Kommentaar

Kommentaar: Regering span kar voor perde in met dobbelbelasting

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die tesourie het verlede week ’n voorlopige gespreksdokument oor nasionale dobbelbelasting gepubliseer en sê dit sal R10 miljard in bykomende inkomste tot die nasionale regering bydra.
Die tesourie het verlede week ’n voorlopige gespreksdokument oor nasionale dobbelbelasting gepubliseer en sê dit sal R10 miljard in bykomende inkomste tot die nasionale regering bydra. (Foto: Beeld)

Die tesourie se voorstel dat aanlyn dobbelplekke 20% van hul bruto inkomste aan belasting opdok is om die kar voor die perde te span.

Dit is ook onduidelik hoe dit die verslawings­krisis in die land sal pak, wat die tesourie sê sy motief vir die stap is.

Die tesourie het verlede week ’n voorlopige gespreksdokument oor nasionale dobbelbelasting gepubliseer en sê dit sal R10 miljard in bykomende inkomste tot die nasionale regering bydra.

Die hoofdoel van die ingryping met belasting is nie die bykomende inkomste nie, maar “om die impak van dobbel op die samelewing te ontmoedig”.

Die olifant in die vertrek is dat aanlyn dobbel in Suid-Afrika onwettig is en dus nie gereguleer word nie, en die regering nou al etlike jare voete sleep om sy sake in orde te kry.

Bestaande wetgewing – die Nasionale Dobbelwet van 2004 – het nie tred gehou met ongekende tegnologiese vooruitgang nie. Die Nasionale Dobbelwysigingswet van 2008, wat bedoel was om aanlyn dobbel nasionaal te beheer, is nooit geproklameer nie, terwyl die voorgestelde Afstandsdobbelwet van 2024 nog by die parlement lê.

’n Hofuitspraak van die appèlhof het so onlangs soos Oktober bevestig dat aanlyn casino’s en weddenskap-operateurs nie interaktiewe dobbelspeletjies en ander vorms van aanlyn dobbel mag aanbied nie.

Die tesourie is reg dat dobbelary ontmoedig moet word, veral weens die groot risiko vir verslawing en die maatskaplike probleme wat daarmee gepaardgaan. Navorsing toon boonop dat Suid-Afrikaners toenemend dobbel om lewenskoste te dek en selfs toelae van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) en die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) daarvoor gebruik.

Ingryping om die wegholtrein te stop is dus inderdaad noodsaaklik, maar die regering se eerste taak is om wetgewing op datum te kry. Die voorgestelde Afstandsdobbelwet maak juis voorsiening vir die beskerming van minderjariges en kwesbare mense, sowel as beperkings op die bedrae wat bestee word, ’n verbod op krediet en die regulering van dobbel-advertensies.

Dit is reeds ’n groot stap in die regte rigting.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM