Bootjie, Mosselbaai
As ’n groot sportentoesias en trotse Suid-Afrikaner is ek baie opgewonde en trots as ons sportspanne goed presteer op die internasionale verhoë.
Ek is egter nie baie opgewonde oor Bafana Bafana se kwalifikasie vir die Wêreldbeker-skouspel nie. Ek moet seker kwalifiseer.
Dit is seker al nasionale sportspan waar sogenaamde kwotas nie geld nie (die ou, holruggeryde beswaar). En moenie dink daar is nie genoeg en goeie wit spelers beskikbaar nie.
Baie van ons ander sportspanne moes in die begin maar tevrede wees daarmee om spelers wat nie op standaard was nie, te gebruik om aan die vereistes van regstelling te voldoen.
Dis ook reg so, want deesdae is van ons voorste sportspanne ten volle getransformeer en wêreldkampioene. Waarom kan sokker nie dieselfde pad loop nie?
Wat ’n mens egter verder teleurstel, is ons president se oor-opgewondenheid op sosiale media en selfs op die nasionale televisienuus. Hy kon sy blydskap nie verbloem nie.
Reg ook so, maar hulle het maar nog net gekwalifiseer en is nog nie wêreldkampioene nie.
Ek mag verkeerd wees, maar waar was sy oorstelptheid van vreugde met ons wêreldkampioene se prestasies? Rugby, krieket, Dricus du Plessis, ons swemmers, ons atlete, ons landlopers, ensovoorts. Hang ons president se onderrok dalk uit?


















