'n Lewe: Johaar Mosaval, ’n ware SA kunste-ikoon

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Johaar Mosaval het in Distrik Ses grootgeword en was die eerste balletdanser van kleur wat deel was van die Royal Ballet in Brittanje asook die eerste balletdanser van kleur wat vir die Kaapstad Stadsballet gedans het in die apartheidsjare.  Foto: Ja
Johaar Mosaval het in Distrik Ses grootgeword en was die eerste balletdanser van kleur wat deel was van die Royal Ballet in Brittanje asook die eerste balletdanser van kleur wat vir die Kaapstad Stadsballet gedans het in die apartheidsjare. Foto: Ja
Johaar Mosaval het in Distrik Ses grootgeword en was die eerste balletdanser van kleur wat deel was van die Royal Ballet in Brittanje asook die eerste balletdanser van kleur wat vir die Kaapstadse Stadsballet gedans het in die apartheidsjare.  Foto: Jaco Marais
Johaar Mosaval het in Distrik Ses grootgeword en was die eerste balletdanser van kleur wat deel was van die Royal Ballet in Brittanje asook die eerste balletdanser van kleur wat vir die Kaapstadse Stadsballet gedans het in die apartheidsjare. Foto: Jaco Marais

Die gestaar het begin toe Johaar Mosaval as 'n jong gimnas 'n aanleg vir klassieke dans begin toon het: 'n Seunskind (in die oorwegend bruin Distrik Ses) en boonop Moslem.

Sommige, soos twee imams voor wie hy moes optree, het dit as 'n vreemde vorm van die Kaapse Klopse-danspassies beskou; die vensterbank sou as 'n barre vir hom dien.

Maar Dulcie Howes, plaaslike doyenne van dans, het 'n natuurlike aanleg vir klassieke-ballet-tegniek by hom bespeur en hom genooi om klasse by die Universiteit van Kaapstad (UK) se balletskool by te woon. Ook daar sou die oë op hom gerig wees - 'n gegluur, eerder, na dié donkerder teenwoordigheid in 'n oorwegend wit geselskap wat nie geskroom het om hom van agter in die klas met 'n grand jeté op die voorgrond te plaas nie.

Die ruimte wat sy geboorteland vir sy soort talent gebied het, was te beperk. Die rassewette sou hom byvoorbeeld nie toelaat om met sy kaal hande aan 'n wit vrouedansmaat te raak nie.

Maar die Sadler's Wells Theatre Ballet-geselskap van Londen het in die vroeë vyftigerjare die wêreldverhoog sy woning gemaak. Dié geselskap sou as die Royal Ballet herdoop word waar hy uiteindelik as die eerste swart solodanser vir 'n kwarteeu lank deur Europa, Australië, Kanada, die Midde-Ooste en Amerika gereis het. Die kroning van koningin Elizabeth II het as 'n prestasie uitgetroon; rolvertolkings soos dié van Bluebird in The Sleeping Beauty en Puck in A Midsummer Night's Dream was vir teatergangers 'n rede om programboekies te bêre.

"Maar kan jy jou indink hoe eensaam dit vir hom oorsee moes wees?" sê dr. Marlene le Roux, uitvoerende hoof van die Kunstekaap, waar hy in die dae toe dit nog die Nico Malan-teater was as die eerste nie-wit danser opgetree het. "Nogtans was hy sonder bitterheid teenoor alles en almal wat struikelblokke op sy lewensreis geplaas het omdat hy ten spyte daarvan sy talent kon uitleef."

Johaar Mosaval in die rol van die jongeling in Benjamin Britten se opera Gloriana wat geskryf is vir Elizabeth II se kroning. Dit was 'n solo wat vir hom geskep is kort nadat hy by die Royal Ballet aangesluit het.
Johaar Mosaval in die rol van die jongeling in Benjamin Britten se opera Gloriana wat geskryf is vir Elizabeth II se kroning. Dit was 'n solo wat vir hom geskep is kort nadat hy by die Royal Ballet aangesluit het.

Die produksie waardeur dié teater hom in Maart vereer het, Dreaming Dance in District Six: The Johaar Mosaval Story, is só genoem juis omdat hy sy droom van sy kinderjare in Distrik Ses kon bewaarheid, sê die regisseur, Basil Appollis. Dit begin met 'n uitbeelding van straattonele van dié era deur jong dansers - en daar was soveel om te vertel dat jy, aldus Appollis, 'n Shakespeare-drama van vyf uur uit die Johaar Mosaval-verhaal kon skep.

"Ons jongmense dink heel dikwels dat hulle sang en dans uitgevind het," sê die kunstenaar Terry Fortune. "Ons moet hulle herinner dat ons 'n nalatenskap het wat geskep is ten spyte van apartheid."

Dit was Mosaval se wens dat geld gevind word sodat die produksie op toer kon gaan, vertel Appollis. Daardeur sou hy, soos hy aand ná aand by die Kunstekaap gedoen het, sy waardering teenoor die gehoor se staande toejuigings kon betoon terwyl hy in eerste posisie stelling op die verhoog inneem, hake teen mekaar, tone na buite, voete in 'n reguit lyn.

In dié posisie het Le Roux hom die afgelope week in Lansdowne gevind toe sy hom met 'n bos wit blomme gaan besoek het: Vasberade om sy waardigheid te behou, selfs op sy doodsbed, hierdie ontvanger van 'n eredoktorsgraad van die Universiteit van Kaapstad en 'n Nasionale Orde van Ikhamanga (goud) - 'n ware Suid-Afrikaanse kunste-ikoon.

Johaar Mosaval, gebore 8 Januarie 1928, oorlede 16 Augustus 2023.

Rus in vrede

Julian Ogilvie Thompson, 'n reus in die Suid-Afrikaanse sakewêreld, is verlede Vrydag in Johannesburg dood.

Hy was 89.

Ogilvie Thompson of "JOL", soos hy deur kollegas en sakevriende genoem is, was 46 jaar in diens van die myngroep Anglo American.

Die nywerheidsreus Harry Oppenheimer, voorsitter van Anglo American en die mynkonglomeraat De Beers, het hom as een van die slimste uitvoerende hoofde tot nog toe in dié maatskappye bestempel.

Ogilvie Thompson het in 1956 in Anglo American se Londense kantoor begin werk en in 1958 saam met sy vrou, Tessa, na Johannesburg teruggekeer om met Oppenheimer as mentor as sy assistent te begin werk. Dit was juis Oppenheimer se idee om jong en belowende talent as persoonlike assistente aan te stel sodat hulle vir toekomstige leiersposisies geslyp kon word.

Teen 1983 was Ogilvie Thompson voorsitter van Anglo se mynbedrywighede buite Afrika en in 1985 het hy Oppenheimer as uitvoerende voorsitter van De Beers opgevolg. In 1990 het hy ook uitvoerende voorsitter van die hele Anglo-groep geword voordat hy aan die einde van 2002 as nie-uitvoerende voorsitter uitgetree het.

Ogilvie Thompson is in 1934 in Kaapstad gebore en het aan Bishops in die stad gematrikuleer, waarna hy aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer het.

Hy het met 'n Rhodes-studiebeurs aan die Universiteit van Oxford 'n graad in filosofie, ekonomie en politiek verwerf. Hy het later 'n beurs in sy naam by sy ou Oxford-kollege, Worcester, geskep vir meestersgraadstudente. Hy was ook 'n trustee van die Mandela Rhodes-stigting.

SPELETJIES VANDAG

CTA