Kommentaar: Mkhwebane se arrogansie ken geen perke

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Adv. Busisiwe Mkhwebane, wat in 2023 uit die amp van openbare beskermer verwyder is. Foto: Gallo
Adv. Busisiwe Mkhwebane, wat in 2023 uit die amp van openbare beskermer verwyder is. Foto: Gallo

Geregtigheid het geskied toe adv. Busisiwe Mkhwebane, voormalige openbare beskermer (OB), nog 'n bloedneus in die konstitusionele hof gekry het in haar stryd om 'n R10 miljoen-gratifikasie van die kantoor van die OB te kry.

Dié hof het Vrydag eenparig Mkhwebane se aansoek om direk in dié hof te appelleer van die hand gewys omdat geen saak vir direkte appèl uitgemaak is nie. Te midde van al die finansiële verwoesting wat sy in haar termyn gesaai het, het sy nog die arrogansie om daarop aan te dring dat sy haar gratifikasie-uitbetaling kry én het die stryd tot die hoogste hof gevoer, waar sy toe noodwendig die einde van die doodloopstraat bereik het.

Mkhwebane, deesdae 'n EFF-LP, is in 2023 weens wangedrag en onbevoegdheid uit haar amp verwyder en het meer as R5 miljoen se "vrugtelose en verkwistende uitgawes" as OB aangegaan.

Dié bedrag het slegs betrekking op finansiële verliese wat die OB-kantoor gely het waarvoor sy nou in haar persoonlike hoedanigheid verantwoordelik en aanspreeklik gehou word. Dit behels onder meer luukse verblyf op die Bryntirion-landgoed in Pretoria, regskoste in verband met 'n lastereis wat sy teen die DA ingestel het en regskoste om Mkhwebane te verdedig in 'n strafsaak rakende beskuldigings van meineed.

Die finansiële skade is natuurlik nie tot die bogenoemde bedrae beperk nie, want die OB-kantoor het in die parlementêre ondersoek ná Mkhwebane se verwydering meer as R30 miljoen aan regskoste betaal, R330 000 aan reiskoste en R565 000 vir haar lyfwagte. Boonop is R147 miljoen van 2018 tot 2020 aan litigasie bestee, insluitend om tientalle halfgebakte verslae van Mkhwebane te verdedig.

Dié fortuin is baie naby aan wat op Nkandla verkwis is, maar dit is waarskynlik vir haar kleingeld omdat oudpres. Jacob Zuma, deesdae MKP-leier, volgens eie erkenning vir haar so 'n nastrewenswaardige voorbeeld is.

Die reputasieskade wat Mkhwebane aan haar waghond-amp aangerig het, kan nie in rand en sent weergegee word nie. Dit is helaas ook moeiliker om dié aansien en respek te herbou as om die kwistige uitgawes te herwin.

Mag dié besef adv. Kholeka Gcaleka, nuwe OB, onderskraag in haar vasberadenheid om Mkhwebane te laat betaal.

SPELETJIES VANDAG

CTA