UIT DIE ARGIEF | Die stemme van FW de Klerk

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
“So ek het met nuwe energie my begin toewy aan wat ons doen hier by die FW de Klerk-stigting en by die Global Leadership Foundation.” Foto: Jaco Marais
“So ek het met nuwe energie my begin toewy aan wat ons doen hier by die FW de Klerk-stigting en by die Global Leadership Foundation.” Foto: Jaco Marais

Oudpres. FW de Klerk het in Augustus 2010 in 'n profielonderhoud met Murray La Vita gepraat oor die "ekstra tyd" wat hy gekry het ná 'n "dodelike siekte".

Oudpres. FW de Klerk gesels in die kantoor van die FW de Klerk-stigting in Plattekloof, noord van Kaapstad, oor sy werk en sy lewe. Foto: Jaco Marais
Oudpres. FW de Klerk gesels in die kantoor van die FW de Klerk-stigting in Plattekloof, noord van Kaapstad, oor sy werk en sy lewe. Foto: Jaco Marais

Die stem waarin hy oor sy vrou praat; oor die "bietjie heimwee" na hul plaas; oor die keer toe hy by die dood omgedraai het - dít is 'n sagte stem. Die stem van 'n man wat ook 'n foto van sy ma langs sy lessenaar het. 'n Man wat sy geliefde Latyn-onderwyser in herinnering roep.

Maar wanneer oudpres. FW de Klerk gevra word om terug te kyk op Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie wat nou 'n jong volwassene van 20 jaar is, praat hy met 'n ander stem.

Ineens hoor ons daardie stem wat op die oggend van 2 Februarie 1990 uit die parlement in Kaapstad alle uithoeke van die wêreld bereik het: "Die tyd vir onderhandeling het aangebreek."

Dit is die stem wat ook in die Victor Verster-gevangenis buite die Paarl gehoor is deur 'n man wat sit en televisie kyk het.

De Klerk saam met prins Mangosuthu Buthelezi en Nelson Mandela. Foto: City Press
De Klerk saam met prins Mangosuthu Buthelezi en Nelson Mandela. Foto: City Press

"Dit was 'n asemrowende oomblik, want in een ingrypende daad het hy die situasie in Suid-Afrika feitlik genormaliseer. Ons wêreld het oornag verander." En, het oudpres. Nelson Mandela destyds gesê: " . . . vir die eerste keer in amper 30 jaar gaan my foto en my woorde, en dié van my kamerade, in Suid-Afrikaanse koerante verskyn."

Rede tot kommer

Ironies is dit dan dat die man wat "die situasie in Suid-Afrika feitlik genormaliseer het", vanoggend sê: "Ek meen daar is rede tot groot kommer vir alle gebalanseerde Suid-Afrikaners wat 'n hoë prys op ons demokrasie plaas.

'Ek is oortuig dat wat ons gedoen het, nie ék nie - ons, van 1989 af tot 1994, in die béste belang van almal in Suid-Afrika was.' Foto: Jaco Marais
'Ek is oortuig dat wat ons gedoen het, nie ék nie - ons, van 1989 af tot 1994, in die béste belang van almal in Suid-Afrika was.' Foto: Jaco Marais

"Die Grondwet wat ons onderhandel het, was meer as bloot 'n grondwet. Dit bevat 'n akkoord, 'n ooreenkoms wat op wedersydse vertroue gebou is. Op 'n wedersydse verbintenis dat dít die hoeksteen is waarop ons die nuwe Suid-Afrika sal bou.

"Elemente in die ANC was nie tevrede met die toegewings wat die ANC toentertyd gedoen het nie en het 'n verskuilde agenda ten opsigte van dinge wat verander moet word.

"Die elemente van federalisme in die Grondwet is in gevaar; die vryheid van die pers is in gevaar; die vryemarkekonomie is in gevaar; en die onafhanklikheid van die regbank is in gevaar.

"As daar ooit 'n tyd was vir die burgerlike gemeenskap om toe te tree tot die debat en tot áktiewe optrede met betrekking tot hierdie vier sake, dan is dit nou."

Die geboorte van iets nuuts

Ons gesprek vind plaas in 'n konferensievertrek in die gebou in Plattekloof, noord van Kaapstad, van waar De Klerk se FW de Klerk-stigting bedryf word.

'Die Grondwet wat ons onderhandel het, was meer as bloot 'n grondwet.'    Foto: Jaco Marais
'Die Grondwet wat ons onderhandel het, was meer as bloot 'n grondwet.' Foto: Jaco Marais

Die vertrek word onder meer versier deur groot doeke van Bettie Cilliers-Barnard en Cecil Skotnes en 'n bronsbeeld van 'n aanstormende olifant.

Op die tafel waarby ons sit, is nog 'n bronsbeeld: van 'n hand waarin 'n vroue­fi­guur lê. Dit simboliseer die geboorte van iets nuuts in die hand van God, sê De Klerk. Sy vriend Fana Malherbe het dit gemaak. Hy het ook die perdekoppe op hul plaas geskep.

"Toe ons nog ons plaas Wildepaardejacht (in Klein-Drakenstein, naby die Paarl) gehad het, het my vrou (Elita) my 'n slag verras. Sy het hom gevra om twee lewensgroot perdekoppe te maak wat in die wind hardloop soos wilde perde. Toe ons die plaas verkoop, het ons daai twee koppe wel na ons nuwe huis in Kaapstad gebring."

De Klerk en sy vrou, Elita.  Foto: Argief
De Klerk en sy vrou, Elita. Foto: Argief

Hulle was tien jaar op die plaas en woon die afgelope twee jaar in Fresnaye, 'n buurt van Kaapstad.

"Ons was baie lief vir die plaas, maar vier jaar gelede was ek amper dood. Ek het 'n kolonoperasie gehad (weens kanker), maar uiteindelik goed daardeur gekom.

""Maar ek was twee weke in 'n koma weens komplikasies wat ingetree het. En toe ek nou begin beter word, het ek myself begin afvra: as ek nou iets sou oorkom . . . my vrou, synde 'n Griekse burger, maar wat sal aanbly in Suid-Afrika, kan sy alleen op die plaas bly? En die antwoord was néé.

"Toe het ons besluit om die plaas te verkoop en stad toe te trek. Ons is baie gelukkig in ons nuwe huis. Daar is nog so 'n bietjie heimwee by my na die plaas, maar nou ja, ons ry ook minder en kan meer tyd tuis spandeer en minder op die pad."

Die wonderwerk in SA

In sy hoedanigheid as voorsitter van die FW de Klerk-stigting sowel as die Global Leadership Foundation tree De Klerk oor die wêreld as spreker op en neem hy aan vredeskonferensies deel. Waaroor praat hy veral?

"Aan die begin was die hooftema: Hoe het die wonderwerk in Suid-Afrika gebeur? Die wêreld het dit beskou as 'n wonderwerk. Maar ek self het ook moeg geword daarvoor en die pad was al stofgetrap ná 'n stadium.

"Toe het ek begin praat oor die bestuur van multikulturele gemeenskappe. Oor die uitdaging. Want ten grondslag van die meeste van die gewelddadige stryde deur die wêreld lê in die mislukking om multikulturele gemeenskappe behoorlik te orden en te bestuur."

Hy praat ook oor die lesse wat ons geleer het met betrekking tot onderhandeling. En oor leierskap. Of oor globalisering vanuit 'n Afrika-perspektief.

Maar soms praat hy oor iets heeltemal anders. Nie in Londen of New York nie.

"Ek het verlede Saterdag opgetree by wat genoem was Survivor's Day van kankerpasiënte. Want ek self is 'n oorlewende van kanker. Daar was 300 mense net uit hierdie deel van die Kaapse Skiereiland in Durbanville in 'n skoolsaal bymekaar wat almal kanker gehad het of nog behandel word daarvoor, maar wat as gevolg ook van die moderne wetenskap daarin slaag om 'n normale lewe te lei ondanks die kanker."

Ekstra tyd

Kanker dwing jou tot diep nadenke.

"As 'n mens 'n dodelike siekte kry en as gevolg van mediese ingryping en met die genade van die Here gespaar word, en teen verwagtinge in selfs herstel, soos dit met mý die geval was, dan kom die besef by jou tuis: Maar ek het ékstra tyd gekry!"

Sy stem is hees.

'So ek het met nuwe energie my begin toewy aan wat ons doen hier by die FW de Klerk-stigting en by die Global Leadership Foundation.' Foto: Jaco Marais
'So ek het met nuwe energie my begin toewy aan wat ons doen hier by die FW de Klerk-stigting en by die Global Leadership Foundation.' Foto: Jaco Marais

"En ek het myself afgevra wat gaan ek dóén met daardie ekstra tyd. En dit het vir my 'n nuwe inspirasie gegee om te sê ek is gespáár. Om wát te doen? Om pósitief 'n bydrae te probeer lewer. 'n Mens kan natuurlik nie op élke lewensterrein . . . Jy moet volgens jou talente en jou ervaring.

"So ek het met nuwe energie my begin toewy aan wat ons doen hier by die FW de Klerk-stigting en by die Global Leadership Foundation, waar ons internasionaal advies gee aan regerings - nie vir wins nie - in die ontwikkelende wêreld ten opsigte van goeie regering en om beter ekonomiese vooruitsigte te skep."

Baie energie

Het die Suid-Afrikaanse regering al van hierdie dienste gebruik gemaak?

Stadig plooi 'n glimlag oor sy gesig.

"Nee. En ek twyfel of hulle mý sal nader. Ek dink hul oordeel sal wees dat ek bevooroordeeld is. Hulle weet dat ek op partypolitieke vlak oortuig is dat die ANC te groot en te sterk is en dat opposisiepolitiek in Suid-Afrika versterk moet word.

"Ons het 'n mooi demokrasie op papier. Ons sal eers 'n werklik gesonde demokrasie hê as daar onsekerheid ontstaan oor wie die volgende verkiesing gaan wen.

"Om dít te bereik glo ek die ANC moet skeur, en ek dink hy gáán skeur."

"En ek het myself afgevra wat gaan ek dóén met daardie ekstra tyd." Foto: Jaco Marais
"En ek het myself afgevra wat gaan ek dóén met daardie ekstra tyd." Foto: Jaco Marais

Ja, stem hy saam, hy kan 'n stywe pas handhaaf.

"Ek is geseën met baie energie. Ek word nie gou moeg nie. Ek kán hard werk en ek geniét dit om hard te werk. Dit klink 'n bietjie selfverheffend om dit so te stel . . . Ek voel baie jonger as wat ek is en ek handhaaf 'n tempo van 'n ietwat jonger mens. Trouens, ek het besluit ek wil leef asof ek 69 is. Ondanks die feit dat ek volgende jaar 75 word. Vir my is dít die norm: hoe was ek toe ek 69 was? En ek probeer my aktiwiteit op dieselfde vlak hou as wat dit toentertyd was en nie in 'n mate selfbejammerend te word - ek is nou 'n ou man - nie."

Hy glimlag.

"Maar ek wil nou darem ook nie té jonk wees nie; daarom het ek 69 gekies en nie 59 nie."

Mandela en verguising

Hy en oudpres. Mandela "het nogal goeie vriende geword".

"Omdat hy oud is, pla ek hom nie, maar ons bel op verjaarsdae mekaar. Ons het al by mekaar geëet aan huis. Ons sou nóú by hulle gaan kuier het toe ek 'n slag opgegaan het hier rondom die Wêreldbeker, maar toe is my vlug vertraag en moes ons die afspraak kanselleer. Ons het 'n goeie verhouding."

'Daar is nog so 'n bietjie heimwee by my na die plaas.'   Foto: Jaco Marais
'Daar is nog so 'n bietjie heimwee by my na die plaas.' Foto: Jaco Marais

Die man wat in 1993 saam met Mandela die Nobelprys vir Vrede ontvang het, het al baie verguising beleef.

"As 'n mens die kritiek wat jy kry deeglik ontleed, kan dit jou help om beter te doen wat jy wil doen. En 'n mens moenie sensitief wees vir kritiek nie. Maar verguising is iets anders. As jy oortuig is dat wat jy doen deurdág was, dat dit die régte ding was om te doen, dán word jy sterk teen verguising.

"Ek is oortuig dat wat ons gedoen het, nie ék nie - ons, van 1989 af tot 1994, in die béste belang van almal in Suid-Afrika was en dat ons 'n katastrofe afgeweer en voorkom het; dat ons honderdduisende lewens gered het wat ingeboet sou word in 'n vernietigende stryd wat hierdie land tot stóf sou vernietig.

"En daarom, as iemand my 'n verraaier noem, ontstel dit my nié, want ek glo ek het niemand verraai nie, maar met my foute en al, my wérklike bes gedoen om juis almal se belange ten beste te dien."

Pynlike toegewing

Ons praat oor die amnestieproses in Suid-Afrika: "Dit was vir my een van die moeilikste besluite van my lewe om te sê Barend Strydom, wat ander mense koelbloedig doodgeskiet het, kan uit die gevangenis stap. én om te sê dat Robert Mc­Bride, wat 'n bom geplant het wat onskuldige siviele mense se dood gekos het, vrygeskeld kon word.

"Dit was 'n toegewing wat vir my die pynlikste was van álle toegewings wat ek gemaak het in die onderhandelingsproses."

Wat sê hy oor die beskouing dat hy in sy wese 'n regsmens is en nie werklik 'n politieke dier nie?

Murray La Vita in gesprek met oudpres. FW de Klerk.
Murray La Vita in gesprek met oudpres. FW de Klerk. (Jaco Marais)

"Geld per se en mag per se was nooit vir my belangrik nie. Daar wás dus altyd by my 'n diensmotief. Dat my benadering tot problematiek en die rol wat ek probeer speel om probleme te help oplos, sterk beïnvloed is deur my regsopleiding, dink ek is 'n feit. Dit het my geleer om analities te dink; om goed te luister voordat ek tot besluite kom; om 'n probleem tot op die been toe oop te kloof voordat ek tot 'n plan van aksie besluit.

"Die rasionele het derhalwe dikwels sterker na buite na vore getree as die émosionele. Maar ek is nie emosieloos nie. Ek kan ook diép emosioneel raak.

"Ek is nie 'n politieke dier in die sin van mag te wil hê tot elke prys nie. Ek dink ek het dít bewys deur 'n pad te loop wat my presidentskap beëindig het terwyl ek kon vasgeklou het aan mag."

Min tyd

Hy en sy vrou het 'n "fantastiese verhouding".

"Ek deel alles met haar. En dikwels as ek te juridies raak, is sy die een wat sê: ‘Maar wat hiervan? En wat daarvan?' En sy vul my aan op 'n wonderlike manier. Sy gaan órals waar ek gaan saam met my. Dwársdeur die wêreld. Want ek het min tyd oor as ek na my ouderdom kyk, en élke oomblik saam met haar is kosbaar."

SPELETJIES VANDAG

CTA