Menings

Kom ons help om mense in SA se stories te herstel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die rol van die media behoort ook ingesluit te word op die besprekingslys van die beoogde nasionale dialoog, skryf Heindrich Wyngaard.

Die rol van die tydskrif Drum om 'n stem te gee aan swart gemeenskappe in die land se skop-skiet-en-dinges-dae word deur dr. Harry C. Boyte as vertrekpunt gebruik in sy hoofstuk in die boek Media and Citizenship: Be­tween Marginalisation and Participation (saamgestel deur Anthea Garman en Herman Wasserman).

Wat die joernaliste met dié publikasie vermag het, herinner Boyte ons met verwysing na 'n gelyknamige 2005-fliek deur Zola Maseko, is vandag 'n "afgeskeepte politieke rol" (sy beklemtoning). Hiervoor, meen hy, is joernaliste uitsonderlik gepas, maar hulle skram daarvan weg "weens sowel hul opleiding as die konvensionele teoretiese raamwerke van burgerlike interaksie".

Die storie in die fliek toon duidelik "dat mediawerk . . . goed geplaas is om terreine te word vir die ontwikkeling van ‘publieke narratief'."

Dit is die verbinding van die per­soon­like narratief ("storie van die self") met die gedeelde "storie van ons" en die openbare gevolglikheid ("storie van nou").

Boyte betrek dan die werk van die Harvard-professor Marshall Ganz, skepper van die konsep "publieke narratief", wat gedefinieer word as die proses "waardeur individue, gemeenskappe en nasies keuses maak, identiteit vorm en dade inspireer". Dit is ook 'n manier vir openbare figure om hul werk te verstaan in die konteks van 'n breër openbare doel.

"Sommige van ons mag dink dat ons persoonlike verhale nie saak maak nie, maar as ons openbare werk doen, het ons tog 'n verantwoordelikheid om openbare rekenskap van onsself te gee," meen Ganz.

Jy sê daarmee: "Waar [jy] vandaan kom, waarom [jy] doen wat [jy] doen en waarheen [jy] dink [jy] op pad is."

Om dié doel te verwesenlik, bepleit Boyte stappe deur joernaliste om te help om "persoonlike narratiewe" op te diep, die publiek daarvan bewus te maak en sodoende "die verhaal te herstel van die mense as agente en argitekte van [die] demokrasie".

"En kyk, die ding wat nou gebeur het, hierdie wonderwerk vir 'n land," het die digter-filosoof Adam Small geskryf in sy bydrae tot S.A. 27 April 1994: 'n Skrywersdagboek (saamgestel deur André Brink), "het tog gebeur ook vanweë biografieë". Waarsonder die hoogste menslike lewe in elk geval nie moontlik is nie."

In Suid-Afrika het dié strewe onlangs 'n knou in die openbare domein gekry met die aankondiging dat Media24 sy oorgang na digitale nuus versnel deur die gedrukte weergawe van sommige koerante te staak. Waarop egter in die reaksie hierop meestal gefokus is - en ook heeltemal te begrype - was die gepaardgaande werkverlies van onder andere redaksielede.

Elders is wel bekommernis uitgespreek oor die moontlike negatiewe implikasies wat die aankondiging dalk vir die media se rol as waghond kan inhou, bepaald as jy in ag neem dat ons land se demokratiese bestel nog nie ten volle wasdom bereik het nie.

Maar 'n ander aspek wat in die gesprekke oor die "versnelling na digitale nuus" agterweë gebly het, sluit regstreeks aan by Boyte se idee dat "persoonlike narratiewe" kan help om die demokrasie in stand te hou. Hierby sal spesifiek individue en gemeenskappe wat 'n ervaring van afgeskeeptheid in nuusdekking beleef 'n belang hê. Dit is in die besonder bruin Afrikaanssprekende gemeenskappe.

Hoe dan so? sal sommige wonder.

