Aktueel

Ministers: Goeies, slegtes en verskriklikes

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Enoch Godongwana (ANC)
Enoch Godongwana (ANC)

Wie is hierdie klomp mense wat die regering van nasionale eenheid (RNE) moet lei? En wat is hul uitdagings? Dawie Boonzaaier het gaan kyk.

EKONOMIE EN ARBEID

Enoch Godongwana
Enoch Godongwana

Enoch Godongwana (67) - Finansies

Agtergrond: Sedert 2021 minister van finansies. Hy geniet groot steun in sy eie party, en ook in die DA.

Uitdaging: Om voort te bou op sy mantra van fiskale konsolidasie om Suid-Afrika se skulddienskoste van R356 miljard te verlaag.

Adjunkte: David Masondo (ANC) en Ashor Sarupen (DA).

Nomakhosazana Meth (58) ANC - Indiensneming en Arbeid

Agtergrond: LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap, ook LUR vir plaaslike ontwikkeling; burgemeester van die O.R. Tambo-distriksmunisipaliteit.

Uitdaging: Suid-Afrika se uitgebreide werkloosheidsyfer staan op 41,9%. Die werkloosheidsyfer was laas in 2008 onder 20%.

Adjunkte: Jomo Sibiya (ANC) en Phumzile Mgcina (ANC).

Solly Malatsi (38) DA - Kommunikasie en Digitale Tegnologie

Agtergrond: Nasionale DA- en partywoordvoerder oor die presidensie en menslike nedersettings.

Uitdaging: Die onbegonne taak om die Poskantoor te probeer red.

Adjunk: Mondli Gungubele (ANC).

Stella Ndabeni-Abrahams (ANC)
Stella Ndabeni-Abrahams (ANC)

Stella Ndabeni-Abrahams (46) - Kleinsakeontwikkeling

Agtergrond: Minister van kommunikasie en digitale tegnologie; minister van kleinsakeontwikkeling.

Meulsteen: Op dun ys in die ANC nadat sy in 2021 in die openbaar gerepudieer is omdat sy grendeltyd-maatreëls oortree het deur 'n middagete te hou saam met ander ANC-lede.

Adjunk: Jane Sithole (DA).

John Steenhuisen (DA)
John Steenhuisen (DA)

John Steenhuisen (48) - Landbou

Agtergrond: DA-leier, vurige hoofsweep onder Mmusi Maimane.

Uitdagings: Onder druk om die RNE te laat werk nadat hy kiesers beloof het dat hy die EFF en MK uit die regering sal hou. Sy portefeulje word bemoeilik omdat hy moet saamwerk met 'n PAC-­minister van grondhervorming wie se beleid lynreg verskil van syne.

Adjunk: Rosemary Capa (ANC).

Parks Tau (54) ANC - Handel, Nywerheid en Mededinging

Agtergrond: Voormalige burgemeester van Johannesburg; adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake. Ook deel van die ANC se RNE-onderhandelingspan.

Meulsteen: 'n Portefeulje wat die DA graag wou hê, nou met 'n DA-adjunk.

Adjunkte: Zuko Godlimpi (ANC) en Andrew Whitfield (DA).

Dr. Kgosientsho Ramokgopa (49) - Elektrisiteit en Energie

Agtergrond: Tshwane-burgemeester; minister in die presidensie verantwoordelik vir elektrisiteit.

Uitdaging: Hoewel hy uiteindelik alleenbeheer oor sy portefeulje het, nadat energie by Gwede Mantashe afgeneem is, word die grootste energie-uitdaging, Eskom, steeds vanuit die presidensie bestuur.

Adjunk: Samantha Graham (DA).

Barbara Creecy (66) ANC - Vervoer

Agtergrond: Minister van bosbou, visserye en die omgewing; voorheen LUR vir finansies; onderwys; en sport, kuns en kultuur in Gauteng. 'n Vertroueling van Ramaphosa.

Uitdagings: Korrupsie in die Passasierspooragentskap (Prasa). Boonop is sekondêre paaie in 'n haglike toestand.

Adjunk: Mkhuleko Hlengwa (IVP).

Mzwanele Nyhontso (50) PAC - Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling

Agtergrond: PAC-leier sedert 2018 en LP sedert 2019. Sy lidmaatskap as LP is reeds twee keer opgeskort weens binnegevegte in sy party. Lid van die portefeuljekomitees oor hoër onderwys; wetenskap en tegnologie; omgewingsake en minerale bronne en energie.

Uitdaging: As hy staatsgrond vir armes wil gee, moet hy by twee DA-­ministers, Steenhuisen en Dean Macpherson, aanklop vir hulp.

Adjunk: Stan Mathabatha (ANC).

Gwede Mantashe
Gwede Mantashe

Gwede Mantashe (69) ANC - Minerale Bronne

Agtergrond: Nasionale voorsitter van die ANC en sedert 2018 minister van minerale bronne.

Uitdaging: Benewens vele uitdagings in die mynbedryf (baie daarvan sy eie maaksel), staar strafregtelike klagte hom ook in die gesig weens die opgradering van sy huis se sekuriteit wat na bewering deur Bosasa betaal is.

Adjunk: Judith Nemadzinga Tshabalala (ANC).

Dion George (58) DA - Bosbou, Visserye en die Omgewing

Agtergrond: DA-woordvoerder oor finansies.

Uitdaging: Die Turkse Karpowership-kragskepe, wat groot steun geniet by Mantashe, sal weer probeer om omgewingspermitte te kry wat voorheen deur sy voorganger, Barbara Creecy, afgekeur is.

Adjunkte: Narend Singh (IVP) en Bernice Swarts (ANC).

Patricia de Lille (73) Good - Toerisme

Agtergrond: Voormalige DA-­burgemeester in Kaapstad; minister van openbare werke.

Meulsteen: Haar party se kwynende steun - slegs 29 000 in vergelyking met amper 80 000 in 2019.

Adjunk: Maggie Sotyu (ANC).

Khumbudzo Ntshavheni (ANC)
Khumbudzo Ntshavheni (ANC)

Khumbudzo Ntshavheni (47) ANC - Minister in die Presidensie

Agtergrond: Sedert 2023 in huidige portefeulje. Voorheen minister van kommunikasie en digitale tegnologie; en minister van kleinsakeontwikkeling.

Meulsteen: In die Zondo-verslag betrek by die kaping van Denel.

Adjunkte: Nonceba Mhlauli (ANC) en Kenneth Morolong (ANC).

GEMEENSKAPSONTWIKKELING

Dr. Aaron Motsoaledi (ANC)
Dr. Aaron Motsoaledi (ANC)

Dr. Aaron Motsoaledi (65) ANC - Gesondheid

Agtergrond: Nege jaar 'n gesondheidsminister; en sedert 2019 minister van binnelande sake.

Uitdaging: Regsgeding teen die omstrede Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), een van die DA se nie­onderhandelbare kwessies.

Adjunk: Dr. Joe Phaahla (ANC).

Siviwe Gwarube (34) DA - Basiese Onderwys

Agtergrond: Partywoordvoerder oor gesondheid in die Covid-19-pandemie. Hoofsweep sedert 2022.

Uitdagings: Die land se grootste onderwysvakbond, Sadou, ondersteun haar nie. Boonop is onderwysdepartemente se mag meesal in provinsiale regerings gesetel, wat hervorming bitter moeilik gaan maak.

Adjunk: Reginah Mhaule (ANC).

Dr. Nobuhle Nkabane (ANC)
Dr. Nobuhle Nkabane (ANC)

Dr. Nobuhle Nkabane (44) ANC - Hoër Onderwys

Agtergrond: Adjunkminister van minerale bronne en energie.

Uitdaging: Die probleme met die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) is veelvuldig en onbekostigbaar - en 'n kruitvat.

Adjunkte: Buti Manamela (ANC) en Mimmy Gondwe (DA).

Pemmy Majodina (55) ANC - Water en Sanitasie

Agtergrond: Sedert 2019 ANC-hoofsweep in die parlement.

Uitdagings: 'n Dreigende waterkrisis met watertekorte wat reeds weens swak infrastruktuur plek-plek in groot stede voorkom. Projekte om damme te bou word deur korrupsie geteister.

Adjunkte: David Mahlobo (ANC) en Isaac Seitlholo (DA).

Sindisiwe Chikunga (65) ANC - Vroue, die Jeug en Mense met Gestremdhede

Agtergrond: In 2023 kortstondig minister van vervoer.

Meulsteen: Op 65, Suid-Afrika se aftreeouderdom, moet sy na jeugsake omsien.

Adjunk: Mmapaseka Steve Letsike (ANC).

Dr. Blade Nzimande (66) ANC - Wetenskap, Tegnologie en Innovasie

Agtergrond: 'n SAKP-voorbok en vroeër ook minister van vervoer.

Uitdaging: Om beter te vaar as sy onlangse rampspoedige termyn as minister van hoër onderwys, waartydens die NSFAS ineengestort het.

Adjunk: Nomalungelo Gina (ANC).

Sisisi Tolashe (64) ANC - Maatskaplike Ontwikkeling

Agtergrond: LP sedert 2019 en leier van die ANC se vroueliga.

Uitdaging: Suid-Afrika betaal maandeliks miljoene rande aan toelaes wat die land nie kan bekostig nie, en dikwels laat.

Adjunk: Ganief Hendricks (Al-Jama-ah).

Mmamoloko Kubayi (46) ANC - Menslike Nedersettings

Agtergrond: 'n Vertroueling van die president wat al gevra is om sake reg te ruk by gesondheid (2021); toerisme (2019 tot 2021); wetenskap en tegnologie (2018 tot 2019); en kommunikasie (2017 tot 2018). Sedert 2021 minister van menslike nedersettings.

Uitdaging: Korrupsie by provinsiale departemente, veral in die Vrystaat.

Adjunk: Tandi Mahambehlala (ANC).

Gayton McKenzie (PA)
Gayton McKenzie (PA)

Gayton McKenzie (50) PA - Sport, Kuns en Kultuur

Agtergrond: 'n Voormalige bank­rower; PA-leier sedert 2013 nadat hy miljoene rande gemaak het deur swart ekonomiese bemagtigingskonsultasies.

Meulsteen: Die ANC sowel as die DA verafsku hom, deur baie gesien as 'n hanswors-kandidaat en geneig tot voet-in-die-mond-uitsprake.

Adjunk: Peace Mabe (ANC).

Dr. Leon Schreiber (DA)
Dr. Leon Schreiber (DA)

REGERINGSAKE

Dr. Leon Schreiber (35) DA - Binnelandse Sake

Agtergrond: DA-woordvoerder oor staatsdiens en administrasie.

Uitdagings: 'n Vernielde en verouderde departement van binnelandse sake. Ongewild by sy ANC-kollegas as gevolg van sy stryd teen kaderontplooiing.

Adjunk: Njabulo Nzuza (ANC).

Maropene Ramokgopa (44) ANC - Beplanning, Monitering en Evaluering

Agtergrond: Sedert 2023 in haar portefeulje; voorheen spesiale raadgewer vir Ramaphosa.

Uitdaging: Met die wegval van die portefeulje van openbare ondernemings moet Ramokgopa toesig hou oor die land se sukkelende staatsentiteite.

Adjunk: Seiso Mohai (ANC).

Velenkosini Hlabisa (59) IVP - Samewerkende Regering en Tradisionele Sake

Agtergrond: Sedert 2019 partyleier; dekades lank 'n raadslid in die Hlabisa-munisipaliteit. Uitgeknip vir die taak vanweë die IVP se verhouding met die Zoeloe-koninkryk.

Uitdaging: Munisipaliteite verlam deur wanbestuur, met slegs 38 uit 257 munisipaliteite wat 'n skoon oudit behaal het.

Adjunkte: Dickson Masemola (ANC) en Zolile Burns Ncamashe (ANC).

Dean Macpherson (39) DA - Openbare Werke en Infrastruktuur

Agtergrond: Vertroueling van Steenhuisen, sedert 2014 'n DA-LP en -woordvoerder oor handel en nywerheid.

Uitdaging: 'n Magdom verkrummelde staatseiendomme wat hy moet regruk, verkoop of vernietig met rompslomp wat sy taak sal bemoeilik.

Adjunk: Sihle Zikalala (ANC).

Mzamo Buthelezi (48) IVP - Staatsdiens en Administrasie

Agtergrond: Burgemeester van die Zoeloeland-distriksmunisipaliteit.

Uitdaging: Om staatsamptenare se salarisse te verminder sonder grootskaalse stakings.

Adjunk: Pinky Kekana (ANC).

Senzo Mchunu (ANC)
Senzo Mchunu (ANC)

JUSTISIE EN SEKURITEIT

Senzo Mchunu (66) ANC - Polisie

Agtergrond: Voormalige premier van KwaZulu-Natal; minister van staatsdiens en administrasie; minister van water en sanitasie.

Uitdagings: 'n Polisiemag vrot van faksiegevegte en onbevoegde leierskap, en die hoogste moordsyfer (84 per dag) ter wêreld.

Adjunkte: Polly Boshielo (ANC) en Cassel Mathale (ANC).

Thembi Nkadimeng (51) ANC - Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling

Agtergrond: Minister van samewerkende regering en tradisionele sake; voorheen burgemeester van Polokwane.

Meulsteen: Howe is in 'n powere toestand, met groot agterstande en administratiewe probleme.

Adjunk: Andries Nel (ANC).

Angie Motshekga (ANC)
Angie Motshekga (ANC)

Angie Motshekga (69) ANC - Verdediging en Militêre Veterane

Agtergrond: Minister van basiese onderwys; direkteur in die presidensie van oudpres. Nelson Mandela.

Uitdaging: 'n Weermag waar 60% van die begroting aan salarisse bestee word met nie genoeg diensbare vliegtuie of skepe nie.

Adjunkte: Bantu Holomisa (UDM) en Richard Mkhungo (ANC).

Dr. Pieter Groenewald (VF Plus)
Dr. Pieter Groenewald (VF Plus)

Dr. Pieter Groenewald (68) VF Plus - Korrektiewe Dienste

Agtergrond: Die langsdienende lid van die portefeuljekomitee oor polisie.

Uitdagings: Sy voorkeur vir die doodstraf vir mense wat moord gepleeg het, is ongewild onder ANC-lede. Kwaai druk in partygeledere weens die swak vertoning van die VF Plus.

Adjunk: Lindiwe Ntshalintshali (ANC).

INTERNASIONALE SAMEWERKING

Ronald Lamola (40) ANC - Internasionale Betrekkinge en Samewerking

Agtergrond: Minister van justisie en korrektiewe dienste sedert 2019 en is waarskynlik dié portefeulje gegee om sy profiel 'n hupstoot in die buiteland te gee voordat hy sy aanslag begin om Ramaphosa se troonopvolger te word.

Meulsteen: Grootskaalse internasionale onsekerheid en vrees weens die oorlog tussen Rusland en Oekraïne, en die oorlog in Gasa. Boonop kom die ANC se pro-­Russiese en pro-Palestynse beleid onder skoot van ander lede van die RNE.

Adjunkte: Alvin Botes (ANC) en Thandi Moraka (ANC).

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM