Kommentaar: Hlophe-uitspraak ’n verleentheid vir die parlement

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die parlement het ongrondwetlik opgetree deur dr. John Hlophe as lid van die Regterlike Dienskommissie aan te stel, het die Wes-Kaapse hooggeregshof Maandag bevind.  Foto: Gallo
Die parlement het ongrondwetlik opgetree deur dr. John Hlophe as lid van die Regterlike Dienskommissie aan te stel, het die Wes-Kaapse hooggeregshof Maandag bevind. Foto: Gallo

Die parlement slaan hopelik deeglik ag op die uitspraak deur die hooggeregshof in Kaapstad dat dit ongrondwetlik was om dr. John Hlophe van die MKP as lid van die Regterlike Dienskommissie (RDK) aan te stel.

Die hof het benadruk dat die parlement 'n materiële regsfout begaan het deur aan te neem dat Hlophe se amp as LP en sy benoeming deur die MKP om in die RDK te dien, outomaties beteken het die parlement moet hom derhalwe aanstel om in hierdie posisie te dien.

Die RDK speel 'n deurslaggewende rol in die aanstelling van regters en om die integriteit van die regbank te beskerm en die blote insluiting van Hlophe sou die publiek se vertroue in die regbank fundamenteel geskend het en doeltreffendheid van die regbank ondermyn het. Dis vanselfsprekend.

Dié koerant het Hlophe se kandidatuur ook van meet af aan veroordeel en dit is te betreur dat daar hoegenaamd deur die hele regsproses gegaan moes word, aangesien die ANC-koukus (die MKP se politieke voorvader) gewoon te papbroekig was om Hlophe te stuit.

Die enigste rede hoekom Hlophe wel aanvanklik in die RDK gedien het, was dat die wetskrywers nooit die bisarre scenario voorsien het waarin 'n politieke party sou reken dis 'n blink plan om iemand wat as regter deur die RDK die trekpas gegee is, in die einste RDK (wat regters moet aanwys) te laat dien nie.

'n Skerp teregwysing van die parlement, wie se regsadviseurs die ANC se lamsakkige dwaasheid moes ondervang, is ook nodig. Die aansien van dié instelling is immers geskaad deurdat dit 'n hofbeslissing gekos het om 'n vanselfsprekende beginsel te bevestig.

Dié instelling - die oë en die ore van die kiesers - beter dringend sy sokkies optrek. Sedert oudhoofregter Raymond Zondo uitgewys het dat die wetgewer se werking so swak was dat hy aandadig aan staatskaping was, het bitter min gebeur om die parlement se werking te herbou tot dít wat die grondwetskrywers in gedagte gehad het.

Dit gaan politieke fokus en harde werk kos om drie dekades van verwaterde parlementêre demokrasie te begin omkeer. As dit nie gebeur nie, sal kiesers die regstelling by die stembus doen, want ons verdien beter.

SPELETJIES VANDAG

CTA