Aktueel

Kleurblindes het minder fiemies

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Om die kleur van kos te kan sien, maak jou kieskeuriger daaroor, skryf Isabel Gauthier.

Vir 'n kleurblinde is dit moeiliker om sy neus vir dié bord vol gesondheid op te trek. Foto: Pixabay
Vir 'n kleurblinde is dit moeiliker om sy neus vir dié bord vol gesondheid op te trek. Foto: Pixabay

Die sewende seisoen van Julia Child se The French Chef, die eerste TV-reeks in kleur, het gewys hoe kleur die ervaring van kos kan verander.

Al het Child haar gehoor in swart-en-wit bekoor, het vermaak verruklik geword toe kykers bouillabaisse à la Marseillaise in kleur kon sien.

In my navorsing oor individuele verskille in hoe mense kos herken, het ek besef watter unieke rol kleur in emosionele reaksie op kos speel.

Vis of vlees

Die afgelope 20 jaar het ons en ander navorsers vasgestel daar is 'n groter variasie as wat vroeër vermoed is in hoe goed mense voorwerpe soos voëls, motors en selfs gesigte kan herken en daartussen kan onderskei.

Dit klink vanselfsprekend dat party mense meer as ander van voëls of motors weet. Tog, interessant genoeg, is daar ewe veel variasie in gesigherkenningsvermoë, selfs al het almal wat kan sien, ervaring daarvan om gesigte te sien. Ervaring met kos is ook algemeen. Ons was nuuskierig oor hoe mense se vermoë verskil om kositems te herken. In ons toetse is mense gevra om uitbeeldings van dieselfde gereg tussen soortgelykes te vind, of om die gereg uit te wys wat nie by ander pas nie. Daar is 'n groot verskil tussen mense wat dit betref. Dié variasie kan deels verklaar word deur 'n algemene vermoë om enige soort voorwerpe te herken.

Dit kon die verskille wat betref kosherkenning wel nie volledig verklaar nie. Ons het bespiegel dat die variasie verband hou met mense se houding teenoor nuwe kosse. Mense wat stellings soos "ek vertrou nuwe geregte nie" of "ek is baie kieskeurig oor die kos wat ek eet" sterk onderskryf, het kosneofobie. Dit kan beteken dat hul dieet nie gesond genoeg is nie.

Soos ons voorspel het, het ons gevind kieskeurige eters vaar die swakste in ons kosherkenningstoetse: Daar is 'n nega­tiewe verband tussen kosneofobie en kosherkenningsvermoë.

Kleur, fiemies en herkenning

Verskillende navorsingsgroepe het breinareas in die visuele stelsel geïdentifiseer wat met voorkeur op kosprente reageer. Om byvoorbeeld na 'n bak pasta te kyk, sal dié breinareas aktiveer, maar nie om na 'n hoop tou te kyk nie.

Een groep het aan die hand gedoen dat dié dele van die brein op kleur reageer omdat hulle spesiaal bedoel is om kos te herken. Die ander groep het geredeneer dat kleur nie kardinaal belangrik is vir die brein se reaksie op kos nie. Hulle het selfs gewys daar is soortgelyke breinaktivering wanneer mense na swart-en-wit kosprente kyk.

Ons het besluit om ons aanvanklike studie te herhaal met swart-en-wit kosprente. Child self sou die resultate kon voorspel: Sonder kleur het mense 'n paar ekstra foute gemaak en gedog verskillende geregte is dieselfde een, maar die patroon van variasie onder mense was andersins onveranderd. Dié met 'n hoër algemene visuele vermoë het beter met kos gevaar, en ons het weer 'n spesifieke vermoë met kos gevind wat verder as dié algemene effek strek.

Ons het wel gevind sonder kleur is daar nie meer 'n verband tussen kosneofobie en kosherkenningsvermoë nie. Dis asof die voordeel wat avontuurlike eters bo kieskeurige eters behaal het heeltemal van kleur afhang.

Gegrond op dié resultate het ons voorgestel daar is twee komponente van kosspesifieke herkenningsvermoë. Die een hang van kleur af en verduidelik hoekom die resultate dieselfde is in eksperimente met en sonder kleur. Die ander een, wat met emosionele reaksie verband hou, is op kleur gegrond en 'n bewys daarvan is die bevinding dat kos­neo­fobie net met kosherkenning verband hou as die kos in kleur gesien word. Toe wonder ons: Is kleurblinde mense - eintlik mans, want daar is 16 keer meer mans as vroue met dié toestand - minder kosneofobies?

Omdat 'n kleurblinde mens kos in 'n beperkte kleurspektrum ervaar, kan daar beperkte aanduidings wees wat hom byvoorbeeld bekommerd maak oor of nuwe kos vars of veilig is.

Ons het gevind kleurblinde mans het inderdaad minder kosneofobie as dié wat nie kleurblind is nie. Ons het dié bevinding ook in 'n ander studie gemaak waarin kleurblinde mans laer vlakke van walging in kos aangetoon het. Om die wêreld met 'n beperkte kleurvermoë te sien versag klaarblyklik 'n emosionele weerstand teen nuwe kosse.

Kleur en emosies

Ons navorsing strook breedweg met ander bevindings. Kleur kan jou help besluit of kos gaar is en of vars produkte ryp of vrot is, en mense is daartoe geneig om etes met 'n rits kleurryke kossoorte te kies. Ander navorsing wys kleur kan 'n uitwerking hê op hoe kos smaak. Party bioloë redeneer die kleuring van plante en die vermoë van diere om dit te bespeur het ook gesamentlik ontwikkel. Die rol van kleur in emosionele reaksie tot kos baan die weg vir nuwe maniere om uiterste vorme van kosneofobie te takel. Namate navorsers meer oor die ingewikkelde verband tussen kleurwaarneming en kos uitvind, kan ons geteikende ingrypings ontwikkel om dieetgewoontes te verbeter.

Nes Julia Child se kleurryke geregte, kan 'n begrip en gebruik van die krag van kleur die waardering en genot van kos verbeter.

  • Gauthier is 'n professor in sielkunde aan die Vanderbilt-Universiteit in die VSA.
Isabel Gauthier

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM