Menings

Johann Maarman: Ja, ja, ons is dik de bliksem in

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Johann Maarman
Johann Maarman (Verskaf)

Die sanger en liriekskrywer Adam Tas het geen doekies omgedraai nie en ’n swetswoord losgelaat toe sy geliefde Gibson SJ-200-kitaar gesteel is. Hy het gesê hy is dik “de moer in”.

Baie Suid-Afrikaners wil ook soos Tas sê dat hulle de bliksem in is vir die ANC, veral nadat die welsprekende dr. Naledi Pandor, gewese ANC-minister, ewe breedsprakig verklaar het mense kyk met “minagting, afgryse en skaamte na die ANC”.

Nee, moenie die gemeste kalf vir Pandor slag nie, want ons doodgewone Suid-Afrikaners sê al jare dat die ANC ons verniel terwyl hulle blinkbek by die land se krippe eet. Hulle het die sikkels vir hulself uitgedeel en nie ’n bloue duit omgegee vir mense wat smôrens vroeg in lang toue moet staan om hul staatstoelaes af te haal nie.

Was Pandor dan nie reeds ’n minister toe haar prinsipaal sy intrek geneem het in die opulente Nkandla-woning en belastingbetalersgeld gebruik het om dit te bou en te meubileer nie?

Ook was sy reeds ’n minister toe haar kabinetkollega na die swembad by Zuma se woning as ’n vuurpoel verwys het. Was sy nie in die binnekring toe daar by Marikana geskiet is nie? Was sy dan nie daar toe ’n wêreldwye pandemie uitgebreek het en haar ANC-kamerade Covid-geld wat vir die weerloosstes bedoel was, gesteel het nie?

Was sy nie in die ANC-loopgrawe toe ministers duur handsakke gekoop het met belastingbetalersgeld en oorsee rondgerits en in peperduur hotelle gebly het nie? Waar was haar stem toe opposisiepartye deur die ANC geboelie is net omdat hulle gedurf het om die regte vrae te vra?

Die antwoord is: Sy was ’n aktiewe meeloper toe die ANC ons siel uitgekalwe het en ons in ellende laat verval het. Ons het nou nog nie herstel van die skade wat Pandor en haar meelopers aan Suid-Afrika gemaak het nie.

Dit is alles mooi om nou eers, nadat mens die politiek verlaat het, die balk in die ANC-oog te sien. Toe die tyd daar was om die ANC aan die kort hare te gryp, was sy tjoepstil.

Kiesers skarrel nie meer soos rotte agter die ANC-fluitspeler aan nie. Daardie dae is verby. Pandor het gesê mense is skaam vir die ANC. Sy is verkeerd. Ons is lankal klaar met skaamte. Ons is woedend en dié woede kook oor.

Pandor praat van skaamte. Maar skaamte is te sag. Skaamte kan jy wegsteek. Woede, daarenteen, breek uit, brand en dryf mense om ander paaie te kies. Ons is nie meer skaam vir die ANC nie. Ons is de duiwel in vir hulle.

Dié woede brand selfs in die harte van mense wat altyd ANC gestem het – die oumas en oupas op die platteland, die jong werklose man in die township, die middelklas wat sukkel om hul water en ligte te betaal.

Staatskaping het die ANC se ware gesig blootgelê: ’n bende wat meer omgee vir sakke vol geld as vir kinders sonder skole, vir tenderpreneurs as vir werklose jongmense. Hulle het die bevrydingspad verlaat en die pad van selfverryking gekies.

Die kiesers is nie meer blinde volgelinge nie. Verkiesingsuitslae wys dit duidelik: Die ANC se steunbasis krummel soos ’n huis sonder fondasie. Dít is nie net syfers op papier nie. Dit is die stem van kiesers wat genoeg gehad het van leë beloftes en skynheiligheid.

Mense is moeg om jare lank dieselfde nonsens te hoor: “Ons sal dienste verbeter, ons sal korrupsie bekamp, ons sal werk skep.” Intussen lê paaie vol slaggate oop soos wonde en misdaad blom in strate wat lankal nie meer veilig is nie.

Ja, Pandor, ons is al verby de bliksem in vir jou en jou se ANC. Mag die ANC se syfers net suidwaarts duik.• Maarman is eindredakteur van Die Burger.Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM