Lesers sê

Trump: Gee gerus voorbeelde

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Pres. Donald Trump
Pres. Donald Trump (Foto: Getty Images)

Tom Ferreira, Kaapstad, skryf:

Ek het my byna ’n papie gelag vir G. Stander van Danabaai se brief (“Verdraaiings, veralgemenings oor Trump”, 08.10), veral oor sy verwysing na pres. Donald Trump van Amerika se “uitstekende toesprake”.

Ek sal dit waardeer as die skrywer ’n voorbeeld kan gee van so ’n “uitstekende toespraak” of selfs net ’n uitstekende paragraaf. Intussen verskaf ek graag twee voorbeelde van sy “uitstekende” stellings (verbatim in Afrikaans vertaal).

Op ’n vraag van Fox News wat die betogers van hom (Trump) dink, het hy hom as volg uitgelaat:

“Betogers om verskillende redes. Jy betoog ook omdat, jy weet, hulle net nie geweet het nie. Ek het gekyk – ek het baie noukeurig gekyk. Hoekom is jy hier? Hulle kon regtig nie sê nie, maar hulle was daar vir ’n rede, miskien.

“Maar baie van hulle was daar omdat hulle die skare volg. Baie van hulle was daar omdat wat ons gesien het, ’n verskriklike ding was. Wat ons gesien het, was ’n verskriklike ding. En ons het dit oor jare gesien. Ons het dit nie oor die jare gesien nie. Ons het nie, jy weet, dit was ’n verskriklike voorbeeld, maar jy het ander verskriklike voorbeelde gesien. Jy weet dit beter as enigiemand wat dit sou weet. En ek weet dit. Ek het dit ook gesien. Ek het dit gesien voordat ek president was. Ek het dit gesien, ek dink dit is ’n skande.”

Oor uraan het die stabiele genie hierdie haas uit die hoed getrek:

“Julle weet wat uraan is, reg? Dit is hierdie ding wat kernkrag genoem word, en ander dinge, soos talle dinge word gedoen met uraan, insluitende slegte dinge.”

Daar het jy dit uit die perd se bek.

Ten slotte, Trump se interessante aanspraak dat die pryse van farmaseutiese middels met tot 1 200% gedaal het sedert hy die septer begin swaai het. Gegewe dat ’n produk gratis sal wees indien dit 100% goedkoper is, beteken dit dat ’n verskaffer sy klante ’n stewige bedrag sal moet betaal indien hulle sy produk teen 1 200% goedkoper aanskaf.

Mnr. Stander en ander Trump-aanhangers mag dalk dink Trump se toesprake is uitstekend, maar ek dink dit is pure covfefe.

tom ferreira, kaapstad

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM