Die groot terugkrabbel
So ’n vinnige verstelling na trurat soos Cereal Rama-faux-pas die afgelope week gemaak het, het Pollux laas gesien toe Bismarck du Plessis destyds in ’n jong Eben Etzebeth vasgehardloop het op Nuweland en lekker op sy boude moes gaan sit.
Want waar Cereal twee weke gelede nog ANC-raadslede gepaai het om te gaan kers opsteek by die Kaapstad-munisipaliteit oor hoe om te regeer, kondig hy die afgelope week aan dat Kaapstad eintlik ’n verskriklike plek is wat net op rykes geld spandeer.
Met dié dat Cereal ’n mamoewiese paleis in die rykmansbuurt Fresnaye besit, is dit dalk moontlik dat hy hier uit ervaring praat.
Maar Pollux dink Onse Cereal is dalk eerder op sy party se vorige NUK-vergadering oor die vingers getik was oor die gratis publisiteit wat hy die DA gegee het.
Want ten spyte van sy nuwe veldtog teen Kaapstad, twyfel Pollux sterk of Cereal sy Kaapse strandhuis vir een in Durban sal verruil.
Vat alles!
Gepraat van Cereal: Pollux het met groot belangstelling dopgehou hoe die polisie op Cereal se nefie, Hangwani Maumela, se herehuis in Sandton toegeslaan het en daar beslag gelê is op nie een nie, nie twee nie, maar drie Lamborghini’s.
Nou, kêrels, Pollux wil nou nie skinder nie, maar partykeer sukkel hy om met sy kleine karretjie die slaggate in die Goudstad te navigeer, so hoe de hel jy met ’n Lamborghini hier kan rondry, weet nugter alleen.
Hy verstaan wel hoekom Maumela dit nodig geag het om drie aan te skaf, omdat daar beslis op elke gegewe tydstip een by die mechanics moet wees om die rims te herstel, een altyd op pad soontoe is, en die derde dan as plaasvervanger moet diens doen. Nogal vindingryk as jy vir Pollux vra, net jammer oor al die siekes by die Tembisa-hospitaal.
Pollux kon wel nie help om te dink dat die wetstoepassers dalk bietjie ver gegaan het met die afvat van hierdie outjie nie:

Daai klein toekomstige tenderpreneur het seker die hele naweek omgehuil.
Wanneer is genoeg ooit genoeg?
Gee die duiwel wat hom toekom: Donald Trump het ’n skietstilstand in die Midde-Ooste bewimpel wat hopelik lank sal voortduur.
Selfs al gaan Pollux nie sy asem daaroor ophou nie, wil hy darem ook vir Trompie en sy boksombende gelukwens dat hulle die menseslagting in Gasa kon stopsit. Of hy dalk vir Bibi Netanyahu omgekoop het om Sleepy Joe se soortgelyke skietstilstand vroeër vanjaar te ignoreer vir eie gewin, is vir eers ’n gesprek vir ’n ander dag, en Pollux is nie lus dat die een of ander ou van Centurion hom vandag woke noem nie.
Selfs The New York Times, Bill Clinton en Time Magazine het die afgelope week Trompie se beuel geblaas.
Nie dat Trompie baie ingenome was met die foto wat Time van hom gebruik het nie:
Waarop Pollux vir Trompie wil aanmoedig om vir die vlugtelinge te gaan vra wat die volgende beteken: Al dra ’n aap ’n goue ring, hy is en bly ’n lelike ding.
100003


















