Aktueel

Om ’n wêreld anderkant ‘normaal’ te bedink

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Namate angs oor die kompleksiteit, chaos en teenstrydighede van postnormale tye styg, neem polariserende, eksklusiewe retoriek en 'n onwilligheid om na dialoog te luister toe, skryf Chris Jones.

'n Groep toekomsnavorsers beweer die wêreld beleef reeds geruime tyd postnormale tye.

Een van hulle is Ziauddin Sardar, 'n Britse akademikus wat in Pakistan gebore is, wat reeds in Junie 2010 die hede beskryf het as postnormale tye, bedoelende dat ons onsself in 'n "tussenin-tydperk" bevind, waar ou ortodoksies aan die sterf is, nuwes nog gebore moet word, en min dinge sin maak.

Moderniteit, postmoderniteit, neoliberalisme, hiërargiese strukture in die samelewing, instellings en organisasies, en bo-na-onder-politiek (waar besluite deur die paar in gesagsposisies gemaak word, eerder as die mense wat daardeur geraak word), om enkeles te noem, is onder druk en geleidelik aan die uitsterf volgens hierdie navorsers, hoewel dit nog vir jare met ons kan wees.

Maar hoe hanteer 'n mens hierdie skuiwe? Alfonso Montuori skryf in The Postnormal Times Reader (volume 2) dat kreatiwiteit en verbeelding van die belangrikste bestanddele is om postnormale tye te hanteer.

Dan wys Montuori daarop hoe kreatiwiteit in die Weste besig is om te transformeer - van 'n individualistiese (atomistiese) siening, kenmerkend van Moderniteit, na 'n meer kontekstuele, samewerkende, komplekse benadering.

Hierdie benadering ondersoek die potensiaal en moontlikhede om met verbeelding 'n wenslike hede en toekoms te skep. Dit benodig 'n etiek wat die waarde van vrugbare interaksie en kontekste beklemtoon en bevorder.

Volgens Sardar is verbeelding en kreatiwiteit die beste maniere om kompleksiteit, teenstrydighede en chaos te hanteer. Verbeelding skep en vorm ons werklikheid. Dit beïnvloed ons gedrag en verwagtinge. Die gehalte van ons verbeelding bepaal gevolglik die aard van ons toekoms. Nog anders gestel: Ons sal onsself uit postnormale tye met al sy chaos en teenstrydighede moet verbeel.

Daar is eerder 'n toenemend vyandige, outoritêre reaksie, wat so maklik sosiale kreatiwiteit uitsluit.

Geskiedenis en kreatiwiteit

Tradisioneel het navorsing oor kreatiwiteit op drie P's gefokus: persoon, proses en produk. In Moderniteit was die kreatiewe persoon meestal 'n enkele, eksentrieke genie.

Die "wie" van kreatiwiteit was meestal 'n individu.

Die "hoe" van kreatiwiteit het gevolglik hoofsaaklik "binne" die individu plaasgevind. Die klassieke beeld van die kreatiewe proses behels 'n gloeilamp wat tydens die eureka-oomblik bo die kop van die begaafde individu aangaan. Die kreatiewe proses is as 'n "eensame" proses beskou. Binne hierdie individualistiese siening is verhoudings en interaksies nie (noodwendig) in ag geneem nie.

Die "wat" of kreatiewe produk was gewoonlik 'n groot bydrae tot fisika, 'n simfonie of die een of ander transformerende kunswerk. Kreatiwiteit is geassosieer met 'n sogenaamde big bang, 'n aardskuddende oomblik of insig waarby die gemiddelde mens selde betrokke was of selfs verstaan het.

Die kreatiewe genie het na vore gekom, ongeag die sosiale omstandighede waarin hy hom bevind het. Die kreatiewe proses het gevolglik en grootliks in die persoon se kop plaasgevind.

In die 21ste eeu manifesteer daar egter 'n kontekstuele, relasionele (verbandhoudende) en prosessuele kreatiwiteit op fassinerende maniere.

Kreatiwiteit is volgens hierdie nuwe (postnormale) siening diep relasioneel en kontekstueel. Trouens: Die omgewing self word die kreatiewe proses en produk.

"Die klassieke beeld van die kreatiewe proses behels 'n gloeilamp wat tydens die eureka-oomblik bo die kop van die begaafde individu aangaan."  Foto: iStock
"Die klassieke beeld van die kreatiewe proses behels 'n gloeilamp wat tydens die eureka-oomblik bo die kop van die begaafde individu aangaan." Foto: iStock

Transformasie van kreatiwiteit

Postnormale tye het gelei tot nuwe maniere van hoe mense na hulself kyk, na die samelewing, produksie, kuns, wetenskap en kreatiwiteit. Daar is 'n skuif na wat genoem word 'n deelnemende kultuur, wat 'n vervaging van grense tussen "kunstenaar" en "gehoor" behels.

Wikipedia is 'n goeie voorbeeld van die "wysheid van skares", weliswaar soms omstrede. Deelnemende kultuur, volgens navorsers, behels 'n taamlik drastiese verskuiwing weg van individuele uitdrukking na groter gemeenskapsbetrokkenheid.

Die "waar" van kreatiwiteit is vandag potensieel oral. Kreatiwiteit deurdring feitlik elke dimensie van die lewe. Daar is gevolglik 'n toenemende erkenning van groeps- en samewerkende kreatiwiteit in teenstelling met 'n meer eksklusiewe fokus op individuele genialiteit.

Universiteitstudente wat millenniërs is, assosieer kreatiwiteit met alledaagse en sosiale interaksies. Vir die sogenaamde Baby Boomers het kreatiwiteit voortgespruit uit die kitaar van Jimi Hendrix of uit die pen van 'n vermaarde skrywer.

In vandag se deelnemende prosesse val die fokus byvoorbeeld op die kreatiwiteit in videospeletjies en allerlei musiek en ander toepassings. Individue deel hul eie musiek wat hul geskep het en nie net die musiek van bekende en gevestigde, individuele musiekgroepe trek die aandag nie.

In hoogs innoverende organisasies en instellings is kreatiwiteit 'n verspreide, deelnemende proses en organisasies word so ontwerp dat elke werknemer ideaal gesproke kan innoveer.

Die skuif na samewerkende, deelnemende of voetsoolvlak-kreatiwiteit het implikasies vir die toekoms en vir hoe ons die toekoms voorstel of verbeel. As die metanarratiewe van Moderniteit inderdaad aan die verdwyn is en besig is om vervang te word met wat die Franse filosoof Jean-François Lyotard "klein narratiewe" genoem het, kan ons sê dit weerspieël die verskuiwing van 'n "groot man" en "groot narratiewe" kreatiwiteit na 'n meer alledaagse kreatiwiteit - met ander woorde van 'n "universele" na 'n "plaaslike" kreatiwiteit.

"Act always so as to increase the number of choices."

Deelnemende toekomsvisies

Ons benodig 'n soort denke wat kompleksiteit en teenstrydighede omhels en nie terugdeins van die chaos nie. 'n Bereidwilligheid om 'n alternatiewe toekoms te verbeel.

Namate angs oor die kompleksiteit, chaos en teenstrydighede van postnormale tye styg, is dit toenemend duidelik dat daar ook 'n toename in polariserende, eksklusiewe retoriek is en 'n onwilligheid om na dialoog te luister.

Daar is eerder 'n toenemend vyandige, outoritêre reaksie, wat so maklik sosiale kreatiwiteit uitsluit. Die gevolg is dat 'n sekere orde afgedwing word, dikwels deur sondebokke te skep en polarisasie te bevorder.

Sosiale kreatiwiteit verken egter die toekoms saam, stel gesamentlik alternatiewe in die vooruitsig, want 'n mens leer om oor verskille te praat op maniere wat juis die verskille sien as die bron van kreatiwiteit eerder as wedersydse vernietiging.

Ons soek in hierdie proses 'n soort etiek wat geïnspireer is deur die Oostenryks-Amerikaanse wetenskaplike Heinz von Förster se etiese imperatief: "Act always so as to increase the number of choices."

Die nuwe, samewerkende of voetsoolvlak-kreatiwiteit behoort een te wees wat kollektiewe verbeelding stimuleer om sodoende 'n meer florerende toekoms vir soveel as moontlik mense te help skep. Hiervoor is onder andere deeglike scenario-beplanning nodig.

Baie belangrik in hierdie proses om van "klein narratiewe" gebruik te maak, is die versekering van die deelname van groepe wat tradisioneel onderverteenwoordig (selfs uitgesluit) is in die diskoers(e) rakende die hede en die toekoms.

Om te wys jy neem hierdie benadering ernstig op, kan 'n goeie begin wees om 'n nasionale dialoog te hou waarheen burgers uitgenooi word om hul "klein narratiewe" rakende die toekoms te deel.

Op hierdie wyse word visies verweef en word daar gesoek na groter gemeenskaplike temas en kontoere wat ons help om die onstuimige waters van die hede en die toekoms beter te navigeer.

• Prof. Jones is die hoof van die eenheid vir morele leierskap aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM