Menings

Hambidge: ‘Ryk mense word hier gespot’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Yaya (vertolk deur die ontslape Suid-Afrikaanse boorling Charlbi Dean Kriek) en Carl (Harris Dickinson) is beeldskone modelle in ‘Triangle of Sadness’.
Yaya (vertolk deur die ontslape Suid-Afrikaanse boorling Charlbi Dean Kriek) en Carl (Harris Dickinson) is beeldskone modelle in ‘Triangle of Sadness’.

Joan Hambidge skryf waarom 'n rolprent waarin deurgaans op gesigsuitdrukkings gefokus word, wat haar betref sover die rolprent van die jaar is.

Triangle of Sadness (Frans: Sans filtre - sonder filters) het sopas die loket getref. Dit is Ruben Östlund se debuut as Engelse rolprentmaker.

Die film het by Cannes die gesogte Palme D'Or verower en is wat my betref, sover die rolprent van die jaar. Die regisseur is Sweeds en sy aweregse blik op die mensdom het ons reeds beleef in The Square (2017) en Force Majeure (2014).

Nou ja, Sweeds maak jou bewus van die ander meester: Ingmar Bergman, wat rolprenttaal absoluut kon beheer. Nes Tarkofski, die Rus.

Die "triangle of sadness" is letterlik die vel tussen jou wenkbroue wat 'n model met emosie kan manipuleer. (Of wat Botox kan onderdruk.) En regdeur die rolprent word daar op gesigsuitdrukkings gefokus.

Hierdie rolprent praat duidelik met Robert Altman se satire van die modewêreld Prêt-à-Porter (1994) met 'n kopknik na Fellini. Marcello Mastroianni en Anouk Aimée is in Altman se rolprent, met Kim Basinger, Julia Roberts, Sophia Loren en Stephen Rea.

En hierdie niksheid (en doelloosheid) vind ons in Triangle of Sadness.

Almal word gelyk

Ryk mense word hier gesatiriseer. Die verhaal word in drie dele vertel wat duidelik waarsku dat jy in die hande is van 'n rolprentmaker wat beheer en orkestreer. Eers in die modelbestaan, dan op die rykmanskip wat die twee jongelinge "gewen" het en dan met die skip se Titanic-agtige einde en 'n eiland waar 'n handvol passasiers oorleef.

Joan Hambidge Foto: Philip de Vos
Joan Hambidge Foto: Philip de Vos

Die begin: Yaya (Charlbi Dean Kriek) en haar vriend Carl (Harris Dickinson) maak rusie oor 'n rekening in 'n duur restaurant.

Dit gaan nie vir hom om die geld nie, maar gender­kwessies. Hoekom moet hy betaal as hulle gelykes is? En sy vra weer: Wat maak jy in my hotel op my rekening?

Die middel: Dan die bootreis. Dit ontspoor vinnig en die klassestryd word hier uitgewerk met die hoofvrou-oor-die-kelners, Paula (Vicki Berlin), wat met 'n dronk skeepskaptein opgeskeep sit: Woody Harrelson op sy beste as Captain Thomas. Veral as hy saam met die Rus Dmitri (wat kunsmis verkoop) oor die mikrofoon politieke wyshede uitslinger, terwyl die ship of fools deur die stormwaters woed. Met 'n kaartspel waarin albei dronker word.

Wanneer die skeepskaptein onder andere uit Noam Chomsky aanhaal, is die vet in die vuur. Kaptein en Rus troef mekaar met al die clichés. Van Lenin tot Ronald Reagan.

Jy beleef kotsende en skytende passiers. 'n Kopknik na Julia Kristeva se Powers of Horror (1980) en ons vrese vir die abjekte. Of die grillige.

Hier word almal gelyk.

Die einde: En op die eiland word alles op sy kop gekeer wanneer Abigail (Dolly de Leon) agentskap kry.

Sy is nie langer in beheer van toilette nie. Sy is nou baas, want sy besluit wie kry kos en water. En manipuleer die jonge Carl met seksuele afpersing. Vir kos.

Daar is lieflike vinjette. Die Rus, vertolk deur Zlatko Buric, wat oorleef en sy vrou se juwele van haar lyk afhaal. 'n Lykskleed het nie sakke nie, weet ons.

Die doodmaak van 'n donkie word 'n woke-gesprek. Daar is analises van die swart-blik versus die wit-een. En 'n tekening van die donkie op die rots met al die implikasies van grottekeninge.

En die vrees dat jy kan aanstoot gee. Gecancel kan word.

Visvang teenoor die diefstal van pretzels.

Almal is verwond

En volop ironie is ook hier. Die twee rykgatte, Winston en sy vrou, vervaardig handgranate. En sterf aan hulle eie huishoudelike "brand".

Carl lees Ulysses, terwyl hy baai in die son.

Die bekwame regisseur beheer alles met sy slim intertekste en toespelings na ander rolprente (en modegiere).

Hy dolwe die leegheid van ons bestaan om. Uiteindelik is die gevaarlike eilandbestaan nie waar nie. Daar is 'n luukse hotel net om die draai; so al die leed, honger en ellende was verniet.

Jy kan die hyser van die strand neem na bó. Soos in 'n James Bond-movie.

Charlbi Dean Kriek, wat een van die hoofrolle vertolk, is 'n Suid-Afrikaner en vroeër vanjaar oorlede. Wanneer sy op die dek lê, sien die kyker 'n operasieletsel.

Toevallig uitgestal? Of 'n verdere kommentaar dat ons almal verwond is deur die vreemde tye waarbinne ons leef?

Satire werk met oordrywing (of hiperbole) en die uitwys van sothede met sarkasme en ironie. Ons lag in (h)erkenning en besweer tydelik ons vrese met die ervaring van so 'n rolprent wat my weer terugneem na Stanley Kramer se Ship of Fools (1965).

Satire stel altyd die norm teenoor die verkeerde en in die uitwys van die onaanneemlike, moet die norm sigbaar wees, aldus Henning Snyman in Mirakel en muse (Perskor, 1983: 181).

Al dra 'n aap 'n goue ring . . .

*Hambidge is 'n digter, skrywer en genoot aan die Universiteit van Kaapstad. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

CTA