Kommentaar

Kommentaar: Weermagdag se koste is onverdedigbaar

Angie Motshekga, minister van verdediging, behoort ag te slaan op protes teen die buitensporige koste van die viering van “Weermagdag”.
Angie Motshekga, minister van verdediging, behoort ag te slaan op protes teen die buitensporige koste van die viering van “Weermagdag”. (Netwerk24)

Angie Motshekga, minister van verdediging, behoort ag te slaan op protes teen die buitensporige koste van die viering van “Weermagdag” – ’n verbluffende R372 miljoen.

Gegewe die haglike toestand van die weermag en nypende begrotingstekorte in elke bestedingsportefeulje van die regering, is dié uitgawe gewoon onverdedigbaar.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het bitter min om te vier, want sy verhaal van sistemiese agteruitgang strek veel wyer as net vrot wapentuig.

Sowat 70% van die begroting word aan werknemers bestee, terwyl slegs twee van 26 Gripen-vliegtuie operasioneel is en die vloot net een fregat het wat gebruik word, met geen operasionele duikbote tot sy beskikking nie. Boonop neem ongemagtigde uitgawes net toe.

Opeenvolgende ministers van verdediging kla steen en been oor die onderfinansiering van die weermag en die risiko’s van nypende geldtekorte, maar doen niks om wanbestuur en verkwisting te stuit nie. In 2023 het die ouditeur-generaal byvoorbeeld daarop gewys dat die departement van verdediging meer as R120 miljoen per jaar vermors op die opleiding van mediese studente in Kuba teen meer as dubbel die plaaslike koste.

Die verval van die weermag is reeds in 2015 in besonderhede vervat in die regering se eie verdedigingsoorsig. Van die bloudruk om die weermag stelselmatig met groeiende begrotings te herskik, uit te brei en toerusting en krygstuig te moderniseer, het in ’n dekade dadels gekom. Geen enkele mikpunt is bereik nie. Die beleid – in vele opsigte onrealisties – kon netsowel nie bestaan het nie.

Tot dusver het Motshekga as (nie meer so) nuwe minister van verdediging bloedweinig erns met die saak getoon. Intussen sneuwel Suid-Afrikaanse soldate in sendings in die buiteland weens ’n ondergefinansierde weermag met te min hulpbronne, swak beheer-en-bevel en gebrekkige lugsteun.

Te midde van sterk aanduidings dat die weermag nie meer sy grondwetlike verdedigingsplig kan nakom nie, is “Weermagdag” geen viering nie – dis ’n klap in die gesig van elke weermaglid en elke belastingbetaler. As opperbevelvoerder van die SANW behoort pres. Cyril Ramaphosa summier ’n stokkie daarvoor te steek.