Prof: Sonder ’n basis by Simonstad is SA ontman

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Chinese en ’n Russiese vaartuig verlede week in Simonstad se hawe. Foto: Getty
Iranian, Russian And Chinese Warships in Cape Town For BRICS Naval Exercises ’n Chinese en ’n Russiese vaartuig verlede week in Simonstad se hawe. Foto: Getty (Bloomberg/'n Chinese en 'n Russiese vaartuig verlede week in Simonstad se hawe. Foto: Getty)

Suid-Afrika is aan drie van sy grense deur die see omsoom. Gegewe die onstabiele en gespanne internasionale geopolitieke konteks, kan die land hom nie blind hou vir die strategiese werklikheid nie, skryf prof. André Wessels.

Die sogenaamde Brics+ vlootoefening, Will for Peace 2026, en al die omstredenheid daaromheen, asook die stand van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), verdien om in besonderhede ontleed te word. Die wêreld het ook opnuut – of vir die eerste keer – kennis geneem van Suid-Afrika se vlootbasis in Simonstad.

Verlede jaar was dit 70 jaar sedert die Simonstad-ooreenkoms in 1955 tussen die regerings van Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk onderteken is, en 50 jaar sedert dit in 1975 beëindig is. Albei die datums en gepaardgaande gebeure moes streng gesproke gedien het as geleenthede om bestek op te neem ten opsigte van die stand van die SANW, maar in die Afrikaanse media was daar – sover my kennis strek – geen besprekings in verband met die Simonstad-ooreenkoms se herdenking nie.

Nadat die Nasionale Party (NP) in 1948 in Suid-Afrika aan die bewind gekom het, het die destydse Suid-Afrikaanse minister van verdediging, mnr F.C. Erasmus, ’n afvaardiging gelei wat samesprekings gevoer het met Winston Churchill se Konserwatiewe Britse regering oor die streekverdediging van Suider-Afrika. Die ontwikkeling van kernwapens, die opkoms van die Sowjet-Unie as ’n wêreld- (en vloot-) moondheid, en met die Koue Oorlog wat hoogty gevier het, het herbesinning genoodsaaklik.

Erasmus het formeel versoek dat die Simonstad-vlootbasis aan Suid-Afrika oorgedra moet word. Ondanks bedenkinge in sekere Britse geledere, is die basiese Simonstad-ooreenkoms op 30 Junie 1955 gesluit: Die vlootbasis sou aan die SA Vloot oorhandig word, maar die Royal Navy (RN), asook Britse bondgenote, sou dit in tye van oorlog steeds kon gebruik; die SA Vloot moes uitgebou word en Brittanje sou vlootvaartuie en ander oorlogstuig aan Suid-Afrika verkoop.

Die vlootbasis is op 1 April 1957 formeel aan Suid-Afrika oorgedra, hoewel die seremoniële oorhandiging eers die volgende dag plaasgevind het. Die SA Vloot het in die praktyk een tweedehandse Tipe 15-fregat en drie nuwe Tipe 12-fregatte, vyf klein Ford-klas-patrolliebote en tien Ton-klas-kusmynveërs van Brittanje aangekoop, en die SA Lugmag agt Shackleton- maritieme patrollievliegtuie, 16 Buccaneer- maritieme aanvalsvliegtuie en 16 Wasp-duikbootjaghelikopters. Dít het die slaankrag van sowel die vloot as die lugmag aansienlik versterk. Voortaan kon die vloot en lugmag beter as ooit tevore die Kaapse seeroete sáám met die RN en die vlote van ander Westerse moondhede beskerm.

Soos algemeen bekend, het die NP se beleid van afsonderlike ontwikkeling (apartheid) van meet af aan sowel binne- as buitelands teenkanting ontlok.

Nogtans kon die nuwe Republiek van Suid-Afrika (RSA; 1961) aanvanklik nog goeie militêre betrekkinge met Westerse moondhede handhaaf, hoofsaaklik gegewe die waarde wat die strategiese Kaapse seeroete vir die Weste ingehou het.

