Deur die ontwikkeling van netwerke in die brein te karteer wat pyn prosesseer, het wetenskaplikes begin naspeur presies wanneer ons pyn begin ervaar. Helaas is daar egter geen eenvoudige antwoorde nie, skryf Laurenz Casser.
Iewers tussen bevrugting en jou vroeë kinderjare maak pyn sy debuut. Wanneer presies dit gebeur, is een van die mees uitdagende vrae in die medisyne.
Party mense het al beweer dat fetusse van so jonk soos 12 weke reeds gesien kan word waar hulle ineenkrimp van lyding, terwyl ander ontken dat selfs babas enige ware tekens van pyn wys tot lank ná hul geboorte.
Nuwe navorsing deur University College London bied nuwe insigte in antwoord op hierdie kwelvrae. Deur die ontwikkeling van netwerke in die brein te karteer wat pyn verwerk - dit wat navorsers die "pyn-konnektoom" gedoop het - het wetenskaplikes begin naspeur presies wanneer en hoe ons kapasiteit vir pyn te voorskyn kom. Wat hulle uitgevind het, daag vereenvoudigde antwoorde uit oor wanneer pyn "begin".

Die navorsers het gevorderde breinbeelding gebruik om die neurale netwerke van fetusse en babas te vergelyk met dié van volwassenes en probeer tred hou met hoe verskillende komponente van die prosessering van pyn oor tyd wasdom bereik. Tot sowat 32 weke ná bevrugting bly alle pynverwante netwerke in die brein baie onderontwikkel in vergelyking met dié in die brein van volwassenes.
Hierna versnel ontwikkeling dramaties. Die sensoriese aspek van pyn - die basiese gewaarwording van skadelike stimuli - ontwikkel eerste en word funksioneel teen ongeveer 34 tot 36 weke van swangerskap.
Die emosionele komponente wat pyn ontstellend maak, ontwikkel kort daarna, tussen 36 en 38 weke. Die kognitiewe sentrums in die brein wat daarvoor verantwoordelik is om pyn bewustelik te interpreteer en te evalueer is egter ver agter, en bly onvolgroeid teen die tyd dat 'n baba op sowat 40 weke gebore word.
Dit dui daarop dat fetusse in die laaste deel van die swangerskap en neonate skadelike stimuli kan opmerk en daarop reageer, maar dat hulle pyn waarskynlik baie anders as ouer kinders en volwassenes ervaar. Pasgeborenes kan ook nie bewustelik hul pyn evalueer en die gedagte vorm "dit maak seer en dis sleg" nie.
Veranderende standpunte
Hierdie standpunte verteenwoordig die jongste hoofstuk in 'n lang wetenskaplike debat wat oor die eeue heen dramaties geswaai het, dikwels met diepgaande gevolge vir die mediese praktyk.
Vir die meeste fisioloë in die 18de en 19de eeu het die veronderstelde delikaatheid van 'n suigeling se liggaam beteken dat hy of sy uiters sensitief moet wees vir pyn - in so 'n mate dat sommige getwyfel het of jong babas ooit enigiets anders gevoel het.

Mense het hulle verbeel veral die geboorteproses is uiters pynlik vir 'n pasgeborene. Vordering in die veld van embriologie in die 1870's het egter hierdie idee laat verander. Namate wetenskaplikes ontdek het babas se brein en senuweestelsel is heelwat minder ontwikkel as die volwasse weergawe, het baie begin bevraagteken of babas werklik enige pyn ervaar. Indien die neurale masjinerie nog nie ten volle gevorm is nie, hoe kan jy werklik pyn ervaar?
Hierdie skeptisisme het ontstellende praktiese gevolge gehad. Byna 'n eeu lank het baie dokters op babas geopereer sonder verdowing omdat hulle oortuig was dat hul pasiënte in wese immuun is teen lyding. Hierdie praktyk is tot in die 1980's in sommige mediese sentrums voortgesit.
Teen die einde van die 20ste eeu het openbare verontwaardiging oor die mediese behandeling van babas sowel as nuwe wetenskaplike bevindinge egter weer sienings laat verander. Daar is bevind pasgeborenes toon wel baie van die tekens (neurologies, fisiologies en wat gedrag betref) dat hulle pyn ervaar en dat pyn onder babas waarskynlik erg onderskat is.
Die dubbelsinnige brein
Die rede hoekom daar soveel onenigheid was oor babas se pyn is omdat ons nie hul ervaringe direk kan evalueer nie. Ja, ons kan hul gedrag dophou en hul brein bestudeer, maar dis nie dieselfde nie. Pyn is 'n ervaring, iets wat jy in jou binneste voel, en dis ontoeganklik vir enigiemand anders behalwe die persoon wat die pyn ervaar.
Natuurlik is die ervaring van pyn gewoonlik gepaardgaande met verklikkers: of jy nou jou liggaam terugtrek van 'n skerp voorwerp, of verhoogde aktiwiteit in sekere dele van die brein. Dít kan ons meet.

Die probleem is dat geen enkele ding wat in die brein gebeur ooit ondubbelsinnig is nie.
Die feit dat 'n baba sy hand terugtrek van die prik van 'n naald, kan beteken dat dit vir hom pynlik is, maar dit kan ook bloot 'n onbewuste refleks wees.
Net so kan dit 'n teken van pyn wees dat die brein terselfdertyd pynverwante aktiwiteit wys, maar dit kan ook wees dat hierdie prosessering heeltemal onbewustelik gebeur. Ons wéét net nie.

Dalk weet die baba. Maar selfs indien hy weet, kan hy nog nie vir ons van sy ervaringe vertel nie - en totdat hy kan, is wetenskaplikes in die donker. Gelukkig is dit toenemend ingeligte raaiskote, maar vir eers bly dit blote raaiery.
Wat is nodig voordat ons kan sekerheid hê? Ons het 'n verduideliking nodig wat ons brein en gedrag met ons bewustelike ervaringe verbind. Tot dusver is geen ordentlike wetenskaplike verklaring van hierdie soort egter op hande nie.
• Casser is 'n vroeëloopbaan-navorsingsgenoot aan die Universiteit van Sheffield. Hierdie artikel is eerste op The Conversation gepubliseer.





