In die Media24-aankondiging is die Wes-Kaapse uitgawe van Die Burger en die weekblad Son immers die valbyl gespaar­, en albei publikasies gee tog skaf­like dekking aan en word in die geo­grafiese hartland van bruin mense versprei.

Maar "afgeskeeptheid" moenie gelees word as dat dié gemeenskap in die geheel geïgnoreer word nie - natuurlik nie; veel eerder as 'n aanduiding van die soort dekking wat gebied word: watter "persoonlike narratiewe" (gebeure) die nuus haal en watter nie; en watter "persoonlike narratiewe" (menings) geplaas word en watter nie die paal haal nie.

In beriggewing kraai moord en doodslag meermale steeds koning, tesame met die drievoudige verbintenis van maatskaplike uitdagings: armoede, werkloosheid en dwelm- en drankafhanklikheid; en standpunte wat belyn is met die sienings en vooroor­dele van teikengehore - eerder as dié wat poog om denke te ontwrig - geniet dikwels voorkeur.

Dié stelling wys geensins 'n vinger na individue nie, maar eerder na bepaalde ingesteldhede, verwysingsraamwerke en denkwyses; en die enigste manier waarop dit anders gehanteer kan word, is juis die "politieke" rol van joernaliste.

Wie sal die trom vir daadwerklike insluiting van ons "persoonlike narratiewe" slaan?

Soos wat Boyte dié rol bedink het, sluit dit die ontginning in van "persoonlike narratiewe". Nie slegs die verskraling van die gedrukte media nie, maar ook radiostasies (plaaslik en landwyd) en televisiekanale behoort oor Boyte se roldefiniëring vir joernaliste (of vervaardigers en aanbieders) te be­sin. 'n Jaar of twee gelede se veranderinge by RSG, soos die beëindiging van inbelprogramme, asook die meer onlangse veranderende programaanbod van kykNET&kie, byvoorbeeld, het steeds die (bruin) tonge los oor verlore geleenthede.

Ook in dié gesprekke heers daar egter nou - met rede - opgewondenheid oor die moontlikhede wat die nuwe politieke bestel van 'n nuwesoortige regering­ van nasionale eenheid inhou.

Politieke teenstanders van skaars vier maande gelede regeer dan nou die land saam. Dit spreek vanself dat 'n mens derhalwe sou wou sien dat hierdie gees ook oorspoel na ander sfere van ons land se openbare lewe, soos in die werk van die media en in die gesindheid wat teenoor mekaar geopenbaar word deur die mense wat hier woon.

Ons moet daarop aandring dat hierdie aspekte vooropgestel word in die beoogde nasionale dialoog eerder as dat dié byeenkoms 'n slagoffer word van partypolitieke vertoonmakery.

Sonder die stem van gewone mense en plaaslike gemeenskappe sal dit neerkom op 'n elitistiese uithanggeleentheid vir magshebbers en magshongeres. Wat is die storie wat daarna vertel sal word? Wat sal die "persoon­like narratiewe" wees wat daaruit spruit?

In sy boek The Science of Storytelling wys Will Storr lesers daarop dat onverwerkte biografiese data weinig betekenis het vir die storieverteller (of die joernalis in die konteks van hierdie ar­tikel). "What it desires - what it insists upon, in exchange for the rare gift of its attention - is something else," skryf Storr.

Wat 'n mens laat wonder, wat is die iets anders wat die media as "storieverteller" se aandag sal trek en daartoe lei dat (Small se) "biografieë" oor bruin mense se historiese (en in sommige gevalle voortslepende) benadeeldheid geskryf sal word.

Om Boyte se verwysing na Drum as metafoor in te span: Wie sal die trom vir daadwerklike insluiting van ons "persoonlike narratiewe" slaan?

• Heindrich Wyngaard lei Donderdag om 13:00 die gesprek "Wat gaan van ons stories word?" in die Adam Small-seminaarkamer op die Toyota Stellenbosch Woordfees.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM