Daar is sekerlik min groepe ter wêreld wat so gereeld en tot vervelens toe so 'n basiese vraagstuk soos identiteit uit die ingewande ryg, skryf Frederik van Dyk.
Omstreeks Augustus 2014, Kasteel de Goede Hoop, Kaapstad. Ek sit tussen 'n klomp mede- jong Voortrekkers, in 'n nuuskierige laer getrek rondom 'n gasspreker. Die maan hang, soos die Fokofpolisiekar-liriek lui, "soos 'n vigilante guillotine" oor Tafelbaai en gooi 'n mistieke, swanger spookagtigheid oor die Kasteel se binnehof. Oudpres. FW de Klerk val weg met sy vertellinge oor die gemors waaruit Suid-Afrika haarself in die vroeë 1990's moes trek. Bepaald van toepassing op ons, maak hy 'n punt wat sedertdien my denke sterk beïnvloed het: Identiteit, redeneer De Klerk, is 'n veelkantige verskynsel. Soos drukpunte op 'n sagte karos, staan elkeen van sy jong aanhoorders se identiteite uit: óók Afrikaners, óók Afrikaanssprekendes, óók Suid-Afrikaners of Namibiërs, soms óók Christene, ensovoorts. Elkeen se karos mag ná individuele ervaring anders lyk. Maar daardie drukpunte is nie wedersyds uitsluitend van mekaar nie, en kry vorm vanuit een karos.
Sedert Christo van der Rheede se veelbesproke artikel van 20 Augustus 2024 het die debat rondom wie en wat 'n Afrikaner is; hoe Suid-Afrikanerskap daarby uitsien, en of dit 'n sinvolle begrip is, alweer opgevlam. Goed of sleg, daar is sekerlik min groepe ter wêreld wat so gereeld en tot vervelens toe so 'n basiese vraagstuk uit die ingewande ryg. Talle denkers het reeds gereageer, en daarom probeer ek met hierdie skrywe juis 'n oorsigtelike blik bied op wat gesê is, en aanvoer: Is die rede dat die Afrikaner-identiteit-langspeelplaat so gereeld vashaak, omdat ons mees basiese aannames oor identiteit vol stof is?
'n Oorsigtelike lees van die onlangse "Afrikanerdebat"-salvo's maak dit duidelik dat daar eerstens diegene is wat identiteit as 'n immer individualistiese domein beskou: Individue kies self hul identiteitskenmerke, wat veral gekoppel is aan die fundamentele mensereg van vryheid van assosiasie. 'n Vrye individu behoort sy identiteitskenmerke soos items vanaf 'n winkelrak te kan kies en aan te plak, byna soos kentekens op 'n Voortrekkerbaadjie. Jy kies dus of jy 'n Afrikaner wil wees of nie, selfs al beantwoord dit nie die vraag oor wat 'n Afrikaner is nie.

'n Ander denkstroom redeneer weer dat identiteit 'n kollektiewe gedoente is. Daar is kategoriese kenmerke van die "in-groep", en die "uit-groep" moet aanpas of oppervlakkig (soos deur velkleur) inpas of buite sit. 'n Goeie Afrikanerseun is wit, straight, 'n belydende Christen en dra (deesdae) Boerboel Wear, om my tot 'n banale voorbeeld te wend.
‘ 'n Ou kenmerk'
Oor beide benaderings ontstaan kritiese vrae. Of jy nou Afrikanerskap kan kies of aan vereistes moet voldoen, wat beteken dié identiteitskenmerk in die eerste plek? Is die kollektivistiese benadering en die individualistiese winkelrak-benadering nie maar elk gebaseer op 'n streng kategoriese beskouing van identiteit nie? Waar kollektiviste identiteit aan 'n stel skynbaar arbitrêre kriteria koppel, redeneer individualiste dat jy daardie stel kriteria gewoon self van die winkelrak kies.
Op die keper beskou, is daar dus nie 'n geweldige verskil tussen die tradisioneel konserwatiewe en progressiewe "kampe" oor die Afrikanervraag nie.
Wêreldwyd is die wedywering tussen kollektivistiese en individualistiese uitgangspunte oor identiteit 'n ou kenmerk van die moderne era, miskien sedert die tyd van die Verligting in die 17de eeu. Die sogenaamde Westerse "kultuuroorlog" het tot 'n mate na Suid-Afrika oorgespoel. 'n Kollektivistiese ingroep-uitgroep benadering tot identiteit kenmerk dikwels die ekstreem populistiese retoriek oor nasionale identiteit. Wat Van der Rheede weer as die "woke demoon" afgemaak het, verskil van weloorwoë sosialegeregtigheidsleer, en is eerder 'n ekstreem individualistiese verskynsel wat die Self en individuele identiteitsvoorkeure allereerste stel. In die Afrikanerdebat is hierdie ekstremiteite ons sover in die hoofstroom openbare diskoers ietwat gespaar.
‘Nie agentskaplose skepsels'
Die karos-beeld waarmee ek De Klerk se siening van identiteit as 'n geleefde, veelkantige verskynsel weergee, opper 'n derde baan tussen kollektivistiese en individualistiese benaderings. Ek bepleit 'n eksistensiële benadering tot identiteit as die derde weg, in die sin dat ons geworpenheid binne bepaalde kontekste ons essensies voorafgaan. Met ander woorde, die feit dat ek in hierdie spesifieke, onmiddellike (Afrikaanse/Afrikaner/Suid-Afrikaanse) ervaringswêreld ingewerp is, tussen verskillende gemeenskappe en in 'n bepaalde samelewing, skep 'n bestaansbewussyn waarvolgens my eie identiteit noodwendig in wisselwerking met ander ingelig word.
Die filosoof Jean-Paul Sartre het die Franse begrip pour soi gebruik om die mens se bestaanswyse uit druk, vertaalbaar as "syndes wat bewus is van hul eie bestaan". Dit kan uitgebrei word dat "bestaansbewussyn" noodwendig ingelig word deur te "wees-tussen-ander", en gevolglik, deur sosio-kulturele konteks. Ons is dus nie individuele, gesiglose gestrooptes wat in die supermark vir vooropgestelde identiteitsmerkers gaan snuffel nie. Ons is ook nie agentskaplose skepsels wat sonder variasie en uniekheid in vasgestelde kategorieë vasgevang is, soos onder vorige en huidige rassewetgewing nie.
Ons kulturele essensies word voorafgegaan deur bewuste sosio-kulturele wisselwerkings tussen die individu en die kollektiewe konteks van die "Ander". Daarsonder het nie individuele of kollektiewe bestaan werklik betekenis nie. Ons vryheidsin word begrens deur die realiteit van wees-tussen-ander.
Nuwe insigte
Dit is dalk vir sommige mense ironies dat Max du Preez en Theuns Eloff se bydraes tot die "Afrikanerdebat 2024" die naaste tot hierdie eksistensiële derde weg tot Afrikanerwees gekom het. Eloff sluit by De Klerk aan deur daarop te wys dat individuele identiteit deur konsentriese sirkels uitgebeeld kan word: Afrikanerskap en Suid-Afrikanerskap, is verweef sonder om mekaar uit te sluit of heeltemal uit te rangeer. Dit is twee "synswyses" wat saam kan bestaan. Du Preez skryf gereeld hoe hy as 'n Afrikaner "gesosialiseer" is, maar nie 'n Afrikaner ter wille van politieke doeleindes is nie. Daardie "sosialisering" raak aan 'n eksistensiële begrip van Afrikanerwees, waar die kulturele ervaring van tussen-ander-wees invoer op sy individuele bewussyn, en gevolglik help vorm aan hoe hy die wêreld om hom deurleef.

'n Eksistensiële benadering tot identiteit en Afrikanerwees is 'n geleentheid om nuwe insigte in die groter Afrikaanse gemeenskap te baar. In aansluiting by Flip Buys, is Afrikanerwees 'n feitelike, geleefde realiteit eerder as 'n teoretiese omskrywing. Dit is moeilik om, soos met die meeste identiteite, 'n winkeletiket of 'n kategoriese omskrywing daarop te plak.
Wat ek wel beleef, is dat ek grootgeword het en ook rondbeweeg tussen mense wat 'n sekere soort Afrikaans praat, wat gedeelde kulturele gedrag vertoon, en 'n geskiedkundige lyn van stories, dinamiese kulturele voorkeure en gebruike deel.
Of ek in Musina of Ballito, Pretoria-Noord of Linden, Brackenfell of Oranjezicht rondbeweeg, is ek dadelik bewus van mense wat 'n sekere geworpenheid in die Afrikaner-leefwêreld deel, maar ook van hoe ek daarby inskakel. Ek is eweneens bewus wanneer ek grootliks Afrikaanstaligheid teenoor ander drukpunte van bestaansbewussyn deel. Of wanneer ek Suid-Afrikanerskap met iemand deel, maar nie Afrikanerwees nie.

Maklike "lyne" soos velkleur en taal het gewoon nie die laaste sê nie. Die beste van alles is dat selfs wanneer ons nie 'n kulturele bestaansbewussyn met ander mense in ons samelewing deel nie, deel ons tog gelykwaardige menswees, en gevolglik die verantwoordelikheid tot meelewing, interaksie en diep verhoudinge.
So, Christo van der Rheede hoef nie oor die "Afrikaner-agenda" besorg te wees nie. Hy en ander leidende figure in die groter Afrikaanssprekende leefwêreld deel dalk nie 'n kulturele bestaansbewussyn met Afrikaners nie, maar ons deel ander gelykwaardige drukpunte op 'n karos. Daardie gedeelde karos kan ons almal warm hou.
• Van Dyk is 'n prokureur in Johannesburg. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.





















