Louisemarié Combrink skryf oor die enigste kunswerk wat Michelangelo ooit geteken het, die ‘Pietà'.

Michelangelo het die werk in 1498-'99 geskep toe hy 25 jaar oud was, en dit is nou in die Sint Petrus-katedraal in die Vatikaanstad in Rome te siene. Die Pietà is die enigste werk wat Michelangelo ooit geteken het - en ook net omdat hy gehoor het dat iemand gewonder het of iemand anders dit dalk gemaak het.
Dis uit marmer gekerf, groter as lewensgroot, met die sittende figuur van Maria en Christus wat op haar skoot lê. Dit beeld 'n toneel uit ná die kruisafname. Die werk is gewyd; dis 'n oomblik van gelade emosie. Golwende marmervoue verbeeld Maria se kleed dramaties; sy kyk af na die figuur van Christus wat leweloos oor haar bene gedrapeer is.
Dit is in der waarheid 'n verbeelde moment; daar is geen letterlike blyke in die Evangelies dat Maria die Christusfiguur op hierdie wyse vasgehou het nie. Dis eerder gegrond op 'n geestelike en emosionele waarheid.
Die Pietà is ook geskep in 'n tydgleuf toe die rol van Maria as tussenganger tussen die mens en God steeds van besondere belang was. Daar is egter weggedoen met die Middeleeuse praktyk van stralekranse. In die pas met die gees van die Renaissance is die figure eerder vermenslik om die humanisme van die tyd te versinnebeeld.
Wat opval van die Pietà is die harmonie van die komposisie, en die stille eerbied in die gelaatsuitdrukkings.
Daar is egter 'n paar interessante fasette omtrent hierdie beeldhouwerk wat meewerk om dit boeiend, meesleurend te maak.
Maria se gelaat is byvoorbeeld dié van 'n jong vrou. Dis 'n anomalie; as Christus volgens aanduidings 33 jaar oud was ten tyde van sy kruisiging, moes sy minstens 50 gewees het - selfs as sy 'n baie jong ma was. Sy is egter sonder plooie of veroudering - eerder geïdealiseer as jong, beeldskone vrou. Haar kalm uitdrukking toon ook weinig emosie; emosie word eerder geïmpliseer deur die oorhoofse komposisie en storie.
Hierdie benadering tot Maria se gelaat hou ook verband met Griekse skoonheidsideale wat herleef in die Renaissance - dat jong volwassenes die mens se mooiste potensiaal verbeeld. Haar jeugdige voorkoms word ook verbind met haar kuisheid en reinheid - die gedagte dat sy 'n ewige maagd sou wees.
Op soortgelyke wyse is die figuur van Christus geïdealiseer: 'n jong man met 'n baard, sonder enige aanduiding van marteling, of wonde wat deur sy doringkroon gelaat is. Ons sien slegs stigmata op sy hande waar wonde gelaat is deur die spykers waarmee hy gekruisig is. Sy gelaat is eweneens kalm.
Hierdie aanwendsels bewerkstellig 'n gevoel van harmonie en grootsheid, en deurdrenk die werk met 'n gevoel van ewigheid en permanensie.
Ook opmerklik is Michelangelo se hantering van verhouding. 'n Jong man se liggaam is gewoonlik heelwat groter as dié van sy ma, en sal dus beswaarlik so op sy ma se skoot kan lê. In die Pietà het Michelangelo dan die figuur van Christus heelwat kleiner as dié van Maria uitgebeeld, in die belang van komposisionele eenheid. Die figuur van Christus pas eintlik op haar skoot soos dié van omtrent 'n 12-jarige. Dit val egter nie dadelik op nie omdat die werk se oorhoofse komposisie as 'n beeldhouwerk soveel sin maak.
As geheel vorm die werk 'n driehoek, wat 'n stabiele komposisie is en die idee van ewigheid rugsteun.
Die Pietà het ook deurgeloop onder vandalisme, wat iets is wat ons vandag nogal sien in museums en ander kontekste. Op 21 Mei 1972, op Pinkstersondag, het 'n man die werk met 'n hamer aangeval terwyl hy uitgeroep het dat hy self Christus is wat uit die dood opgestaan het. Hy het die werk 15 keer met die hamer bygekom en Maria se arm, 'n stuk van haar neus en een van haar ooglede beskadig. Die werk is genadiglik besonder kundig gerestoureer, maar is vandag agter koeëlvaste glas - jy kan nie meer daarom loop nie.
- Dr. Combrink is 'n senior dosent in kunsgeskiedenis aan die Noordwes-Universiteit. Sy gesels Sondae tussen 13:05 en 14:00 in Esté Gross se program Wat's nuut? Dis klassiek! op PretoriaFM oor kuns. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.





















