Kommentaar

Kommentaar: Tienerma’s se stigma is klad op die samelewing

Volgens die departement van gesondheid het meer as 130 tienerma’s op Kersdag babas gehad teenoor 90 op 25 Desember 2024.
Volgens die departement van gesondheid het meer as 130 tienerma’s op Kersdag babas gehad teenoor 90 op 25 Desember 2024. (Foto: Toqan-KI)

Elke jaar dié tyd word Kers- en Nuwejaarsbabas in die media verwelkom. Ongelukkig is nie almal van hulle ewe welkom nie.

Volgens die departement van gesondheid het meer as 130 tienerma’s op Kersdag babas gehad teenoor 90 op 25 Desember 2024.

Die syfer vir Nuwejaarsdag het verdubbel tot meer as 160.

In die Oos-Kaap was daar ’n 12-jarige wat die lewe aan ’n Kersbaba geskenk het.

Volgens Statistieke SA was daar in 2024 meer as 98 000 meisies van 19 jaar en jonger wat kinders in die lewe gebring het. Van hulle was 2 103 tussen 10 en 14 jaar oud.

Die Teddy Bear-stigting, wat steun aan mishandelde kinders bied, sê: “Agter baie van daardie getalle lê verkragting, statutêre verkragting, bloedskande, dwang en uitbuiting.”

Natuurlik het die baba se ouers in sommige gevalle wel self die besluit geneem, maar kragtens wet tel dit nie as iemand onder 16 jaar oud tot seks instem nie. Daarom word dit as statutêre verkragting beskou.

Die misdaadslagoffer in al hierdie gevalle is nie net die ma nie, maar ook haar kind.

Die risiko vir gesondheidskomplikasies is groter.

Die tienerma gaan die skool heel moontlik voortydig moet verlaat en aan stigma en armoede onderworpe wees. Die baba loop die risiko om sonder ’n pa groot te word en ook in die kringloop van armoede verstrik te raak.

Die Kinderinstituut aan die Universiteit van Kaapstad het ’n paar jaar gelede bevind dis ’n mite dat tieners swanger raak ter wille van die kindersorgtoelae. Die hoë voorkoms van tienerswangerskappe is ’n verskynsel wat al van voor die instelling van dié toelae kom. Die vroeë en voortgesette ontvangs van die toelae word trouens geassosieer met verminderde seksuele aktiwiteit onder tieners, het die navorsers bevind.

Met die ontvangs van die Nobelprys vir vrede in 1993 het Nelson Mandela gesê kinders is die kwesbaarste burgers in die samelewing én die kosbaarste. Later het hy gesê niks wys so duidelik hoe ’n samelewing se siel lyk as die manier waarop hy sy kinders behandel nie.

Dít is woorde wat ons in 2026 opnuut ter harte moet neem en tot uitvoering bring.

CTA