’n Lewe | Stephen Sondheim: ‘Shakespeare van ons tyd’

Elizabeth Taylor saam met Stephen Sondheim, besig om die musiek vir A Little Night Music in Augustus 1976 op te neem. Foto: getty images
Elizabeth Taylor saam met Stephen Sondheim, besig om die musiek vir A Little Night Music in Augustus 1976 op te neem. Foto: getty images

Die groot kanon en swaargewig van die Amerikaanse musiekblyspel, Stephen Sondheim, is aan natuurlike oorsake in Roxbury, Connecticut, oorlede. Hy was 91.

Toe blyspele oorspronklik ligte spookasemvermaak vir lamsakkerige gehore opgedis het, het Sondheim dié wêreld laat bollemakiesie slaan met sy gesofistikeerde lirieke, gevoelvolle musiek en emosionele gravitas.

Jy moes konsentreer, leer, maar ook vermaak word. Hy het nie gehuiwer om met die donker sy van die lewe op die verhoog te woeker nie.

Sondheim het mense uitgedaag om die kompleksiteite van hul bestaan te verken en te geniet. In 'n loopbaan van oor die 60 jaar het hy meer as 20 groot produksies, asook werke vir TV en rolprente geskep.

Vir die meeste stukke het hy self die lirieke geskryf én die musiek gekomponeer. Daar was Company, Follies, A Little Night Music, Sweeney Todd en meer. Op 27 het hy met die lirieke van West Side Story Broadway laat rondomtalie met nuwe energie.

‘Hy laat ons emosies voel wat ongemak­lik is.'

Die plaaslike akteur Jonathan Roxmouth het die rol van Tony in West Side Storyhier vertolk. Hy vertel: "Ek was Sondag in New York, op Time Square, toe die Broadway-gemeenskap luid ‘Sunday' uit sy meesterstuk Sunday in the Park with George­ gesing het. My gevoel oor hom is dat hy wil hê die karakters moet die akteurs en die gehoor uitdaag.

"Hy laat ons emosies voel wat ongemaklik, maar totaal lewensbelangrik is. Sondheim was die Shakespeare van ons tyd. Hy is so hoog geag in die bedryf dat sy van 'n byvoeglike naamwoord geword het. ‘Dis só Sondheim', sal ons vir mekaar sê. Inderdaad."

Een van die land se grootste impresario's, Pieter Toerien, sê: "Ek is trots om te sê ek het hom al ontmoet en dat ek met hom gepraat het. Daarbenewens om nog te kan lewe deur 'n groot gedeelte van sý kreatiewe lewe.

"Sy werk sal vir nog 100 jaar aanhou. Sy lirieke gee my hoendervel.

"Hoeveel male het ek nie akteurs gesien wat paniekaanvalle kry as hulle sy werk moet vertolk nie. En dan kom hulle agter elke woord, elke lied, is versigtig en perfek geskep en afgerond. Al wat hulle moes doen, was om dit te sing. En hulle sal oor die wêreld heen aanhou sing!"

Stephen Joshua Sondheim is in New York gebore. Sy pa, Herbert, was in die modebedryf en sy ma, Janet, het hom bygestaan.

Toe Sondheim tien word, kies sy pa die hasepad met 'n ander vrou. Sy ma trek toe met haar jong seun na Bucks County, Pennsilvanië. Die liriekskrywer Oscar Hammerstein was 'n familievriend en het Sondheim gementor en soos sy eie seun behandel.

Hy het dit by hom ingedril dat die punt van lirieke is om hulle te onderspeel omdat die musiek op sigself so 'n ryk kunsvorm is. Luidens die Telegraph het Sondheim op 15 gedink hy is katjie van die baan en skryf toe sommer 'n blyspel oor sy skool.

Toe hy dit vir Hammerstein wys, het hy gesê dit is die grootste klomp twak. Toe Sondheim se onderlip begin bewe, troos hy die tiener en bring baie tyd saam met hom deur om hom touwys te maak.

Sondheim het 'n kil verhouding met sy ma gehad. Sy was erg onvoorspelbaar in haar verhouding met hom.

As iemand vir hom 'n leë bord gegee het, het hy gesê: "Dankie, maar waar is my ma se kop?"

Hy word oorleef deur sy man, Jeff Romley, en 'n horde aanhangers.

† Stephen Joshua Sondheim, gebore 22 Maart 1930, oorlede 26 November 2021.

Rus in vrede

* Die veelbekroonde akteur

Michael Atkinson is Dinsdag in die ouderdom van 94 in die Somerset-hospitaal in Kaapstad oorlede. Atkinson, op sy dag een van die produktiefste akteurs in Suid-Afrika, het die afgelope paar jare 'n stil lewe in Blouberg­rant gelei. Hy is grootliks deur teaterliefhebbers en lede van dié gemeenskap in vergetelheid gedompel. Atkinson was veral bekend vir sy uitstekende vertolkings van Shakespeare- rolle en is 'n voormalige lid van die Royal Shakespeare Company in Engeland.

*Die nagklubeienaar Chris Coutroulis het ná 'n lang siekbed gesterf. Hy was met die TV-aanbieder en voormalige Mej. SA (2001) Vanessa Carreira getroud. Hulle het vier kinders, onder meer 'n drieling. Coutroulis was 'n vennoot by die Bungalow-restaurant in Clifton en eienaar van die Taboo Night Club in Sandton.

*Die akteur David Gulpilil (68), 'n Australiese inboorling wat die lot van die oorspronklike bewoners in dié land onder die vergrootglas geplaas het, is aan longkanker oorlede. In 2014 is hy by die Cannes-rolprentfees as beste akteur aangewys. Hy het in talle rolprente soos Walk­about, Crocodile Dundee en Rabbit-Proof Fence opgetree.

*Die politieke aktivis Swami Gounden is in die ouderdom van 94 in Durban oorlede. Hy was onder meer betrokke by die stigting van die UDF in 1983. Gounden het in Magazine Barracks grootgeword. Hy het gesê dis waar hy gesien het hoe volwassenes van hul privaatheid ontneem is, ook die onwelvoeglike sanitêre toestande en armoede en verlammende hopeloosheid.

Herman Lategan

SPELETJIES VANDAG

CTA