'n Lewe | Walter Cunningham: Ware ruimte-waaghals

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto:
Foto:

Die ruimtevaarder en fisikus wat 'n sleutelrol gespeel het om die Apollo-program weer op koers te kry nadat drie van sy makkers in 'n brand tydens 'n roetine-oefening op die lanseerblad dood is, is in Houston, Texas, dood.

Walter Cunningham was 90.

Ná die dood van die drie bemannings­lede in Apollo 1 was hy 'n bemanningslid van die eerste bemande Apollo-vlugte wat in Oktober 1968 vir 11 dae om die aarde gewentel en die weg gebaan het vir die historiese maanlanding minder as 'n jaar later.

Apollo 1 sou aanvanklik die primêre bemanningsending van die Apollo-program wees. Ná die rampspoedige ontploffing was Nasa en die Amerikaanse bevolking verpletter. Namate die skok bedaar het, is 'n nuwe Apollo-kapsule aanvanklik in die geheim herontwerp en Cunningham en sy kollegas Wally Schirra en Donn Eisele gekies om in Apollo 7 om die aardbol te wentel.

Die Amerikaners was skepties. Tog is Apollo 7 op 11 Oktober 1968 met 'n splinternuwe, ruimer en nievlambare kapsule gelanseer en tien minute later het hulle teen 'n verbysterende spoed van sowat 28 000 km/h 230 km bo die aarde gewentel. Hul vlug was 11 dae lank omdat dit die tydsduur van 'n maanlanding sou wees.

Saam met hulle was daar televisiekameras met beeldmateriaal wat kykers verstom het: Sewe regstreekse TV-programme wat wêreldwyd uitgesaai is en in die volksmond bekend geword het as "the Wally, Walt and Donn Show". Dit het gewys hoe die bemanning uit swewende flesse eet en speels voorwerpe laat rondomtalie. In verstommende manewales het Cunningham verby die kamera "geswem" en bolmakiesie geslaan.

Hulle het ook 'n handgeskrewe plakkaat gehou met die woorde "From the lovely Apollo Room, high atop everything". Dit was die onvergeetlikste televisie van dié jaar en het 'n Emmy-prys losgeslaan.

Die vlug was nie sonder omstredenheid nie. Kaptein Schirra was 'n knorpot wat reeds besluit het dit sou sy laaste vlug wees. Toe hy boonop 'n verkoue ontwikkel en sy neus nie kon snuit nie, was hy buitengewoon nors en kortaf met die grondpersoneel.

Ten spyte van hul sukses en veilige landing is die ander twee ook met sy klein­like drifbuie beklad en hulle sou nooit weer vlieg nie.

Cunningham het later 'n hoogs suksesvolle sakeman geword. In 2012 het hy 'n brief saam met ander voormalige ruimtevaarders aan Nasa geskryf waarin hulle gesê het dit kan nie bewys word dat mensgemaakte koolstofdioksied 'n belangrike faktor in aardverhitting speel nie.

Cunningham is in Creston, Iowa, gebore. Die familie was arm. Hy was vasberade om sy ontberings as kind te ontvlug en het verskeie grade behaal, insluitend al die werk vir 'n doktorsgraad in fisika (wel sonder om die PhD te voltooi).

Toe hy tien jaar oud was, het hy na die rolprent Hell Divers gekyk. Net daar het hy besluit om by die Amerikaanse vloot se lugvleuel aan te sluit - wat later tot sy geskiedkundige ruimtevlug gelei het.

Hy word oorleef deur sy tweede vrou, Dorothy, en twee kinders.

† Ronnie Walter Cunningham, gebore 16 Maart 1932, oorlede 3 Januarie 2023.

Rus in vrede

Die kunstenaar André Naudé is in die ouderdom van 72 in Pretoria in sy slaap oorlede. Hy het van die 1970's tot met sy dood in 2023 geskilder, klas ­gegee, kunskompetisies beoordeel en uitstallings saamgestel.

Anita Pointer, sangeres, liedjieskrywer en medestigter van die Pointer Sisters, wat 'n rits treffers in die 1970's en 1980's gehad het, is op 74 aan kanker oorlede. Van hul treffers was "Slow Hand", "I'm so Excited" en "Jump". Hulle was die eerste swart vrouegroep wat by die Grand Ole Opry in Nashville - 'n konsert wat ook elke week oor die radio uitgesaai word - gespeel het. Toe hulle ná afloop van die konsert by die partytjie aankom om hul sukses te vier, is hulle as kelnerinne verwar en na die kombuis gestuur.

Die Serwies-Amerikaanse digter Charles Simic is op 84 oorlede. Hy het die gesogte Pulitzerprys in 1990 vir The World Doesn't End gewen. Hy was die skrywer van dosyne boeke en is deur baie akademici as een van die grootste en oorspronklikste digters van sy tyd beskou. The New York Times berig hy het eers in sy 20's in Engels begin skryf. Sy somber maar komiese perspektief is deels gevorm deur die jare toe hy in die oorloggeteisterde Joego-Slawië grootgeword het. Sy gedigte is kort en skerp, met soms skokkende verskuiwings in stemming en beeldspraak.

Fred White, wat in die ouderdom van 67 oorlede is, was die tromspeler van die popgroep Earth, Wind & Fire wat op hul kruin in die 1970's was. Hulle was veral bekend vir hul klassieke poptreffer "September".

Herman Lategan

SPELETJIES VANDAG

CTA