Menings

Pollux: Meerkat 1, John Smit 0

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Pollux
Pollux (Pollux)

Agteros kom ook in die kraal

Genadetjie tog, dat Mbaks Mbalula se ligte dan nou ook uiteindelik aangaan.

Mbaks, Esj-Djie van die ANC, kerm Donderdag op ’n mediakonferensie na aanleiding van die plofbare getuienis voor die Madlanga-kommissie dat “misdaadkartelle” die ANC geïnfiltreer het.

Waar was jy die afgelope 18 jaar, Mbaks? Sekerlik nie ’n kabinetslid tydens die staatskapingsjare nie? Ook nie toe kaders besluit het ’n pandemie is ’n goeie tyd om te skep nie? Mbaks dink seker die Zondo-kommissie se verslae is ’n nuwe weergawe van RL Stine se Grillers.

Maar die waarheid is dat ’n blinde man met ’n stok al in 2007 ná die Polokwane-konferensie vir jou sou kon sê die ANC is deur kartelle geïnfiltreer. Die probleem is net dat die skelm kaders die stok sou steel en teen ’n duisend keer meer as die regte prys aan iemand anders sou verkoop.

Maar nou ja, Mbaks leer maar net by sy vreeslose leier, Cereal Rama-faux-pas, die tweede-in-bevel tydens die staatskapingsjare. Dis makliker om onkunde te pleit as om verantwoordelikheid te aanvaar.

Of in Cyriliaans: “Ek was geskok.”

Wanneer die partytjie nie aan die gang wil kom nie

In ander voor die hand liggende nuus het Floyd Shivambu se nuwe stokvel, Mayibuye, klaar sy eerste leiersuittog beleef.

Sandile Manana kondig in ’n briefie aan dat hy bedank het as adjunkpresident van Mayibuye en liefs wil terugkeer na Jacob van Nskandla se stokvel omdat daai ouens meer herverdeel, ’skuus, Pollux bedoel ’n beter party is.

Maar Floyd laat nie op hom wag nie en sê in sy eie briefie dat Manana nooit die party se adjunkpresident was nie. Die bedanking, let Pollux op, word egter nie betwyfel nie.

Floyd, dalk is dit maar tyd dat jy jou ou drinkebroer, die EFF se Commander-in-Chief, Julius Malema, ’n lui gee.

Flip, bel sommer vir Mbuyiseni ook. Dit gaan dalk nie lekker wees om druipstert te moet terugkeer nie, maar ná die afgelope week se hofuitspraak teen Julius is daar dalk net eersdaags ’n pos oop in die parlement.

En dit is in ieder geval beter om ’n bestaande party tot sy ondergang te lei as wat jy sukkel om ’n nuwe een van die grond af te kry.

Wat is sterker: ’n Springbok of ’n meerkat?

Pollux se molle in Pretoria laat weet hom daar was onlangs groot konsternasie op ’n gholfbaan in die hoofstad toe ’n meerkat glo die voormalige Bok-kaptein John Smit gebyt het.

Smittie, hoor Pollux, wou glo vir die meerkat biltong voer. Die meerkat het klaarblyklik gemeen Smittie sal lekkerder smaak. Outjie was seker blind.

Nietemin. Pollux verstaan dat Smittie darem nog nie simptome begin wys het dat hy stadig in ’n meerkat verander nie, maar wil Pretorianers maar waarsku om Maandagaand binnenshuis te bly wanneer dit die volgende volmaan is. Net om veilig te wees.

Smittie moet eintlik dankbaar wees dat dit net ’n meerkat is wat hom bygekom het.

In Pollux se gloriejare by Hatfield Square was daar baie erger goed wat jou kon byt.

weekliks@rapport.co.za

100003

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM