Cas Wepener skryf hy vermoed hy gaan spelfoute mis wanneer kunsmatige intelligensie en speltoetsers ook die skryfdaad finaal oorneem.

Dit is die tyd van die jaar wat nagraadse studente hul skripsies indien vir eksaminering. Finale indiening word egter voorafgegaan deur 'n lang proses waartydens studieleiers hoofstukke lees, terugvoering gee, die student aan die voorgestelde veranderinge werk en die studieleier die verbeterde teks ontvang, waarna dit geëksamineer word.
Ek kry 'n e-pos van 'n honneursstudent. Die onderwerp lui: "Ek het die vout in die titel reggemaak".
My eerste gedagte was "o, v . . .". My tweede gedagte was "o, f. . . .". Moet ek dankbaar wees oor die "vout" wat "reggemaak" is? Moet ek lag of moet ek huil? Jy lees weer die e-pos se onderwerp en glimlag omrede die vout wat reg is die ironiese lewenshouding eintlik mooi verwoord en daarom behou jy die liefde. En boonop hou ek van 'n goeie spelfoud. Nie die oninteressante verassings wat maklik oorgesien kan word en wat speltoetsers nie eens optel nie, nee.
Goeie "voute wat reggemaak is" het 'n eie estetika, onder meer omdat hulle jou opnuut 'n teks sonder foute laat waardeer. En terselfdertyd wys hulle dat feilbaarheid 'n inherente deel van ons mensheid is. Gert Vlok Nel het dit lank gelede reeds ingesien en gebruik spelfout as metafoor in 'n gedig. In sy bundel Om Beaufort-Wes se beautiful woorde te verlaat skryf hy "so oud soos ek nou is was my oom Jakkie een doodstil aand toe sy gesig / skielik verwronge geraak het in die badkamerspieël soos 'n woord wat / verkeerd gespel is & hy het reg agteroor geslaan die lengte van sy hele lyf in / my ouma se beknopte badkamer in nuwestraat 166 soos 'n bladsy wat / omblaai . . ."
Gert verwoord die waarde van 'n spelfout treffend. Soos 'n beroerte jou dadelik laat besef jy weet goed hoe 'n gesig sonder 'n beroerte lyk, so laat 'n goeie spelfoud jou die estetika van 'n paragraaf sonder 'n spelfout waardeer. Gert se spelfout-metafoor illustreer ook hoedat broosheid deel is van mens-wees. Ingebed in 'n ordentlike spelvoud sit dus potensiaal. En die potensiaal van 'n goeie spelfout strek oor verskeie velde, vanaf die taalkunde tot by die teologie en terug.
Die spelfout as misdaad
Thomas Aquinas skryf oor die waarde van "voute", oftewel misdade, kwaad en sonde, in sy Summa Theologiae: "O felix culpa, quae talem ac tantum meruit habere redemptorem" oftewel "O, gelukkige misdaad wat so 'n groot Verlosser verdien het". En 'n spelfout is 'n taalkundige misdaad.
Daardie spelfout as misdaad maak nie net van die speller 'n misdadiger nie, dit laat dié wat dit raaksien agter as meer as getuies, maar ook as aandadiges op die misdaadtoneel wanneer hulle gedagtes iewers tussen "o, v" en "o, f" weifel.
Uiteraard is die ideaal dat die een wat spel een of ander tyd besef dat die skryfwyse wat hy gebruik het minder ideaal is, oftewel 'n misdaad is. Ek hoor egter alreeds 'n koor stemme van lesers van hierdie rubriek wat opgaan - dit is die stemme van diegene wat geprikkel is deur die vout in die opskrif van hierdie rubriek wat nie reggemaak is nie, en wat daardie vout in die koerantopskrif met alle taalkundige geweld wil regstel en as gevolg daarvan vanaand nie 'n oog gaan toemaak nie. Dit is hulle wat vir my dadelik daarop gaan wys dat daar misdadigers is wat nie dink dat daar enige fout met vout is nie en dus onwetend skuldig is. Hierdie nonchalante misdadigers benodig dus 'n skeut sondebesef wat hulle verlossing sal dien.
Ek gee toe, dit is waar. En tog, tog het die vout wel die taalpuriste gehelp om by 'n klein bietjie selfkennis te kom wat dui op die afwesigheid en dus noodsaak van daardie ironiese lewenshouding en die liefde. In Anna M. Louw se roman Op die rug van die tier verneem die leser oor die hoofkarakter Wynand se gedagtes: "Terwyl ek praat, sien ek helder hoe die sonde dikwels ten goede gebruik word".
Goed, spelvoute dien dus die verlossing van die puriste, maar die vraag bly steeds: wat van die oorspronklike misdadigers se heil? Wat van daardie student wat die vout reggemaak het? Sal ons in die gees van die apostel Paulus hom sommer in die sonde laat voortleef sodat die genade kan toeneem?
Sondig dapper!
Wel, die feit dat studente ons voortdurend uitoorlê, is 'n gegewe. Die kreatiewe wyses waarop plagiaat deesdae gepleeg word en waardeur studente taalkundig gesproke vlekkelose tekste aanbied vir eksaminering laat hulle, tesisse in die hand, lyk soos 'n skare verlostes in wit geklee voor die troon van die interne en eksterne eksaminatore. Dit is egter hierdie groep studente wat oënskynlik geen misdaadrekords het nie, wat my met waardering laat vir studente wat voute regmaak omrede ek vermoed dat dit nie ChatGPT is wat die voute regmaak nie, maar die student self.
Natuurlik verkies ek tekste sonder spelfoute, maar ek vermoed ook ek gaan hulle nogal mis wanneer kunsmatige intelligensie en speltoetsers ook die skryfdaad finaal oorgeneem het en daar maar min wat feilbaar menslik is, oftewel taalkundig misdadig is, in die skryfsels oorbly. Dit is daardie gewaande dag wanneer alle tekste stylloos konformeer tot versoeke wat aan ChatGPT gerig word. Dit is juis ook ons feilbaarheid, ons misdade, wat die lewe 'n bietjie kleur gee.
Daarom, vir al die studente wat wonder oor vout en fout; oor oppad en op pad; oor Klein- of hoofletter, vir hulle wil ek aanmoedig om dapper te sondig! Dit is ten minste eerlike misdade. En hierdie misdade dien verlossing, veral die verlossing van die lesers van die voute wat reggemaak is, soos yours truly, deur hulle aan te moedig om tog maar in 'n brose wêreld die liefde te behou.

- Wepener is 'n professor in teologie aan die Universiteit Stellenbosch. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.



















