Lesers sê

REPLIEK | As volgelinge in vreemde tale begin spreek

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dr. George Claassen
Dr. George Claassen

Dr. Lindie Koorts se rubriek in Die Burger(04.06) oor objektiwiteit wat volgens haar herbekyk word, verhef ongelukkig die reeds lankal gediskrediteerde postmodernisme bo die kragtige wetenskaplike metode en werkwyse wat op bewyse gegrond is, skryf dr. George Claassen.

Tussen 2002 en 2008 het ek as wetenskapredakteur in artikels in Die Burger en Beeld reeds gewys op die sosiale wetenskappe se obsessie met en aanbidding by die krip van Jacques Derrida, vader van die postmodernisme, en gevra of dit nie, in die lig van wetenskaplike ontdekkings, finaal tot 'n einde behoort te kom nie.

Sosiaal wetenskaplike fakulteite van universiteite hang wêreldwyd steeds aan Derrida se lippe, al is hy al in 2004 oorlede. Op sy besoek twee dekades gelede aan Suid-Afrika het hy in stampvol sale opgetree en in Stellenbosch studente en dosente laat oe! en aa! oor sy teorieë. Hy word Messiaans aangehang en uiterste pogings deur sy navolgers word aangewend om die natuurwetenskappe se werkmetode van kritiese ontleding van feite, herevaluering en voortdurende herbedink van teorieë verdag te maak.

Dr. Lindie Koorts
Dr. Lindie Koorts

So vertel sommige dosente in dié vakdissiplines aan hul studente dat alle uitsprake, of dit nou in die wetenskap of letterkunde is, net verhale is, soos stories en mites bloot die kulturele vooroordele van die verteller weergee, treffend aangetoon deur die fisikus Victor Stenger in sy boek The Unconscious Quantum: Metaphysics in Modern Physics and Cosmology.

‘Vlymskerp fopartikel'

Dis vreemd dat, ondanks die skandes wat oor postmodernistiese denke gekom het sedert die fisikus Alan Sokal in 1996 sy vlymskerp fopartikel suksesvol geplaas gekry het in die vaktydskrif Social Text, niks in wese in die geesteswetenskaplike denkprosesse van heelparty dosente verander het nie.

Sokal het 'n gefabriseerde artikel met die titel "Transgressing the boundaries: towards a transformative hermeneutics of quantum gravity" geplaas gekry in Social Text wat 'n groot verleentheid was vir sosiaalwetenskaplikes, veral omdat dit hul kunsmatig gedrewe en obskure vakwetenskaplike taal en oppervlakkige kennis van wetenskapsbeoefening skerp blootgelê het.

Sokal het met die sak patats vorendag gekom, maar dis veral die absurde verduidelikings en verskonings wat die redakteur en ander "wetenskaplikes" probeer opdis het wat die postmodernistiese napratery en gebrabbel verder blootgelê het.

Dié intellektuele swendelary het weer onder die soeklig gekom toe Richard Dawkins se bundel essays en artikels, A Devil's Chaplain: Selected Essays by Richard Dawkins, onder redakteurskap van Latha Menon en Francis Wheen se How Mumbo-jumbo Conquered the World - a Short History of Modern Delusions gepubliseer is. Een van die insiggewendste dele onder die sambreelhoofstuk met die gepaste titel "Sense and sensibility" is Dawkins se resensie van Sokal en Jean Bricmont se boek Intellectual Imposters, wat in 1998 ook as Fashionable Nonsense in Amerika gepubliseer is.

"Sê nou jy is 'n intellektuele swendelaar met niks om te sê nie, maar met sterk ambisies om suksesvol te wees in die akademiese lewe en wat 'n kliek aanbiddende dissipels om jou vergader en studente wat oor die wêreld heen jou bladsye salf met respekvolle geel glim-penmerke. Watter soort literêre styl sal jy beoefen?" vra Dawkins in sy Nature-artikel met die opskrif "Postmodernism disrobed".

"Nie 'n deursigtige styl nie, beslis nie, omdat helderheid jou gebrek aan inhoud sal verraai."

‘Vernietigende blootlegging'

Sokal en Bricmont - destyds onderskeidelik hoogleraars in fisika en wiskunde aan die Universiteit van New York en van Leuven - se boek bevat talle voorbeelde van die soort denke wat deesdae blom in geesteswetenskaplike fakulteite waar obskure taalgebruik die voorkeur geniet, nee, eintlik die letter van die wet is. Dawkins gee 'n aantal in sy resensie van Sokal en Bricmont se vernietigende blootlegging van postmodernistiese newspeak, waarvan die komieklikste duisterpraat seker die beskrywing/omskrywing van 'n manlike ereksie deur Jacques Lacan, een van die mees gerespekteerde name in geesteswetenskaplike fakulteite aan Amerikaanse en Britse universiteite, en ongelukkig ook plaaslik, is: ". . . dit (die manlike ereksie) is gelyk aan die v-1 van die signifikasie hierbo ontwikkel, van die jouissance wat dit herstel deur die koëffisiënt van sy stelling tot die funksie van 'n tekort aan aanduider (-1)."

Dawkins se antwoord daarop is: "Ons het nie die wiskundige kundigheid van Sokal en Bricmont nodig om ons te verseker dat die skrywer van dié stof 'n vervalsing is nie. Dalk is hy eg wanneer hy praat oor niewetenskaplike onderwerpe? Maar 'n filosoof wat die manlike ereksie vergelyk met die vierkantswortel van minus een, het myns insiens sy geloofwaardigheid verkwansel as dit by dinge kom waarvan ek niks weet nie."

‘Seksbelaaide vergelyking'

Sokal en Bricmont wy 'n hele hoofstuk aan die feministiese "filosoof" Luce Irigaray se beskuldiging dat Einstein se vergelyking wat die relatiwiteitsteorie beskryf, E=mc², 'n "seksbelaaide vergelyking" is. Hoekom? Omdat "dit die snelheid van lig voortrek bo ander snelhede wat lewensnoodsaaklik vir ons is," aldus Irigaray. Dit sluit aan by 'n ander berugte feministiese beskrywing wat Newton se meesterwerk, Principia Mathematica, 'n "handleiding tot verkragting" noem.

Dawkins vertel van 'n rekenaarprogram deur Andrew Bulhak van Melbourne wat bekend staan as die Postmodernism Generator. Elke keer wanneer jy dit besoek by elsewhere.org/cgi-bin/postmodern/, sal dit spontaan vir jou 'n splinternuwe postmodernistiese artikel genereer, in foutlose grammatika.

Wheen noem Derrida en sy dekonstruksie-pionierkollegas, Lacan, Roland Barthes, Louis Althusser en Michel Foucault, die "demolition merchants of reality".

Hy beskryf die postmodernistiese denke se slagoffers as "those who could not recite the post-modern shibboleths. Even a don sympathetic to Derrida admitted that ‘deconstruction, which began as a heresy, soon turned into dogma, and hardened into a theology, sustained by a network of evangelists and high priests and inquisitors'. The Vatican of this new creed was Yale University, where the three ‘boa-deconstructors' Jacques Derrida, Paul de Man and J. Hillis Miller reigned as pontificating pontiffs, but the papal jurisdiction extended far beyond their own department of comparative literature."

‘Duister woorde'

En dan betaal studente se ouers elke jaar duisende rande om hul kinders steeds met sulke postmodernistiese bog te laat vul - asof wetenskaplike bewyse nie bestaan nie of maar na willekeur geïgnoreer kan en mag word.

Dit terwyl hul aanvalle op die wetenskap (dink maar aan pres. Donald Trump se program) nie die werklikheid van swaartekrag, die tweede wet van termodinamika, relatiwiteit en evolusie, klimaatsverandering en die waarde van bewese voordele van inentings (die tragiese fiasko in Amerika tans met die dodelike masels-uitbreking) sal verander nie, al wil jy dit hóé kamoefleer in duister woorde.

• Dele van dié artikel is opgeneem in dr. George Claassen se boek Geloof, bygeloof en ander wensdenkery - perspektiewe op ontdekkings en irrasionaliteite. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

George Claasen

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM