Die BBP-lyfwagte van adj.pres. Paul Mashatile moet aan 'n volledige ondersoek onderwerp word ná 'n onsmaaklike voorval waarin hul brutaliteit wéér die grense van beheersde beskermingsoptrede oorskry het.
Sy lyfwagte het ook in Julie 2023 opslae gemaak toe lede van sy konvooi die insittendes van 'n ander voertuig op die N1-hoofweg in Johannesburg aangerand het.
In die jongste voorval, ironies genoeg om die ANC se verjaardagviering, is 'n man met 'n kind in sy arms tydens 'n huisbesoek in Khayelitsha in sy eie woning gestamp en gestoot.
Dat die parlementêre komitee vir polisie dié voorval gaan bekyk, is nie genoeg nie. Mashatile behoort self die voorval dringend na die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) te verwys.
Jy het nie uitsmyters by 'n nagklub nodig nie, maar doeltreffende beskermers wat met "sagte" vaardighede toegerus is.
Die adjunkpresident het verskoning gevra vir die voorval, wat hewige kritiek ontlok het, maar dit kan ook nie net daar eindig nie.
Die presidensiële BBP-beskermingseenheid is nie bo die reg en interne voorskrifte van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) verhewe nie.
Die SAPD se eie bygewerkte dissiplinêre regulasies maak juis voorsiening daarvoor dat 'n versnelde tugproses gevolg mag word waar growwe wangedrag ter sprake is, en daar is goeie rede om hierdie weg te volg.
Dis op sterkte van die video-getuienis bes moontlik 'n geval van wangedrag wat die beeld van die polisie nadelig raak of in oneer bring.
Dit is ook duidelik dat die keuring en opleiding van BBP-lyfwagte ondersoek en hersien moet word. Jy het nie uitsmyters by 'n nagklub nodig nie, maar doeltreffende beskermers wat met "sagte" vaardighede toegerus is om met minimum kragdadigheid 'n situasie te ontlont.
Die doel is altyd om die BBP so vinnig moontlik weg te neem van enige bedreiging en altyd met minimum geweld of vertoon.
Mashatile was nooit in enige gevaar nie, en daarom is hy nie uit die huis verwyder nie en het die BBP-wagte eintlik 'n politieke rol gespeel om die man - wat dit duidelik gemaak het Mashatile en sy ANC-huisbesoekers is nie welkom nie - 'n verleentheid te probeer spaar.
Op die ou end is Mashatile se verleentheid veel groter en die saak is nou in sý hande om op te tree.





















