Aktueel

Op Twickers, met liefde

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Vir die sport se grootste legendes sal Twicken­ham altyd Twickers bly, skryf Albert Heenop.

Frik du Preez se doelskop in sy debuuttoets vir die Springbokke op Twickenham. Foto's: Getty Images
Frik du Preez se doelskop in sy debuuttoets vir die Springbokke op Twickenham. Foto's: Getty Images

As Suid-Afrika se rugbyspeler van die 20ste eeu, is Frik du Preez se roemryke loopbaan vasgelê op ikoniese foto's van onder meer sy onvergeetlike drie teen die Britse en Ierse Leeus in 1968 en vlieënde duikslag op die All Black Chris Laidlaw twee jaar later.

'n Foto wat effens onder die radar ingeskuif het, is dié van 'n doelskop wat Du Preez waargeneem het in sy debuuttoets vir die Springbokke teen Engeland op 7 Januarie 1961.

Dit is geneem teen die agtergrond van 'n volgepakte Twickenham-stadion in Londen.

Die einste Twickenham wat tans in die nuus is vanweë 'n borgskapsooreenkoms ter waarde van £100 miljoen, oor 'n 10-jaar-tydperk, wat meebring dat dié stadion, wat tradisioneel beskou word as die "hoofkwartier van rugby", se naam na Allianz-stadion moet verander.

Dit wil dus lyk asof die laaste bastion van die Rugbyvoetbalunie nou ook geval het voor die finansiële druk wat met professionele rugby gepaardgaan.

Die nuus het uiteraard skokgolwe deur die rugbygemeenskap gestuur, met die publiek wat gal braak daaroor op sosiale media.

"Welgedaan aan die Rugbyvoetbalunie (RFU) dat hulle 100 jaar se geskiedenis en tradisie summier wegsmyt ter wille van pure gierigheid. Engelse rugby het sy siel verkoop. Twickenham is 'n ikoniese handelsnaam, maar hulle verwerp dit nou asof dit waardeloos is . . ." lui een so 'n plasing.

Maar wat het legendes van die spel, universele helde wat oor die afgelope 115 jaar help skryf het aan die ryke rugbygeskiedenis van Twickenham, te sê oor hierdie aangeleentheid?

Twickers was spesiaal

Eerste in daardie ry staan die grootste Bok van almal, Frik du Preez, wat voor 72 000 toeskouers op Twickenham sy aankoms in die toetsarena aangekondig het met die verdoeling van die agtsteman Doug Hopwood se drie in Suid-Afrika se sege van 5-0 oor Engeland op 7 Januarie 1961.

Twickenham het 'n moerse smart baan gehad, pragtige paviljoene; dit was baie spesiaal.

Die vermaarde Britse skrywer J.B.G. Thomas beskryf die skop soos volg in sy boek Springbok Glory: "Du Preez se oomblik van waarheid het aangebreek toe hy toevertrou is met die moeilike doelskop, maar hy was meer as opgewasse vir die taak en het die bal hoog tussen die pale deur geloods vir twee waardevolle punte."

Met daardie skop het Du Preez ook sy legendariese loopbaan begin en hy was in sy noppies om dit juis op Twickenham te kon doen.

"Rugby het ontstaan in Engeland en dáár maak ek toe my debuut op Twickenham," het Du Preez die afgelope week trots aan Rapport vertel.

"Twickenham het 'n moerse smart baan gehad, pragtige paviljoene; dit was baie spesiaal.

"Persoonlik was dit spesiaal om in my eerste toets te kon speel, aangesien ek vroeër die seisoen nie eens Noord-Transvaal kon haal nie, en, ek moet bieg, ek het 'n kans gekry teen Engeland slegs omdat Martin Pelser (flank) seergekry het.

"In 1969 het die keurders vir my gedrop uit die span vir die toets teen Engeland op Twickenham, maar ek is darem in 1971 uitgenooi om daar vir 'n president-vyftiental teen Engeland te speel tydens die Rugbyvoetbalunie se eeufeesvieringe. Toe het ek nie alleen die geleentheid gehad om saam met Colin Meads (Nieu-Seeland) in die skrum te sak nie, maar het ek ook die koningin se hand geskud op Twickenham."

Oor die feit dat Twickenham voor­­­t­aan Allianz-stadion gaan heet, het Du Preez droogweg net die volgende te sê gehad: "Dit is iets waaraan 'n mens sal moet gewoond raak, vernaam as jy wil uitvind waar die Bokke in November gaan speel. Eerlikwaar pla dit my nie regtig wat die Engelse maak nie en buitendien verander ál die goed se name maar mettertyd."

Wys ons meer van Erika Roe

Peter Winterbottom MBE het van 1982 tot 1993 flank gespeel in 58 toetse vir Engeland, waarvan hy in 25 op Twickenham uitgedraf het.

Daar was uit die aard van die saak vele hoogtepunte, beginnende met sy debuut op Twickenham teen Australië, met legendes soos Mark Loane, Greg Cornelsen en Simon Poidevin wat die Wallaby-lostrio gevorm het. Engeland het met 15-11 die pyp gerook, maar Winterbottom onthou nie veel van die wedstryd self nie.

"My blywende herinnering is van Erika Roe wat met rustyd haar befaamde bostuklose verskyning op Twickenham gemaak het," skerts hy.

"Ongelukkig het Bill Beaumont (Engeland se kaptein en deesdae voorsitter van Wêreldrugby) ons so besig gehou met sy spanpraatjie dat ek haar nie te siene gekry het nie!"

Winterbottom was ook lid van Engeland se span wat in 1991 naelskraaps met 6-12 die knie gebuig het teen die einste Australië in daardie jaar se Wêreldbeker-eindstryd op Twickenham, maar 'n ander hoogtepunt daar was toe Engeland in 1983 'n skoksege van 15-9 oor die All Blacks, met losvoorspeler-legendes soos Murray Mexted en Mark (Cowboy) Shaw in hul geledere, behaal het.

"Ek het gedurende die Britse somer met die Leeus na Nieu-Seeland getoer waar die All Blacks met 4-0 skoonskip gemaak het teen ons in die toetsreeks. Om dus die bordjies met Engeland te kon verhang, en boonop op Twickers, was heerlik."

Winterbottom is filosofies oor die naamverandering van Twickenham, maar twyfel of mense sommer oornag van Allianz-stadion sal begin praat.

"Dis 'n bietjie soos Ellispark," meen Winterbottom, wat Transvaal 13 keer verteenwoordig het in 1987 en 1988.

"Ongeag die naam van die nuwe stadionborg (Emirates Airline), bly getroue ondersteuners steeds van Ellispark praat.

"Rugby het nietemin 'n massiewe gedaantewisseling ondergaan oor die afgelope 30 jaar, met finansies wat deesdae voorrang geniet. Die spel is professioneel en wanneer 'n maatskappy bereid is om £100 miljoen in 'n stadion te stoot, is dit 'n moeilike aanbod om van die hand te wys.

Dis tipies die Engelse; hulle sal hul siel vir enigiets verkoop.

"Wat vir my van belang is, is waarvoor daardie geld aangewend gaan word. Gaan dit help om die professionele been van die spel in Engeland, dit wil sê die 10 sukkelende Premierskapklubs, te stut?

"Gaan dit aangewend word om die stadion op te knap? óf gaan dit dalk teruggeploeg word in gemeenskapsrugby?

"Tans ontvang gemeenskapsrugby bitter min tasbare ondersteuning van die unie.

"Ek het egter gerugte gehoor van erge finansiële wanbestuur wat die RFU in hierdie benarde situasie laat beland het, so hierdie geld is waarskynlik wat hulle nodig het om weer op die been te kom.

"Wat ook al die geval, Twickenham sal in die volksmond altyd Twickers bly."

‘Hulle sal hul siel verkoop'

David Campese, wat in 1991 die WB-titel met die Wallabies op Twickenham verower het en steeds gereken word as een van die beste en mees onortodokse aanvallende spelers wat die spel ooit opgelewer het, draai nie doekies om oor hoe hy oor die saak voel nie.

"Dis tipies die Engelse; hulle sal hul siel vir enigiets verkoop," het Campese vanuit Doer Onder teenoor Rapport afgepak.

"Toe my internasionale loopbaan in 1982 begin het, was die geleentheid om die wêreld vol te reis en op beroemde velde soos Edenpark (Nieu-Seeland), Parc des Princes (Frankryk), Cardiff Arms (Wallis), Loftus Versfeld (Suid-Afrika) en, inderdaad, Twickers te speel 'n droom wat bewaarheid geword het.

Die Australiese vleuel David Campese lig die beker ná die Wêreldbekereindstryd op 2 November 1991 teen Engeland op Twickenham.
Die Australiese vleuel David Campese lig die beker ná die Wêreldbekereindstryd op 2 November 1991 teen Engeland op Twickenham.

"Deesdae gaan alles egter oor geld; geld regeer die wêreld. Dit is net hartseer dat soveel tradisie en kultuur daardeur verlore gaan.

"Die besonderse betekenis van Twickenham behoort vir toekomstige generasies behoue te bly. Dit is duidelik dat die RFU hulself in 'n geldelike verknorsing bevind. Waar is al die geld heen?

"Die stadion word gereeld uitverkoop vir toetse, maar daar is steeds amateurs aan die stuur van sake en hulle het nie 'n benul van wat hulle doen nie.

"Nog 'n probleem is dat die spel drasties agteruitgaan. Met die koms van professionalisme is die vermaaklikheidsfaktor daarmee heen.

"Skeidsregters, lynregters en TV-skeidsregters het gans te belangrik geword, maar mense betaal geld om die spelers in aksie te sien, nié die wedstrydbeamptes nie.

"Afrigters het ook te skoolmeesteragtig geword; hulle laat jong outjies, soos my seun, nie meer toe om die spel te speel soos in my dae nie. Dit is uiters frustrerend.

"Een speler wat gewys het wat individuele visie en vaardigheid nog kan vermag op die aanval, is Antoine Du­pont. Hy het tydens die Olimpiese Spele op eie houtjie die wa deur die drif getrek vir Frankryk, terwyl nie een van die ander spanne bereid was om te waag nie; hulle het bloot net volgens hul strukture aanhou speel.

"As rugby dan kamtig so wonderlik is op die oomblik, hoekom is al wat 'n rugbyunie is in geldelike moeilikheid?

"Hoekom moet die RFU hul siel verkoop en Twickenham se naam gaan staan en verander?"

Voordele vir rugby

'n Meer onlangse Bok, André Snyman, het met die einste visie en vaardigheid waarna Campese verwys homself verewig in die annale van Twickenham met 'n onvergeetlike langafstand-drie teen Engeland in 1997.

Snyman het 10 toetsdrieë in sy loopbaan gedruk, maar dié kritieke een van bykans 50 m in die oorwinning van 29-11 "op die 29ste van die 11de maand nogal" oor Engeland op Twickenham in 1997, staan uit vir die Bok-senter.

James Small van SA in 'n duikslag deur Richard Hill van Engeland tydens die Nike International-wedstryd op Twickenham.
James Small van SA in 'n duikslag deur Richard Hill van Engeland tydens die Nike International-wedstryd op Twickenham.

"Ek is uit posisie betrap op losskakel en het eenvoudig 'n muur van wit truie voor my gesien," onthou Snyman.

"Slegs Mark Andrews (slot) was links van my, toe besluit ek maar om self in kontak te gaan. Ek het egter daarin geslaag om deur die eerste linie te breek.

"Met slegs Matt Perry voor my, het ek besluit om 'n kans te vat met 'n binne-buite-swenk en 'n bietjie spoed, en dit het gewerk.

"So Twickenham sal altyd spesiale herinneringe vir my inhou.

"Ek voel egter dat die borgskap agter die naamverandering heelwat voordeel kan inhou vir die RFU en die spel oor die algemeen. Hopelik sal die geld af filter na jeugontwikkeling, wat iets is wat my na aan die hart lê en waarby ek steeds betrokke is.

"Op die einde van die dag, selfs met die naamverandering, sal Twickenham altyd Twickers bly."

Van koolkopveld tot superstadion

Volgens Wallace Reyburn se boek Twickenham - The Story of a Rugby Ground, het Billy Williams, 'n raadslid van die RFU, in 1907 die lappie landbougrond in die buitewyke van die klein gemeenskap van Twickenham geïdentifiseer as 'n ideale ligging vir die Rugbyunie se eie rugbyveld.

Die grond is aangekoop vir £5 572 en bouwerk aan die stadion het in 1908 begin. Die eerste rugbywedstryd op Twickenham het op 2 Oktober 1909 plaasgevind tussen Harlequins en Richmond, voor sowat 3 000 toeskouers, en die eerste toetswedstryd, tussen Engeland en Wallis, op 15 Januarie 1910.

Engeland se skrumskakel, ene Dai Gent, het jare later die volgende oor dié geskiedkundige gebeurtenis geskryf: "Wel, die wonderlike spel van Rugbyunie-voetbal het uiteindelik 'n tuiste gevind en 'n nuwe naam is toegevoeg tot rugbyvoetbal - Twickenham!"

Albert Heenop

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM