Ou koeie
Pollux kan nie help om te lag vir die absolute slagveld waarin die nasionale monoloog ontaard het nie.
Pleks van 'n praatwinkel waar Jan Publiek sy griewe kon lug, het dit nou 'n arena geword waar Zizi Mbeki en Cereal Rama-faux-pas hul ou koeie in die openbaar uit die sloot kan grawe.
Cereal is nog skaamkwaad omdat hy nie as Mandela se troonopvolger aangewys is nie. Mbeki is nog moerig omdat Cereal die ANC se destydse besluit ondersteun het om hom as president te herroep.
Liewe leser, vir dié van julle wat gehoop het op edele bedoelings en 'n positiewe uitkoms, is ek dus die draer van slegte nuus. Die nasionale monoloog is doodgebore.
Die kaders se tweestryd is ongelukkig so naar dat Pollux voorspel ons gaan in die nabye toekoms met twee dialoë opgeskeep sit.
Want dis ál wat hierdie geselsie nou is: Mbeki en Cereal wat vir hulself 'n positiewe nalatenskap wil bewimpel.
Waarom die gejuig?
Pollux hoor by sy molle in Millstraat dat John Deere se party glo binnekort vir GodZille as sy burgemeesterskandidaat vir Jozi gaan aankondig.
En Pollux kan nie help om te dink die arme, afgeskeepte Joburgers sal hierdie nuus as manna uit die hemel beskou nie.
Minstens één party wat darem nog dink dat daar iets te make is van die verlepte Goudstad.
Pollux wil sy medeburgers egter net waarsku: Om die een of ander rede brand die vreugdevure oor dié nuus glo ook hoog in Kaapstad.
DA-personeel in die Moerderstad is glo dankbaar dat hulle weer eersdaags voor 19:00 sal kan huis toe gaan sonder dat GodZille hulle té kwaai aankyk.
Waarheen Storm ons nou?
Gepraat van Slaapstad: Wie op dees aarde het die Stormers se nuwe logo vir goedkeuring afgeteken?
Asof die ouens se treurmare op die veld nie verlede seisoen genoeg was nie, moet die ouens nou verneder word nog voordat hulle op die veld draf.

Want die nuwe logo lyk allesbehalwe intimiderend of rugbyagtig.
Dit lyk meer soos die kenteken van 'n nuwe soort waspoeier.















