Lawrie, Johann en Theo McFarlane bring hulde aan hul pa, dr. Lawrie McFarlane, wat diep spore getrap het by Hoërskool Gimnasium.

Dr. Lawrie McFarlane, die eerste hoof van die nuwe Hoërskool Gimnasium, is net meer as 50 jaar gelede oorlede. Onder sy leiding het Gimnasium geskuif na waar dit vandag is en die pragtige nuwe gebou opgerig. Dit was nie 'n maklike pad om die droom en visie wat hy van die Here ontvang het te verwesenlik nie, maar hy het met baie deursettingsvermoë en geloof volhard. In 'n ou berig van die Paarl Post met die opskrif "Die man agter die nuwe skool" sê die skrywer oor McFarlane: " 'n Eensame en lang pad het vir hom voorgelê, maar hyself het nooit getwyfel nie."
Toe hy die leisels in 1950 by Gimnasium oorgeneem het, was hy 43 jaar oud, nadat hy op 23-jarige ouderdom reeds sy eerste hoofskap aan die Hoërskool Delportshoop aanvaar het. In 1937 behaal hy sy doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch en aan die einde van daardie jaar is hy met Hester Rabie getroud.

Teen 1950 was die Gimnasium Hoër- en Laerskole met 500 leerlinge soos 'n slang wat te groot vir sy vel gegroei het: saam gebondel op 'n uiters beperkte stuk grond in die middel van die dorp met net een rugbyveld en 'n gruisbedekte speelterrein. Enigeen kon sien dat die skool homself binne die volgende paar jaar sou doodwurg weens beperkte ruimte, maar in die Paarl geld baie spesiale reëls waarteen "inkommers" hulle dikwels vasloop. Een van die sterkste hiervan is "tradisie" - wat beteken dat dinge stadig verander.
Daar was hoofsaaklik twee diepgewortelde tradisies wat die pad na vernuwing en McFarlane se visie vir die skool vol slaggate gemaak het. Gemeentegrense het bepaal in watter gebied die Paarl Gimnasium, asook Boys' High, geval het. Met die soeke na 'n nuwe terrein vir die skool, was die eerste groot struikelblok dat die nuwe Gimnasium tog net nie buite die grense van die NG gemeente Noorder-Paarl moes val nie! Hierdie vereiste het die droom van 'n nuwe skool met 'n hele paar jaar - en 'n reeks uitputtende vergaderings - vertraag. Die enigste oop stuk grond aan Chevestraat is lank oorweeg, maar daar is besef dat dit nie groot genoeg was nie. Die beginsel van gemeentegrense is toe laat vaar, en die uitvoerdruiweplaas Dammetjie is deur die departement van onderwys aangekoop. Sodoende is die eerste struikelblok uit die weg geruim.
Die volgende struikelblok het ontstaan met die Oudstudentebond wat beswaar aangeteken het teen die toelating van meisies in die tradisieryke seunskool. Die beswaar het egter nie veel steun gekry nie, waarskynlik omdat die droom van vernuwing teen hierdie tyd goed posgevat het. Deur McFarlane se hele onderwysloopbaan was hy 'n sterk voorstander van koonderwys - seuns en meisies in dieselfde skool. Gedurende sy 12 jaar lange hoofskap van die Hoërskool Langenhoven op Riversdal het die afsonderlike hoërskole vir seuns en meisies ook onder sy leiding geamalgameer.
Die onderwysdepartement het McFarlane gevra om in die ou plaashuis op Dammetjie te bly. Hy het spoedig 'n perd aangeskaf wat baie vreugde verskaf het. Intussen het die volskaalse boerdery op die plaas voortgegaan onder leiding van 'n boer wat die plaas gehuur het. Heelwat arbeiders, onder andere gevangenes, is aangestel en in die Desembervakansie het Kersliedere weerklink terwyl daar in die skuur kissies gekap of druiwe gepak is. Ritmehouers het met die plankies van kissies, net soos die Spaanse kastanjette, die sang aangevul.

Dr. Mac en Macbeth
Die volgende fase van die vervulling van die droom het aangebreek met die beplanning van die terrein en geboue. Antonie Smit is as argitek aangestel. Sy eerste voorstel was dat die geboue onder teen Hoofstraat gebou word, maar McFarlane het gevoel dat die skool, soos die Universiteit van Kaapstad, bo teen die berg moes staan, met 'n pragtige uitsig oor die Paarl en omringende berge. Onder teen die hoofstraat sou meer prakties wees vir motors of fietse, maar as 'n mens moet kies tussen skoonheid of gerief moet jy, aldus McFarlane, eersgenoemde kies. Dan is daar darem die afdraande wat wag as die dag eers warm geword het!
Die hele McFarlane-gesin, onder wie die twee dogters, Marié en Alet, wat nie die skool kon bywoon nie omdat dit toe nog 'n seunskool was, was betrokke by die droom van die nuwe Gimnasium: McFarlane (Ou Mac of Dr. Mac), sy oudste seun, Lawrie (Groot Mac), die tweeling, Johann en Theo (Klein Maccies), en McFarlane se vrou, wat 'n tyd lank Engels gegee het en toe spitsvondig "Macbeth" genoem is.
Vir die uitleg van die sportvelde het McFarlane 'n afdruk van die plaas se terrein gekry en stukke papier op skaal uitgeknip vir die tennis- en netbalbane en die rugby- en hokkievelde. Hiermee het die gesin in die aande op die sitkamermat die papier-uitknipsels soos 'n legkaart op die plan sit en pas, om te sien wat die beste gebruik van die grond sou wees - 'n absoluut opwindende gesamentlike aktiwiteit! Daarna is die wingerde, geboue, skure, 'n groot vyeboom en yslike akkerbome op die werf verwyder en die aangewese plekke vir die geboue en sportvelde is gelyk gemaak.
Die proses het begin toe Johann en Theo op die eerste dag van hul st. 9-jaar (deesdae gr. 11) se eindeksamen wakker gemaak is deur die geraas van stootskrapers, besig om die plekke vir die geboue en sportgronde gelyk te stoot. Toe die vyeboom aan die beurt kom, het McFarlane se vrou, wat baie lief was vir vye, hartseer die tweeling aan hul krae opgetrek met die opdrag: "Staan op, broers, daar gaan 'n boom verby!"
Die walle van die areas wat gelyk gestoot is, is afgerond deur struike en vygies wat sy daar geplant het.

‘Dankie! Dankie! Dankie!'
Toe het die uiteindelike hoogtepunt van die groot droom begin met die oprigting van die geboue. Die gesin het die meeste Sondae ná kerk opgestap om te gaan kyk hoeveel daar in die week gevorder is. Familie en besoekers moes natuurlik hierdie pelgrimstog meemaak! In hierdie tydperk het McFarlane hom beywer om die kommunikasie tussen die skool en die onderwysdepartement oop te hou - en het hy daarom die departement verskeie kere self besoek. Die gebou is teen einde 1963 voltooi. Daarna het die afronding van die sportvelde en terrein om die skool begin, ter voorbereiding van die inwyding teen die einde van Oktober 1966.
Die inwyding het oor 'n naweek plaasgevind en het bestaan uit 'n hele rits wedstryde om die sportgeriewe in te wy, onder meer tussen Gim en Boys' High se eerste rugby- en krieketspanne. Die operette Papageno,'n is aangebied, asook tenniswedstryde tussen Springbokspelers en 'n dinee vir oudleerlinge.
Die gassprekers, wat met 'n spesiale helikoptervlug aangekom het, het ingesluit Henning Klopper, die speaker van die parlement, J.C. Heunis, LUK en C. Redelinghuys, die voorsitter van die skoolkomitee. Fanie Theron, die superintendent-generaal van onderwys, het die kadette geïnspekteer. Die fees is afgesluit met 'n groot gimnastiekvertoning onder spreiligte en 'n vuurwerkvertoning.
En dan durf 'n mens nie van Oom Seppie de Villiers vergeet wat 60 jaar lank op Gimnasium se skoolkomitee gedien het nie. Hy het 'n paar dae voor sy 100ste verjaardag die skool se hoeksteen gelê met die woorde: "Dankie! Dankie! Dankie!"
Reeds so vroeg as 1961 het McFarlane die innoverende stap geneem om Xhosa as skoolvak in te voer, een van die eerste skole in die Wes-Kaap wat dit gedoen het.
Sy liefde vir Afrikaans verdien ook vermelding.
Die legendariese ds. G.W.A. van der Lingen, wat die skool in 1858 gestig het en ook 'n lid was van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), het die ideaal gehad dat Gimnasium ook 'n sentrum van uitnemendheid in Suid-Afrika moes wees, soortgelyk aan Alexandrië in Egipte met sy bekende biblioteek. Die hoofgebou van die ou skool, wat grootliks deur Van der Lingen persoonlik gefinansier is, het verskeie Egiptiese tekens teen sy buitemure - wat vandag nog duidelik sigbaar is.
Van der Lingen se ideaal was verder dat die skool, benewens die bevordering van moedertaalonderwys, ook leerlinge moes voorberei vir teologiese studie aan die kweekskool van die NG kerk aan die Universiteit Stellenbosch. Die skool se leuse - "Sol Justitiae Illustra Nos" (son van geregtigheid bestraal ons) - is dan ook dieselfde as dié van die kweekskool.
Die lede van die GRA was almal óf oudleerlinge óf onderwysers by Gimnasium. Om erkenning aan hulle te gee, is 'n gedenknaald voor die ingang van die nuwe skool opgerig, geborg deur die Oudstudentebond. Dis dan ook heel gepas dat Afrikaans as medium van onderrig deur die bemiddeling van McFarlane in sy termyn goedgekeur is.
‘O mein Papa'
Op die dag van sy aftrede het McFarlane gesê as hy sy loopbaan weer kon oorhê, sou hy weer 'n onderwyser geword het. Dis nie 'n wonder dat al vyf sy kinders en drie van sy kleindogters ook die onderwys as loopbaan gekies het nie! Vir sy aftrede in Junie 1970 het Salome Hendrikse en Dottie Lochner 'n sangfees in die stadsaal aangebied. Een van die items op die program, die Duitse lied "O mein Papa", was 'n spesiale huldeblyk aan hom.
Ná McFarlane se aftrede by die skool, het hy 'n tydelike pos as dosent aan die Universiteit van Fort Hare aanvaar waar hy en sy vrou 'n aangename en gelukkige laaste tydjie saam kon geniet ná al die woelige jare by Gimnasium. Op 2 Mei 1973, terwyl hy besig was met 'n lesing, het hy inmekaar gesak en aan 'n hartaanval gesterf.
Intussen het die bouery aan die koshuis fluks gevorder, maar dit is eers ingewy ná McFarlane se heengaan. Die skoolbestuur het besluit om die koshuis na hom te vernoem.
Ná sy dood het Gimnasium steeds gewaardeerde aandag aan sy weduwee geskenk. In 2005 is sy deur Basjan Reinhardt, die hoof, genooi om by 'n saalbyeenkoms vir leerlinge te vertel van die rol wat haar man in die skool se ontwikkeling gespeel het. 'n Hokkiehempie is as aandenking aan haar oorhandig. In 2006 het lede van die leerlingraad haar besoek met pragtige blomme om haar met haar 99ste en laaste verjaardag geluk te wens. Sy het op 14 Februarie 2007 sag heengegaan in Ametis, 'n aftreeoord in die Strand.
McFarlane was 'n man van vele fasette en sy lewe kan opgesom word in 'n uittreksel uit die digter Arthur O'Shaughnessy se "Ode":
"We are the music makers,
And we are the dreamers of dreams . . .
Yet we are the movers and shakers
Of the world for ever, it seems."









