Skok oor die voorgenome heropening van die omstrede Bloemfonteinse dieretuin plaas dieretuine opnuut in die soeklig. Retha Fick ondersoek of dié instellings nog bestaansreg het.
Minstens vyf diere, waaronder ’n buffel, het in die Bloemfonteinse dieretuin van verhongering gevrek voordat dit in 2019 gesluit is. Daarna kon van 79 diere geen rekenskap gegee word nie.
Nou het die Mangaung-metro, aan wie die dieretuin behoort, R6 miljoen bewillig om dit teen 2028 uit die as te laat verrys.
Die nuus het diereliefhebbers se hare laat rys. Wat sal die diere se lot dié keer wees?
The Wildlife Animal Protection Forum, wat 28 bewaringsorganisasies verteenwoordig, is onder diegene wat kommer oor die heropening uitgespreek het. Die forum sê daar moet in ag geneem word dat daar wêreldwyd toenemende bewustheid van diereregte is en dat dit die publiek se persepsie en hul ondersteuning aan dieretuine beïnvloed.
Hoe het dieretuine ontstaan?
Die eerste aanduidings dat mense wilde diere aangehou het, dateer uit 2 500 v.C. en rekords toon dat kameelperde, bere en dolfyne deur adellikes in Egipte aangehou is. Hierdie private versamelings van wilde en eksotiese diere was die voorlopers vir dieretuine.
Die oudste een in die wêreld is die Schönbrunn-dieretuin in Wene, Oostenryk, wat in 1752 as ’n private versameling in die tuin van die Schönbrunn-paleis ontstaan het. Die paleis was die somertuiste van die Habsburg- koninklike familie. Die dieretuin het in 1779 vir die publiek geopen en huisves tans 6 043 diere wat 518 spesies verteenwoordig.

Teen die middel van die 19de eeu het dieretuine oor die wêreld heen begin oopmaak met grootliks vermaak as doelwit. Daar is dikwels oor en weer gespog oor watter dieretuin oor die interessantste en grootste diereversameling beskik.
Vroeg in die 20ste eeu het ’n verskuiwing egter plaasgevind toe die eerste buitelugdieretuin in Duitsland geopen is. Diere is hier aangehou in omgewings meer soortgelyk aan hul natuurlike habitat. Só het die fokus na die beskerming van diere verskuif.
Laat in die 20ste eeu het die narratief weer verander – na die bewaring van diere om uitwissing te voorkom.
Vierledige fokus
Sedert die 1980’s is die wêreldwye konvensie dat die dieretuin se aktiwiteite op vier doelwitte fokus: opvoeding, ontspanning, bewaring en navorsing.
Die nodigheid vir ’n vyfde doelwit, naamlik welstand, blyk uit navorsing wat in 2022 in die Verenigde Koninkryk gedoen is. Hierdie navorsers meen die dieretuin as ’n konsep sal altyd omstrede bly omdat dit kan voorkom asof diere vir menslike gewin uitgebuit word.
“Dit kan lyk asof die diere nie voordeel trek uit hul interaksie met besoekers nie, die dieretuin se bewaringsideale nie altyd strook met die tipe diere wat aangehou word nie, sekere spesies nie in gevangenskap floreer nie en afwykings van hul natuurlike habitat tot swak gesondheid en ’n verkorte lewensduur kan lei,” lui die navorsing.
“Om hul positiewe bydrae te regverdig, moet dieretuine dus die diere se spesifieke behoeftes deurlopend assesseer en voortdurend verbeter in hoe hulle na verskillende spesies omsien.”
Steun vir dieretuine
Prof. Francois Durand, dierkundige, paleontoloog en ekoloog verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, meen dat ’n wêreld sonder dieretuine heelwat armer sal wees. Durand sê die publiek is soms onbewus van en onkundig oor die onmiskenbare bydrae van die instellings.
“Wat jy as besoeker by ’n dieretuin soos die Pretoriase Nasionale Dieretuin sien, is maar net 1% van wat daar aangaan. Die probleem is dat die publiek net die mense sien wat die hokke skoonmaak. Agter die skerms is daar navorsers wat uiters belangrike werk doen. Daar is ’n genetiese laboratorium. Daar is genetiese stambome en ’n spermbank. Dit is absoluut fenomenaal. Dit is soos ’n ark van diere in buisievorm.”

Bedrywighede by die Nasionale Dieretuin
Bo en behalwe die bestuur van die biodiversiteitsbank van Suider-Afrika en die genetiese-dienste-eenheid wat molekulêre genetiese dienste bied, is die Nasionale Dieretuin in Pretoria direk betrokke by die bewaring van verskeie spesies, soos die sabelgemsbok (Oryx dammah), kransaasvoël (Gyps coprotheres), ouvolk (Smaug giganteus) en suidelike bromvoël (Bucorvus leadbeateri). Omvattende navorsing oor die tsetsevlieg word ook tans in samewerking met die landbounavorsingsraad se veeartsenykunde-afdeling by Onderstepoort gedoen.
In sy boek Of Man and Beast het Willie Labuschagne, voorheen president van die Wêreldvereniging van Dieretuine en Akwariums, onder meer geskryf oor die Nasionale Dieretuin in Pretoria se destydse suksesvolle teelsentrum by Lichtenburg. Die grootste versameling ter wêreld van die Père David-takbokke (oorspronklik van China) was in ’n stadium hier te sien. Dié spesie is in 1996 as “kritiek bedreig” geklassifiseer en in 2008 “uitgewis in die natuur”.
Labuschagne, wat onder meer vanaf 1985 tot 2006 die hoof van die Nasionale Dieretuin in Pretoria was en vroeër vanjaar oorlede is, beskryf in die boek dieretuine van oor die wêreld heen se pogings om die spesie van uitwissing te red.
“As dit nie vir dieretuine se teelprogramme was nie, kon Père David-takbokke vandag net opgestop in museums gesien word, of op foto’s in glanstydskrifte. Die hele wêreldbevolking van meer as 5 000 kom van een ram en twee ooie.”

Durand beklemtoon hoe belangrik ’n dieretuin veral vir stadskinders is wat selde die geleentheid het om ’n lewende dier te sien.
Nagenoeg 63% van Suid-Afrika se bevolking woon in stede en in Gauteng is hierdie persentasie 99,6. Vir die meeste mense is ’n besoek aan byvoorbeeld die Krugerwildtuin of die Addo-olifantpark nie finansieel haalbaar nie en bied dieretuine ’n toeganklike oplossing.
“Met dieretuine het jy die ongeëwenaarde geleentheid om vir ’n kind respek vir diere en begrip vir die natuur aan te leer,” sê Durand.
Kritiek teen diere in gevangenskap
Die meeste diereregteaktiviste sal egter graag ’n wêreld sonder dieretuine wil sien.
Fiona Miles, direkteur van Four Paws in Suid-Afrika, meen die tyd vir dieretuine is verby.
“In vandag se wêreld moet ons krities evalueer of hierdie instellings waarlik die beste belang van die diere wat hulle huisves, vooropstel. Baie dieretuine word steeds volgens verouderde modelle bestuur wat vermaak, teling en kommodifisering bo welstand prioritiseer.”
Miles sê onvoldoende regulatoriese toesig en afdwinging, asook ’n gebrek aan deursigtigheid by baie van die dieretuine vererger die diere se lot.
Maar die probleem strek selfs dieper, meen Miles.
“Dit maak nie saak hoe baie geld bestee word of hoe goed die bedoelings is nie, ’n dieretuin kan nooit wilde diere se habitat perfek namaak nie. Wilde diere is gewoond aan uitgestrekte gebiede en ingewikkelde sosiale strukture en reageer op dinamiese omgewingstimuli. Gevangenskap beperk hierdie vryhede inherent. Al voldoen sommige dieretuine aan diere se basiese fisieke behoeftes, bly psigologiese welstand, wat in outonomie, keuse en natuurlike gedrag gewortel is, gekompromitteer. Ware welstand is meer as net oorlewing; dit gaan daaroor om betekenisvol te lewe.”
Miles glo mense kan mense nie van wilde diere leer in ’n omgewing wat totaal anders is as hul natuurlike habitat nie.

’n Ander benadering nodig?
Volgens die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings is daar nagenoeg 44 dieretuine in Suid-Afrika, waarvan die oorgrote meerderheid in private besit is.
Durand meen dieretuine moet hulle toespits op diere wat verdryf is deur verstedeliking in die spesifieke omgewing waar die dieretuin geleë is.
“Daardie diere hoort in die dieretuin. Sit hom terug in sy habitat sodat hy vrylik kan rondloop sonder honde wat vir hom blaf of swembaddens waarin hy kan val. Sit die blesbok terug. Want hy hoort hier – voordat ons hier was, was hy hier. Dit is die diere wat in die dieretuin moet wees. Hulle is geakklimatiseer vir hierdie klimaat en gewoond aan die plantegroei. Sit die habitat terug en die dier in sy habitat terug.”
Durand meen dit is ’n onding om diere wat ’n heel ander habitat gewoond is, in ’n dieretuin aan te hou.
“Daar was byvoorbeeld nooit pandas, ysbere en pikkewyne hier op die Hoëveld nie. Daardie diere word mishandel. Daardie diere word gemartel vir ons vermaak.”
Beleef wilde diere virtueel by Wits
Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) bied op 4, 18, 26 en 31 Oktober ’n virtuele ervaring aan in die Wits Anglo American Digital Dome getiteld “Close Encounters – A Larger than Life Virtual Safari”, waartydens die gehoor Afrika se mees ikoniese wilde diere van naderby kan sien.
’n Nuwe era
’n Dieretuin van ’n heel ander aard word vir Johannesburg in die vooruitsig gestel.
Met FutureZoo word tegnologie ingespan om mense met virtuele werklikheid, hologramme en storievertelling nader aan die natuur te bring.
Ulrico Grech-Cumbo, Johannesburgse bewaringsaktivis, tegnologie-ghoeroe en entrepreneur, wie se breinkind FutureZoo is, sê: “Ons het jare nagedink oor die rol van dieretuine en akwariums en glo vas dat tegnologie ’n baie groot rol in die 21ste eeu-oorgang kan speel.”
Grech-Cumbo en sy span, wat hard aan die werk is om finansiering vir die idee te bekom, meen hierdie oorgang moes lankal plaasgevind het.
“Ons het die vraag gevra – wat as ons die hokke, tenks en heinings kan wegvat, maar die wonder van die natuur kan behou?
“Met FutureZoo herverbeel ons hoe mense met die natuur omgaan terwyl die natuur in die proses ongeskonde bly en vir die nageslag bewaar word.”

















