'n Hofbevel wat Israel sal dwing om hul militêre optrede in Gasa te staak, sal nie billik wees nie, meen Frederik van Dyk.

Suid-Afrika se veelbesproke saak teen Israel voor die Internasionale Geregshof (IGH) het Vrydag afgesluit.
Dit is belangrik om te begryp dat Suid-Afrika hierdie week slegs vir tussentydse regshulp gevra het. Met ander woorde, die doel van Suid-Afrika se aansoek was nie om die hof te oortuig dat Israel aan 'n oortreding van die Volksmoord-konvensie van 1948 skuldig is nie. Die doel was eerder om te bewys dat Israel, deur sy oorlogspoging in Gasa, redelikerwys besig is om die Konvensie te oortree.
Suid-Afrika voer dus aan dat die hof 'n bevel moet toestaan wat onder meer 'n skietstaking in Gasa beveel. Sodoende sal moontlike getuienis wat 'n volksmoord kan bewys, bewaar kan word. Daarna, in 'n saak wat jare kan duur, sal die IGH die meriete kan oorweeg om te bepaal of Israel inderdaad skuldig is aan 'n volksmoord op die Palestyne.
Indrukwekkende betoog
Suid-Afrika, met 'n regspan bestaande uit groot geeste uit die plaaslike regsberoep, het 'n indrukwekkende betoog gelewer.
Adv. Adila Hassim SC, van Life Esidimeni-faam, het die verskrikking wat Palestynse burgers van Gasa onder die nimmereindigende aanslag beleef in emotiewe besonderhede uitgestippel.
Adv. Tembeka Ngcukaitobi SC het die uitsprake van senior Israelse regeringslui uiteengesit en die volksmoordadigheid daarvan gedetailleer. Die eweneens indrukwekkende prof. John Dugard, 'n kenner op die gebied van internasionale reg met betrekking tot die Israel-Palestina-konflik, en adv. Max du Plessis SC het die Suid-Afrikaanse saak verder gevoer, met die klem op die hof se jurisdiksie om oor die bedes in die saak te beslis.
Die Suid-Afrikaanse saak was myns insiens weliswaar 'n sterk saak, hoewel dalk retories meer ingekleur as wat vir die saak goed is.
Om die hof se jurisdiksie om 'n tussentydse bevel rakende die konflik te vestig, sou Suid-Afrika nie Israel se besondere opset (dolus specialis) om volksmoord ingevolge die Konvensie te pleeg, hoef te bewys nie. Dit hoef slegs te bewys dat daar genoegsame getuienis is vir die redelike moontlikheid van 'n volksmoord.
Het Suid-Afrika daarin geslaag om voldoende voorlopige getuienis aan te bied dat die "misdaad van alle misdade" moontlik in Gasa gepleeg word?
Die Suid-Afrikaanse saak was myns insiens weliswaar 'n sterk saak, hoewel dalk retories meer ingekleur as wat vir die saak goed is. Ngcukaitobi, wat die moontlike opset om volksmoord te pleeg aangevoer het, het onder meer verwys na uitsprake deur Israelse regeringslui wat daarop dui dat hulle die algemene uitwissing van die bevolking van Gasa beoog.
Hoewel die uitsprake in die konteks van oorlog dreigend en gewelddadig oorgekom het, is die vraag egter of dit na Gasa-Palestyne in die algemeen verwys of na die terroristeorganisasie Hamas in die besonder.
Die Israelse regspan kon Vrydag redelik oortuigend aanvoer dat die ekstreme uitsprake van sekere Israelse regeringslui en politici nie klop met die Israelse weermag se oorlogsbeleid nie.
In die meeste gevalle is dit, kontekstueel beskou, verwysend na Hamas, eerder as die algemene bevolking. Dit is ook opvallend ironies dat van Israel se felste kritici, wat ons van meet af tereg herinner het om Hamas van die gewone Palestynse burgery te onderskei, nou, tydens hul verwysing na die ambivalente oorlogsuitsprake deur Israelse regeringslui, skielik geen onderskeid tussen 'n Hamas-terroris en Palestynse burger kan insien nie.
Daarby moet die vraag gevra word of selfs die mees ambivalente uitsprake, wat moontlik na die inwoners van Gasa in die algemeen kan verwys, werklik deel vorm van die uiteindelike Israelse oorlogsbeleid. Die Israelse regspan kon Vrydag redelik oortuigend aanvoer dat die ekstreme uitsprake van sekere Israelse regeringslui en politici nie klop met die Israelse weermag se oorlogsbeleid nie. Verder, kon die Israeli's aanvoer, klop die enkele mees ekstreme uitsprake van regeringslui nie met die wyse waarop die Israelse weermag die oorlog werklik voer nie.
Die span voer aan dat die weermag, ten spyte van Israel se reg om homself teen Hamas te verdedig, buitengewone en unieke maatreëls getref het om die Gasabevolking uit die gevegslinie te kry. Dit staan in skrille kontras teen getuienis wat bewys hoe Hamas en verwante terroristeorganisasies se optrede daarvan getuig dat die burgers van Gasa juis in die gevegslinie gedwing word.
Om die Suid-Afrikaanse regering se inkonsekwentheid in die Israel-Gasa-konflik uit te wys, is egter nie suiwer "whataboutery" nie, die die geldige uitwys van dubbele standaarde.
Watwouery
Diegene wat die Suid-Afrikaanse regering die afgelope week gekritiseer het vir die Suid-Afrikaanse inkonsekwente internasionale beleid, is die afgelope week beskuldig van "whataboutery"- 'n afleidingsmaneuver met die doel om eerder die aandag te verplaas na 'n verbandhoudende kwessie wat eintlik niks met die saak voor hande te doen het nie. (Die "ja-maar-wat-van"-groep sal tipies wys op Suid-Afrika se standpunte oor die oorlog in Oekraïne en die land se onwilligheid om Rusland op soortgelyke wyse te veroordeel vir hul vergrype.)
Om die Suid-Afrikaanse regering se inkonsekwentheid in die Israel-Gasa-konflik uit te wys, is egter nie suiwer "whataboutery" nie, dis die geldige uitwys van dubbele standaarde. Die SA regering, by monde van pres. Cyril Ramaphosa en andere, wys gereeld daarop dat die Suid-Afrikaanse beleid jeens die oorlog in Gasa 'n "beginselsaak" is. Maar dieselfde beginsels word nie ten opsigte van ander internasionale vergrype gestand gedoen nie, soos dikwels al op gewys is. Hierdie dubbele standaarde is nie net moreel aanvegbaar nie, dis betekenisvol vir die Suid-Afrikaanse IGH-saak.
Die wyse waarop die getuienis-aanbieding voor die IGH gedoen is, getuig van 'n Suid-Afrika wat weens ideologiese redes sekere wesenlike punte, soos die ambivalente aard van die uitsprake van Israelse regeringslui, só aanvoer asof daar reeds geoordeel is dat die volksmoordadige uitleg daarvan in rots gegiet is. Dít terwyl getuienis van Israel se uitdruklike pogings om Gasa-inwoners te onderskei van terroriste, deur middel van grootskaalse waarskuwings, geïgnoreer is.
Die Israelse regspan het dalk tot hul nadeel nie genoeg van hierdie eensydige benadering deur Suid-Afrika gemaak nie.
Die regering is nie die ANC nie
Op formele vlak kan die Suid-Afrikaanse saak teen Israel deur die regering - eerder as die ANC - gedryf word, maar as mens luister hoe die saak by monde van die Suid-Afrikaanse gesant in Nederland bloedarmoedig vereenvoudig word tot 'n stryd tussen 'n koloniale onderdrukker en 'n magtelose verdrukte, is dit duidelik volledig gebou op ANC- politieke ideologie en eerder gedryf deur die ANC se geskiedkundige bande met die Palestynse bevrydingsbeweging.
Disproporsionele geweld
Dit is korrek dat Israel Gasa grootliks uit die lug en met artillerie-vuur bestook. Dit lei tot groot burgerlike ongevalle, wat die beweegkrag agter die IGH-saak is.
Maar hiervoor het Israel goeie redes: Daar is nie 'n absolute verpligting op 'n verwerende staat soos Israel om die minste dodelike opsie te volg tydens oorlogvoering nie. Israel kan tereg aanvoer dat hy - so banaal soos wat dit klink - op beperkte mannekrag aangewese is om 'n reeks wesenlike streeksbedreigings uit alle rigtings af te weer.
Dis geen betoog hierdie nie, dis 'n beroep op emosie.
Om groot ongevalle te ly deur Hamas in straatgevegte te konfronteer kan nie redelikerwys van Israel verwag word nie. Nog minder kan Israel vir lief neem met 'n uitslag wat bepaal dat hy die oorlog in Gasa staak ter wille van die behoud van getuienis oor 'n "moontlike volksmoord", gegewe die vermoë van Hamas om hul tuisvoordeel en Iranse steun te gebruik om Israel weer aan te val.
Saamgelees met Israel se buitengewone pogings om die inwoners van Gasa te waarsku om uit gevegsones te beweeg, is hierdie argumente meer as redelik om 'n aanklag van moontlike volksmoord af te weer. Geteikende aanvalle en voetsoldaat-oorlogvoering is dalk gepas in Haïti, waar die geografie en die minder hulpbronne tot die vyand se beskikking dit toelaat. Maar in Gasa geld dieselfde nié.
Maar kyk na die ongevalle . . .
Dis geen betoog hierdie nie, dis 'n beroep op emosie. Dit behandel nie die kwessie dat volksmoord 'n bepaalde misdaad is wat alleen deur die element van besondere opset om 'n groep se bestaan te beëindig, bewysbaar is nie.
Dit is moontlik om terselfdertyd simpatie met die lot van die burgery in Gasa te hê én te erken dat die ekstreme aantyging van volksmoord nie gepas is nie.
Ons moet hoop dat die paneel regters hulself nie sal laat meesleur deur die heen-en-weer-propaganda nie.
Soos prof. Malcolm Shaw KC, lid van die Israelse regspan, tereg aangevoer het, is daar sekere elemente wat bewys moet word vir 'n klag van volksmoord om steek te hou. Die vermenigvuldiging van retoriese en emotiewe oordele (deur middel van sosiale media) dat die groot dodetal gelyk is aan volksmoord, is op sy eie nie genoeg nie.
Dit kan wees dat oorlogsmisdade en ander kategorieë van internasionale oortredinge begaan is, maar dit is gewoon nie die vraag voor die IGH nie.
Blind vir propaganda
Die uitslag van die Suid-Afrikaanse saak teen Israel is nou in die hande van die IGH. Ons moet hoop dat die paneel regters hulself nie sal laat meesleur deur die heen-en-weer-propaganda nie, maar die regsvraag nugter sal beantwoord.
In 'n Weste wat homself verlaat op politieke stamverbondenheid en die gepaardgaande stiksienigheid in pleks van die rede, is dit dalk 'n groot wens. Intussen kan ons, as lede van 'n demokrasie en in navolging van die oop gesprek, almal 'n guns doen deur redelik en rasioneel oor die saak te dink alvorens ons oordele vel.
'n Billike uitslag, myns insiens, is dat die IGH nie die saak van die rol skrap nie, maar Israel (en by implikasie, die VSA) beveel om meer moeite te doen om humanitêre hulp na Gasa te laat vloei. 'n Bevel wat Israel se reg op selfverdediging inkort, is beslis nie billik nie.
• Frederik van Dyk is besig met sy meestersgraad in die regte.
















