Lesers sê

Dié binnelandse sake kan maar sluit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

M.L. Rossouw, Panorama

Ek ondersteun Deon van Riebeeckshof (14.10) se klagtes oor die binnelandse-sake-kantoor in Tygervallei ten volle.

Ek en my man is bejaard en moes vandeesweek onder meer aansoek doen vir die nuwe ID-kaart. Ons het besluit om na binnelandse sake se nuwe kantore in Tygervallei te gaan om tyd te spaar en goeie diens te ervaar.

’n Deurwag keer ons voor en deel ons mee dat ons ’n afspraak moes maak vir die voorreg om die kantoor binne te gaan. Baie teleurgesteld moes ons omdraai.

“Huis toe!” bulder my man.

“Nee, kom ons gaan na die Bellville-kantore,” sê ek skril.

Al tandeknersende kry ons rigting na ons tweede keuse.

Ons kry gou ’n parkeerplek in Voortrekkerweg. Dit is net ná 14.30. Die man by die deur sê dis ’n bietjie laat vir ’n ID, maar ek hou my hardhorende. Ná onderhandeling met een van sy kollegas laat hy ons ingaan.

Ons is oral vriendelik ontvang en vinnig gehelp. Uitstekende diens by elke toonbank. Geen teken van onbevoegdheid nie.

Toe ons klaar die aansoek ingehandig het, met die fotonemery en betaling afgehandel, word ons na die eerste vloer verwys vir ’n tydelike ID.

Daar het alles net so glad verloop. Al die werknemers was vriendelik en gereed om te help.

Ons het my man se tydelike ID binne 20 minute gekry.

Die kantoor in Tygervallei sal almal ’n guns bewys as hy sy deure sluit – vir altyd. Eerder geen diens as slegte diens.

Welgedaan, binnelandse sake in Bellville! Julle het ons dag mooi laat uitdraai.

lesersbrief

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM