Menings

Pollux: Hier kom ’n stormloop Mandelas!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

’n Goedkoop nabootsing

Die Britte sê mos nabootsing is die mees opregte vorm van ’n vleiery.

Maar Pollux wonder of Julius Malema, die Rooi Teletubbies se Commander-in-Thief, dieselfde gevoel het toe hy sy voormalige drinkebroer Fraud Shivambu se nuwe partylogo onder oë gekry het.

Mayibuye se logo.
Mayibuye se logo. (Mayibuye.)
Die EFF se logo.
Die EFF se logo. (EFF)

Pollux se kollegas het darem ’n goeie daad gedoen en aan Fraud gaan vra hoekom die logo’s so soortgelyk is? Fraud se antwoord: “Dit is nie.”

Nou ja toe, liewe leser. As jy ooit gewonder het wat met jou gebeur indien jy te lank by Jacob van Nskandla se stokvel rondhang, het Fraud dit dan nou duidelik gestel: Jy word sertifiseerbaar.

Pollux sien wel baie uit na Mayibuye se eerste verklaring aan die Verkiesingskommissie oor die party se donasies.

Dink julle Fraud gaan net “VBS” skryf? Of “gogo’s se VBS-pensioen”?

Hoor niks, sien niks, doen niks

Gepraat van stapelgek: Pollux sien Cereal Rama-faux-pas skryf in sy weeklikse nuusbrief dat korrupsie “ingebed kan word in staatsinstellings of sakeondernemings”. Nogal “ingebed kán word”, asof die werklikheid van korrupsie nie om elke hoek en draai raakgesien kan word nie.

Sulke naïwiteit het Pollux laas bespeur toe die Demokrate verlede jaar ’n halfkens Joe Biden op verhoë laat rondstrompel en gedink het hy’s ’n puik kandidaat om president van ’n supermoondheid te bly.

Dink julle Cereal is werklikwaar so uit voeling met die werklikheid? Of leef sy spookskrywers in ’n alternatiewe werklikheid? Dalk is sy ChatGPT gestel – want die Vader weet, niémand kan so vervelig skryf nie – op ’n verstelling wat maak asof die skrywer in die een of ander utopie leef?

Pollux soek werklikwaar ’n verduideliking, want hy weier om te glo dat die president so erg uitgeklok het.

Sal iemand dié skrywe asseblief aan Gerhard Koornhof stuur?

Hy’s mos die laaste Afrikaanse kwota met toegang tot Cereal.

Wees op jul hoede

Die konstitusionele hof het die afgelope week beslis dat mans van nou af ook hul vrou se van mag kry wanneer hulle in die huwelik tree.

’n Bietjie te laat vir Pollux se ou skoolmaat Gertjie Poepjes, maar nietemin.

Pollux wil net graag met dié nuwe uitspraak wel ’n waarskuwing rig aan binnelandse sake. Veral die takke naby Qunu en Hougton. Staal julself, broers.

Want daar gaan ’n vlaag van aansoeke wees van mans wat met Mandela-dogters getroud is.

weekliks@rapport.co.za

100003

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM