieke tydstip voel.
As die partye die data in hierdie lig beskou het, in plaas van as 'n verdoemende uitspraak, kon die partye dalk hul veldtogte beter of anders bestuur het.
Neem byvoorbeeld die ANC se besluit om Ramaphosa se ondertekening van die NGV-wet as geelwortel vir die arm kiesers se steun te gebruik.
Dit was binne enkele dae duidelik op die SRF-peiling dat die swart middelklas die ondertekening van die wet as 'n aanval, pleks van 'n aanloklikheid, beskou het.
Solank daar 'n demografies verteenwoordigende metodologie betrokke is en die data vir veranderlikes soos opkoms en die wegblystem gemodelleer word, kan peilings maar vertrou word.
Maatskappye wat peilings doen, doen dit immers nie omdat hulle wil lieg of manipuleer nie. Indien dit die geval is, is hulle reeds teen die volgende verkiesingstyd werkloos.
Dit word gedoen om te wys waar die telbord midde die wedstryd nou staan.
En ná afloop van die pasafgelope verkiesing is die telbord oor die peilings heel duidelik:
Peilings: 1. Ongelowige Thomasse: 0.

















