In 'n onthutsend eerlike onderhoud kort nadat hy as Johannesburg se burgemeester oorgeneem het, het Dada Morero inwoners gewaarsku om nie enige groot verbeteringe in sy termyn te verwag nie.
Noudat hy al vier maande in die tuig is, kan Johannesburgers met 'n rein gewete getuig: Dada is 'n man van sy woord.
Chroniese water- en kragprobleme teister die stad. Die slaggate word al hoe groter. En die rommel hoop steeds op.
Die omvang van die krisis word weerspieël in die Goudstad se eiendomswaardasies. Business Day het die afgelope week berig dat huispryse in Johannesburg tot 2010-vlakke teruggesak het - oor alle marksegmente heen.
Jonathan Kohler, die uitvoerende hoof van Landsdowne Property Group, sê infrastruktuurverval is een van die groot dryfvere van die daling.
Jare van wanfunksionele plaaslike regering eis nou sy tol, met spesifiek die ANC en die EFF se onheilige alliansie wat Johannesburg groot skade berokken het. Nadat hulle die DA-burgemeester Mpho Phalatse net minder as twee jaar gelede met 'n mosie van wantroue uit die kussings gelig het, het Panyaza Lesufi, Gautengse premier, die plan bedink om 'n marionet-burgemeester uit een van die metro se kleiner partye aan te stel - sodat die twee groot bere nie te erg baklei oor die toppos nie.
Die keuse het geval op Thapelo Amad van Al Jama-ah geval, 'n muggie-party wat skaars 1% van Johannesburgers se stemme kon inoes in die plaaslike verkiesing van 2021. Dit het gou duidelik geword dat die nuweling heeltemal onbekwaam is.
In Augustus vanjaar het hy genoeg van 'n verleentheid geword dat pres. Cyril Ramaphosa hom persoonlik gevra het om te bedank.
Sy kleitrappery in TV-onderhoude en sy pro-Hamas-plasings op sosiale media het sy koalisievennote laat bloos. Net drie maande nadat die burgemeestersketting om sy nek gehang is, is Amad gedwing om op sy swaard te val.
Sy opvolger was nog 'n liggewig-lid van Al Jama-ah, Kabelo Gwamanda. Hy het die burgemeesterstoel bestyg ten spyte van bewerings dat hy inwoners van Soweto meer as 'n dekade gelede met 'n begrafnispolisskema bedrieg het.
In Augustus vanjaar het hy genoeg van 'n verleentheid geword dat pres. Cyril Ramaphosa hom persoonlik gevra het om te bedank. Dit het tot die verkiesing van Morero, 'n ANC-lid, gelei, maar daar was steeds 'n knus plekkie vir Gwamanda in sy regering, as burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsontwikkeling.
Twee maande later is Gwamanda uiteindelik deur die Valke gearresteer weens sy beweerde bedrogspul met die begrafnispolisse.
Die saak wat sy doppie geklap het, is in Januarie vanjaar oopgemaak deur 'n vrou wat 12 jaar gelede 'n begrafnispolis by Gwamanda se maatskappy, iThemba Lama Afrika, uitgeneem het.
Toe sy later die firma se kantore in Soweto gaan besoek het, was Gwamanda en sy meelopers skoonveld.
Maar toe sien hulle hom eendag op TV - as die burgemeester van Johannesburg.
"Sy het haar eie ondersoek begin en ander slagoffers opgespoor," lui 'n verklaring van die polisie.
"Daar is aan haar gesê dat die twee direkteure hul eie lewe geneem het nadat hulle nie beleggers se geld kon terugbetaal nie."
Die vrou en haar medeslagoffers was vas onder die indruk dat Gwamanda dood is. Maar toe sien hulle hom eendag op TV - as die burgemeester van Johannesburg.
Dit alles sou die draaiboek vir 'n prettige klug kon wees, behalwe dat dié narrespul die welstand van die land se ekonomiese enjinkamer bedreig.
Met hul politieke speletjies en hul verspotte burgemeesters wys die ANC en die EFF presies hoe min hulle van die Goudstad se inwoners dink. Oor 18 maande kry Johannesburgers die kans om terug te praat wanneer die munisipale verkiesing van 2026 gehou word.
Kom ons hoop hulle gryp dit aan.




















