Die sjef, kookboekskrywer en joernalis Peter Veldsman se gastronomiese reis het as kind begin toe hy die eerste keer 'n doukomkommer uit sy ouma se groentetuin geproe het.
Veldsman (82) is Dinsdag in die Mediclinic Worcester aan natuurlike oorsake oorlede.
Hy het, nadat hy sy pienk-en-pers geverfde huis in Kaapstad verkoop het, besluit om in Villiersdorp af te tree. Sy wonderlike kindertyd op sy grootouers se plaas buite Ladismith het nou tot die verlede behoort en hy wou vorentoe kyk, vertel die operasangeres Elizabeth Catharina, sy "ere-kleinkind".
Veldsman was altyd deel van haar en haar pa, die internasionaal bekende orrelis Roucher du Toit, se lewe, sê sy. Hy het Du Toit reeds as tiener onder sy vlerk geneem en dieselfde met haar gedoen.
Veldsman het haar graag oor etiket en kos geleer. "Jy vat nooit aan 'n wynglas aan die bokant nie, maar aan die steel," was sy vermaning.
Veldsman is op Touwsrivier gebore, waar hy in latere skooljare uitgevind het dat hy die hoogste IK in die skool het en wiskundig aangelê is. Dié onthulling het hom nie in 'n topleerling verander nie.
Hy het 'n BA-graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en sy studentejare gebruik om ook vryskut-resensies te skryf, sketse en tekeninge aan te koop en dan teen weer teen 'n wins te verkoop vir ekstra sakgeld. Hier kon hy ook sy liefde vir musiek, wat gestrek het van die dae toe sy oupa en ooms saans ná ete musiek op die plaasstoep gemaak het, voed.
Veldsman het vriende gemaak met die room van Stellenbosch en dit geniet om in sy vooraanstaande gasvroue se kombuispotte te loer, maar van 'n loopbaan as gastronoom was daar nog nie sprake nie.
Hy wou 'n kunsjoernalis word, maar is deur Die Burger afgekeur toe hy daar aansoek om werk gedoen het.
Doen jou huiswerk, begin by die begin en hou dit eenvoudig."
Sy reis as kosjoernalis, later sjef en uiteindelik restaurateur van die ikoniese restaurant Emily's het begin nadat hy 'n vriend gehelp om die kookboeke te organiseer van Lesley Faull, eienaar van Silwood, die eerste eksperimentele toets- en demonstrasiekombuis in die land.
Hy is by Silwood as sjef opgelei en het ook verder studeer aan 'n kulinêre akademie in Hamburg, Duitsland.
Sy wens om die joernalistiek te betree is in die 1970's bewaarheid toe hy Sarie se kosredakteur geword het. Hy het die geleentheid aangegryp om mense se koppe te draai oor die samestelling van 'n spyskaart, om kos nie dood te kook nie en om disse soos hoenderpastei en bobotie in onthaalgeregte om te tower.
Kosdemonstrasies, TV-verskynings, radio-insetsels en tientalle kookboeke het gevolg. Hy het ook die Culinary Arts Institute of Africa gestig waar sjef-restaurateurs opgelei word.
Veldsman is plaaslik en internasionaal vereer, onder meer vier keer deur die gesaghebbende Chaîne des Rôtisseurs.
Die sjef Marlene van der Westhuizen sê sy het eers werklik besef met hoeveel agting en respek die internasionale kosgemeenskap Veldsman bejeën het toe hulle die eerste keer saam in 'n restaurant in Parys, Frankryk, ingestap het.
"Keer op keer was dit die maître d' of eienaar self wat hom by die deur ontvang en na die table d'honneur geneem het."
Sy raad aan haar was dat die skryf van 'n resep 'n fyn kuns is. "Doen jou huiswerk, begin by die begin en hou dit eenvoudig."
Lizette Rabe, eertydse Sarie-redakteur, sê Veldsman "was net gewoon 'n nice ou. Hy kon waardering hê vir van die fynste kookkuns tot die gewoonste kos."
Peter Johan Veldsman: gebore 12 Januarie 1942; sterf 16 April 2024.
Rus in vrede
Die grondwetkenner prof. Ignatius Michael Rautenbach (80) is op 11 April in sy huis in Randburg dood.
Rautenbach het hom in 1970 by die regsfakulteit van die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) aangesluit.
Hy was 'n baanbreker op die gebied van staatsreg en menseregte, sê 'n oudkollega en goeie vriend prof. Rassie Malherbe.
"Sy proefskrif vir sy LLD - waaraan hy in die jare 70 begin werk het - het oor die reg op bewegingsvryheid gegaan."
Rautenbach was ook die skrywer van die eerste handboek in Afrikaans oor staatsreg (saam met Malherbe), wat hy nog verlede jaar bygewerk het.
Hy het die akademie vir 'n wyle verlaat om as hoofdirekteur van staatkundige beplanning in die kantoor van die eerste minister (1982) en in die departement van staatkundige ontwikkeling (1983-'84) sy insigte en doelwitte met staatsreg in die praktyk om te sit.
Sy opvolger as hoofdirekteur, prof. Fanie Cloete, sê Rautenbach het 'n betekenisvolle bydrae tot die demokratiese oorgangsproses gelewer.
"Hy was een van die oorspronklike beplanners en skrywers van die 1983-Grondwet en ander oorgangsbeleide en -wetgewing. Hy het 'n instrumentale bydrae gelewer om die destydse NP-regering te oorreed om rassediskriminasie af te skaf."
Rautenbach het in 1984 na die RAU (nou die Universiteit van Johannesburg) teruggekeer, maar was steeds as raadgewer betrokke by 'n Kodesa-werkgroep (1992) en nog komitees oor menseregte en staatsreg.
Hy het in 2008 by die UJ afgetree.



















