Menings

Charles Smith: Die oorlogspeurder van Matottoland

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
20250621 NETWERK24 Charles Smith
20250621 NETWERK24 Charles Smith (Netwerk24)

Nico Moolman (77), skrywer, historikus en versamelaar van gedenkwaardighede en ou foto’s, is Maandag oorlede. Charles Smith bring hulde aan ’n besonderse mens en vertel hoe hy aan die storie van Susan Nell in sy boek ‘The Boer Whore’ gekom het, wat hom bekend gemaak het.

Iewers in die vroeë oggendure op 18 Augustus 2022 kry ek ’n stemboodskap van Nico Moolman, wat ’n goeie bron van stories vir my was, met dié woorde by: “Oom Jan Landman. Verkenner van genl. Botha.”

Waar hy dié kosbare gesprek gekry het, het hy nie laat blyk nie, maar dit was goud werd. Soos al die duisende foto’s in sy versameling, sy stories en nuuswenke oor die jare.

Die foto van Bloemfontein uit die 1920’s is een van die laaste ou foto’s wat Nico Moolman op sy Facebook-profiel geplaas het. Hy skryf hierby: “Skuins oorkant G.A. Fichardt se Algemene Negosie-bedryf in die laat 1920’s. Hier kan nog ’n perdekar in die straat met die ou Ford- en Chev-karre gesien word. Die Fichardt-winkel is agter met die ronde toring. Links is die Bryers- en Champions-winkels. Die Fichardts is een van Bloemfontein se oudste gesinne en die plaas Brandkop wes van die stad is steeds in die familie se besit.”
Die foto van Bloemfontein uit die 1920’s is een van die laaste ou foto’s wat Nico Moolman op sy Facebook-profiel geplaas het. Hy skryf hierby: “Skuins oorkant G.A. Fichardt se Algemene Negosie-bedryf in die laat 1920’s. Hier kan nog ’n perdekar in die straat met die ou Ford- en Chev-karre gesien word. Die Fichardt-winkel is agter met die ronde toring. Links is die Bryers- en Champions-winkels. Die Fichardts is een van Bloemfontein se oudste gesinne en die plaas Brandkop wes van die stad is steeds in die familie se besit.” (Foto: Nico Moolman-argief)

Oom Landman se stem trek jou terug tot binne-in die Anglo-Boereoorlog (ABO), waarvan Moolman ’n kenner en ’n versamelaar was. Hy het nie soos ander versamelaars noodwendig peperduur gedenkwaardighede aangekoop nie, vir hom was die storie agter die ou items waardevol.

Soos dié juweel wat hy op WhatsApp oor genl. Louis Botha se verkenner aangestuur het presies drie jaar voor sy dood.

Ek luister weer daarna en is versot op die ou blikkerige Afrikaans van dié oudstryder. Die vraag aan Landman – die onderhoud moes in die jare 1950’s of 1960’s gevoer gewees het – was of hy ook by die Slag van Holkrans die aand van 6 Mei 1902 in Zoeloeland in die ABO was en hy vertel hoe hy gelukkig was om dié moord op 52 Boere deur Zoeloe-impi’s te oorleef het. Die impi’s het die slapende kommandolede onder bevel van veldkornet Jan (Mes) Potgieter in Holkrans, naby Vryheid in KwaZulu-Natal, oorval en almal uitgemoor.

“Genl. Botha stuur vir my en ’n maat, Gert de Jager, met ’n boodskap na genl. Myburgh toe. En ons kom daar aan so drieuur die middag. Toe saal ons af, die Boere het daar vleis gebraai,” vertel die oom, wat toe al bejaard moes gewees het.

“Toe sê Potgieter, hy was familie van my, ons moet die aand daar bly. Toe sê ek nee, ons sal dit nie doen nie. Genl. Botha vertrou my en hy het gesê ek moet vanaand middernag vertrek nadat ek die rapport vir genl. Myburgh gegee het. Toe het ons opgesaal en gery en dieselfde nag is hulle vermoor.”

‘The Camp Whore’

Ek het Moolman iewers rondom 2010 by die Oorlogmuseum in Bloemfontein ontmoet. Ek dink Johan van Zyl, senior navorser, het my van hom vertel en gesê hy dink die boek waarmee Moolman besig is, is ’n baie interessante storie.

’n Profiel-artikel met Nico Moolman is op 19 Augustus 2022 in ‘Volksblad’ gepubliseer. Hier is van sy foto’s uit sy versameling geplaas soos die ingekleurde foto van genl. C.R. de Wet ná die Anglo-Boereoorlog (ABO) in Kroonstad. Links van hom is kmdt. R.W. de Vos en regs is veldkornet Alfred Lester Thring. Die Thring-broers, Alfred en Frederick, nasate van Britse immigrante na Suid-Afrika, het in die ABO aan verskillende kante geveg – Alfred, ’n inwoner van Kroonstad, het vir die Boere geveg en Frederick aan Britse kant. Daar was ’n winkel Thring & Co. in Kroonstad.
’n Profiel-artikel met Nico Moolman is op 19 Augustus 2022 in ‘Volksblad’ gepubliseer. Hier is van sy foto’s uit sy versameling geplaas soos die ingekleurde foto van genl. C.R. de Wet ná die Anglo-Boereoorlog (ABO) in Kroonstad. Links van hom is kmdt. R.W. de Vos en regs is veldkornet Alfred Lester Thring. Die Thring-broers, Alfred en Frederick, nasate van Britse immigrante na Suid-Afrika, het in die ABO aan verskillende kante geveg – Alfred, ’n inwoner van Kroonstad, het vir die Boere geveg en Frederick aan Britse kant. Daar was ’n winkel Thring & Co. in Kroonstad. (Foto: Argief)

Moolman het gelyk soos ek my die Boere-profeet Siener van Rensburg sou voorstel – ’n groot man met ’n spierwit baard en ’n stem soos ’n oudstryder. Die storie wat hy my dié dag oor Susan Nell vertel het, het my hoendervel gegee.

Nell, ’n tienermeisie wat op ’n grusame wyse deur Britse offisiere in die Winburg-konsentrasiekamp verkrag en vir dood op die skotskar gegooi is – vol lyke van Boerevroue en -kinders – onderweg na die begraafplaas, se storie ken die meeste mense. Maar min mense weet waarskynlik hoe Moolman aan haar verhaal gekom het wat hy in The Boer Whore vertel het.

Nadat die boek verskyn het, het ek aan my broer Francois vertel dit is gerus ’n boek wat hy as boekeredakteur by Tafelberg aan die uitgewer kan noem om in Afrikaans te vertaal. My gevoel was dat die storie in Engels nie heeltemal tot sy reg kom nie, al het Moolman gemeen die Engelse behoort te lees wat hier in hul naam in die Vrystaat gebeur het. Die res is geskiedenis. Francois se Kamphoer was ’n reusesukses en is daarna ook in Engels en Nederlands vertaal. Daar is ’n filmregte vir albei boeke verkoop, maar die maak daarvan het nog nie van die grond af gekom nie.

Moolman het ’n maand of twee voor sy dood gebel en gevra of ek ons besoek ná die eerste artikel oor sy boek aan Winburg kan onthou, waar hy vir my die graf van Alice Draper gaan wys het.

Nell se verhaal

Nell het Nuwejaarsaand 1902 hul tent in die Winburg-konsentrasiekamp verlaat om vir haar medisyne te gaan soek, het Moolman vertel. Sy is deur die hanskakie CP Schutte van Heilbron gevang en aan dronk Britse offisiere oorhandig wat haar wreed verkrag en vir dood agtergelaat het. Sy het egter oorleef en is deur ’n Sotho-egpaar wat op haar afgekom het, versorg totdat sy op ’n trein na Kaapstad gesmokkel is.

Ek kon dit onthou, het ek vir hom gesê.

“Daar is steeds mense wat my storie bevraagteken,” het Moolman effens moedeloos gesê. Dié dag was sy vriend wat saam met hom in die Ooste was by. Hy sou die storie kon bevestig, maar is intussen oorlede.

Moolman het in die heel eerste ontmoeting vertel hoe hulle op ’n besoek aan Hongkong met mekaar in die hotel se hysbak gesels het en toe hulle uitklim, het ’n vrou omgedraai en vir hom gevra: “Het julle met mekaar Afrikaans gepraat?”

“Ja, ons is Afrikaners,” het Moolman vir die vrou gesê. Hy het vertel hy is ’n geskiedkundige en ’n skrywer en is juis in Hongkong vir navorsing. Sy boeke het hy ook as privaat uitgewer in China laat druk.

“Ek wil jou die storie van my ma vertel,” het die vrou gesê. Sy was Nell se pleegkind uit die tyd toe sy in die 1950’s in die Ooste met oorlogslagoffers gewerk het.

Nell het uit Suid-Afrika na Nederland verhuis, waar sy haarself in die sielkunde bekwaam het en in die Eerste Wêreldoorlog onder Britse soldate gewerk wat aan posttraumatiese stresversteuring gely het. In die Seale Hayne- psigiatriese hospitaal in Devon het sy kol. Henry Hamilton-Peake, een van haar verkragters in die Winburg-konsentrasiekamp, raakgeloop, wat ’n pasiënt by die hospitaal was.

Nell het een van die wêreld se eerste vroulike psigiaters geword en toe ’n kampvegter vir die lot van vroulike slagoffers van die Japannese “comfort women” in die Tweede Wêreldoorlog geword.

Moolman het tyd gemaak om met die vrou onderhoude te voer en só is die verhaal van Nell se stryd vir geregtigheid gebou. Tot met sy dood het hy steeds geworstel daarmee dat daar mense was wat Nell se dood as fiksie beskou het.

Nico Moolman wys in Augustus 2014 van sy artefakte uit die Anglo-Boereoorlog.
Nico Moolman wys in Augustus 2014 van sy artefakte uit die Anglo-Boereoorlog. (Foto: Argief)

Die ontdekking van ’n grot in ’n koppie buite Winburg waar Nell deur Tiisetso en Mamello – haar twee Sotho-redders – versorg sou kon wees, was vir hom nóg ’n bewys dat die storie nie fiksie was nie, maar die waarheid.

Die afskeid

Oor die jare sou ek gereeld oor Moolman se boeke en stories skryf. Hy en sy vrou, Naomie, het na Utrecht verhuis, waar hulle die Buskruit & Laventel-museum begin het. Stories soos dié van die Ierse soldaat lt. William Michael Joseph White, wat op die plaas Erfhoek, Smithfield, doodgeskiet is. En van ’n viool wat in die ABO op ’n Vrystaatse plaas begrawe is, wat dalk, net dalk, ’n beroemde Stradivarius kon wees. Die etiket binne die viool lui: Stradivarius Rex, Cremona 1730.

’n Foto uit die Anglo-Boereoorlog (ABO) wat spesiaal vir Nico Moolman se boek ‘Dankie, Generaal: Op die spoor van ’n oorlogspeurder’ ingekleur is. Dit is van Engelse soldate by die voorraaddepot op Ladysmith met een soldaat wat speels onder deur ’n perd loer.
’n Foto uit die Anglo-Boereoorlog (ABO) wat spesiaal vir Nico Moolman se boek ‘Dankie, Generaal: Op die spoor van ’n oorlogspeurder’ ingekleur is. Dit is van Engelse soldate by die voorraaddepot op Ladysmith met een soldaat wat speels onder deur ’n perd loer. (Foto: Nico Moolman-argief)

Ons het nou en dan gesels en mekaar se foto’s op Facebook bewonder. Mense soos Nico Moolman, met sy liefde vir ou goed, kennis van die geskiedenis en sy skatkis aan foto’s en gedenkwaardighede, is skaars. Hy het dit graag gedeel.

Ek gaan dié oorlogspeurder, soos hy gedoop is, baie mis. Ek glo hy gaan genl. Jan Smuts, een van sy helde, raakloop vir die groot gesels wat hulle nie in hierdie lewe kon gesels nie.

• Moolman, wat graag vertel het hy het in die Matottoland grootgeword, se roudiens begin Saterdag 11:00 op die plaas Cesarea by Utrecht in KwaZulu-Natal.

LEES OOK | Kultuurgees, skrywer Nico Moolman het aarde verlaat

• Smith is Netwerk24 se nuushoof in die Vrystaat en die Noord-Kaap. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

3881

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM