Generatiewe kunsmatige intelligensie (KI) verander hoe mense toegang kry tot inligting en dit verwerk. Maar hierdie gerief kom dalk teen 'n prys, skryf Aaron French.
In die jaar 2008 het The Atlantic 'n byenes oopgekrap met 'n uitdagende voorbladstorie: "Is Google Making Us Stupid?"
In daardie essay van 4 000 woorde, wat later 'n boek geword het, het Nicholas Carr geskryf die antwoord is ja. Hy het gemeen tegnologie soos soekenjins strem Amerikaners se vermoë om diep te dink en kennis te behou.
Die kern van Carr se kommer was die idee dat mense nie meer feite hoef te onthou of te leer indien hulle dit binne 'n oogwink aanlyn kan opsoek nie. Terwyl daar 'n tikkie waarheid daaraan kan wees, vereis soekenjins egter steeds 'n mate van kritiese denke om soekresultate te interpreteer en te kontekstualiseer.
Vandag vind 'n selfs meer ingrypende tegnologiese verskuiwing plaas. Met die opkoms van generatiewe KI soos ChatGPT kontrakteer internetgebruikers nie net geheue uit nie, maar dalk selfs ons denke.

Generatiewe KI herwin nie net inligting nie. Hierdie soort handlanger kan dit skep, analiseer en opsom. Dit verteenwoordig 'n fundamentele kopskuif: Stellig is generatiewe KI die eerste tegnologie wat menslike denke en kreatiwiteit kan vervang.
Dit noop ons om 'n belangrike vraag te vra: Maak ChatGPT ons dom?
As 'n professor in inligtingstelsels wat al meer as twee dekades navorsing doen oor KI, het ek hierdie transformasie eerstehands dopgehou. Namate mense al hoe meer kognitiewe take na KI delegeer, dink ek dis die moeite werd om te vra wat ons wen en wat ons kan verloor.
Dunning-Kruger-effek
Generatiewe KI verander hoe mense toegang kry tot inligting en dit verwerk. Vir baie word hulle kwytgeskeld van die verpligting om deur bronne te sif, standpunte te vergelyk en te worstel met dubbelsinnigheid.
In die plek daarvan gee KI binne sekondes skerp, gepoleerde antwoorde. Al is hierdie resultate nie noodwendig akkuraat nie, is dit ongetwyfeld doeltreffend. Dit het reeds tot groot veranderinge gelei in hoe ons werk en dink.
Maar hierdie gerief kom dalk teen 'n prys. Wanneer mense dit aan KI oorlaat om take namens hulle te voltooi en namens hulle te dink, verswak hulle dalk hul vermoë om krities te redeneer, komplekse probleme op te los en op 'n dieper vlak met inligting om te gaan.
Navorsing hieroor is nog beperk, maar die passiewe gebruik van inhoud wat deur KI gegenereer is, mag intellektuele nuuskierigheid ontmoedig, aandagspan verkort en afhanklikheid skep wat kognitiewe ontwikkeling op die langer duur strem.
Om dit beter te verstaan, dink aan die Dunning-Kruger-effek. Dit is die verskynsel waar diegene wat die minste weet en die mees onbevoeg is, die meeste vertroue het in hul eie vaardighede, want hulle weet nie wat hulle nie weet nie.

Hierteenoor het meer bekwame mense gewoonlik minder selfvertroue. Dit is dikwels omdat hulle die kompleksiteite wat hulle nog moet bemeester, kan erken.
Hierdie raamwerk is ook van toepassing op die gebruik van generatiewe KI. Party gebruikers kan te swaar steun op handlangers soos ChatGPT om namens hulle te dink, terwyl ander dit weer gebruik om hul vermoëns 'n hupstoot te gee. In die geval van eersgenoemde kan mense verkeerdelik glo hulle verstaan 'n onderwerp omdat hulle KI-gegenereerde inhoud kan herhaal.
‘Berg Domkop'
Op dié manier kan KI jou vermeende intelligensie in jou eie oë opblaas terwyl dit in werklikheid jou denkvermoë beperk. Dit skep 'n splitsing in hoe mense KI gebruik. Sommige bly op die piek van die "Berg Domkop" en gebruik KI om kreatiwiteit en denke te vervang. Ander gebruik dit weer om hul bestaande kognitiewe vaardighede te onderskraag.
Wat met ander woorde saak maak, is nie óf iemand generatiewe KI gebruik nie, maar hóé. Indien dit onkrities ingespan word, kan ChatGPT tot intellektuele selfvoldaanheid lei.
Gebruikers kan die uitsette gebruik sonder om aannames te bevraagteken of te soek na ander standpunte of dieper analise. Wanneer dit egter as hulpmiddel gebruik word, kan dit 'n kragtige hulpmiddel wees om nuuskierigheid te stimuleer, idees te genereer, komplekse onderwerpe te verduidelik en intellektuele dialoog aan te wakker.

Die verskil in of ChatGPT ons dom maak en of dit ons eie vaardighede opskerp, hang dus af van hoe ons dit gebruik. Generatiewe KI moet benut word om menslike intelligensie te versterk, nie om dit te vervang nie. Dit beteken dit moet ondersoeke steun en nie 'n kortpad wees nie. Jy moet KI se antwoorde as die beginpunt van jou denke te sien, nie die eindpunt nie.
Die toekoms van werk
Die massa-gebruik van generatiewe KI, met die enorme groei van ChatGPT in die voorhoede (daar was 100 miljoen gebruikers binne twee maande ná bekendstelling) het internetgebruikers na my mening voor 'n padvertakking gebring.
Die een pad lei na intellektuele agteruitgang: 'n Wêreld waar ons KI toelaat om ons dinkwerk namens ons te doen. Die ander een bied 'n gulde geleentheid om ons breinkrag uit te brei deur saam met KI te werk sodat ons saam sterker kan word.
Daar word dikwels gesê dat KI nie jou werk sal oorneem nie, maar iemand wat dit gebruik, sal dit wél doen. Vir my is dit egter duidelik dat mense wat KI inspan om hul eie kognitiewe vaardighede te vervang, op die kruin van die Berg Domkop gevange sal bly. Hierdie KI-gebruikers sal die maklikste wees om te vervang.

Diegene wat die aangevulde benadering tot KI volg, sal die pad van verligting bereik om saam met KI te werk om resultate te kry wat nie mens óf masjien op hul eie sou kon bereik nie. Dit is waar die toekoms van indiensneming uiteindelik lê.
Hierdie essay het begin met die vraag of ChatGPT ons dom sal maak - maar ek sou graag wou eindig met 'n ander vraag: Hoe gaan ons ChatGPT gebruik om ons slimmer te maak?
Die antwoorde op albei kwessies hang nie van die tegnologie af nie, maar van die gebruikers.
• French is 'n medeprofessor in inligtingstelsels aan die Kennesaw-Staatsuniversiteit. Hierdie artikel het eerste op The Conversation verskyn.




