Die SA Vloot se vaartuie het talle vlagvertoonbesoeke aan ander lande gebring, en buitelandse “grys diplomate” (oorlogskepe) het gereeld Suid-Afrikaanse hawens besoek. Dan en wan het vlootoefeninge tussen skepe van die SA Vloot, die RN en soms ook ander vlote plaasgevind. Maar op 16 Junie 1975 is die Simonstad-ooreenkoms eensydig deur die Britse regering beëindig, en op 4 November 1977 het die Verenigde Nasies ’n verpligte wapenverbod teen die RSA ingestel, iets wat veral die SA Vloot swaar getref het, siende dat Frankryk die verkoop van twee korvette en twee bykomende duikbote gekanselleer het.

Die politieke onderhandelinge wat vanaf 1990 tot 1994 in Suid-Afrika plaasgevind het, het – soos algemeen bekend is – tot die land se eerste volwaardige demokratiese algemene verkiesing in 1994 gelei. Vir die SA Vloot het die nuwe bedeling aanvanklik groot geleenthede gebied. Vir die eerste keer in bykans twee dekades kon die Vloot skepe oorsee ontplooi – om nou die nuwe vlag van die sogenaamde nuwe Suid-Afrika te gaan vertoon. ’n Groot aantal buitelandse vlootvaartuie het ook weer Simonstad en ander Suid-Afrikaanse hawens besoek, en soms ook aan gesamentlike oefeninge ter see deelgeneem.

Ongelukkig het die relatief voorspoedige tye nie lank geduur nie. Die land se verdedigingsbegroting is onder geweldige druk – iets wat ook die SA Vloot ernstig aan bande lê. Skepe kan nie gereeld soos beplan herstel en in diens gehou word nie. Gevolglik word skepe selde ter see ontplooi, wat weer negatiewe gevolge inhou vir opleiding, die opdoen van ondervinding ter see en moreel.

Van uitgebreide vlagvertoonvaarte is daar al etlike jare reeds geen sprake nie, en die vermoë om aan omvangryke oefeninge ter see – ook met besoekende skepe – deel te neem, is beperk. Blykbaar net een van die SA Vloot se fregatte en een patrollieboot aan die omstrede Will for Peace 2026-vlootmaneuvers om die Kaapse kus deelgeneem.

Suid-Afrika is veronderstel om ’n maritieme moondheid te wees. Geografies gesproke is die land ’n groot skiereiland, wat aan drie van sy grense deur die see omsoom word; met ’n kuslyn van ongeveer 2 800 km.

Minstens 90% van ons in- en uitvoere word deur ons hawens hanteer, en as maritieme knooppunt het die strategiese waarde van die Kaapse seeroete toegeneem, gegewe die onstabiele en gespanne internasionale geopolitieke konteks. Suid-Afrikaanse owerhede en die publiek in die algemeen, kan nie ’n landrot-mentaliteit en “seeblindheid” bekostig nie.

Volgens bronne (insluitende publikasies van die SA Vloot) in die openbare domein, beskik die SA Vloot tans op papier oor slegs drie duikbote, vier fregatte, drie meerdoelige patrolliebote, ’n gevegsteunskip en ’n opmetingskip, plus ’n aantal kleiner hawe- en ander bote.

Ten einde ons kuswaters behoorlik te kan patrolleer, uitgebreide vlagvertoonvaarte te kan onderneem (ter ondersteuning van buitelandse beleid), mag oor afstande te kan projekteer en, waar nodig, humanitêre en soek-en-reddingswerk te kan doen, moet die SA Vloot ideaal gesproke – buiten die vaartuie hierbo genoem – minstens drie bykomende meerdoelige patrolliebote, vier taamlik groot aflandige patrolliebote (Damen en Navantia ontwerp uitstekende sodanige vaartuie) en ’n tweede gevegsteunskip bekom.

Die land behoort ook twee kragtige diepsee-bergingsleepbote te hê. Geld moet ook beskikbaar wees om te verseker dat ten minste die helfte van die skepe te enige tyd ter see ontplooi kan word.

Maar dit is nie net die SA Vloot wat versterk moet word nie. Die SA Lugmag benodig ligte vragvliegtuie (soos die C-295) om die Dakotas te vervang, meer en nuwer weergawes van die C-130 mediumvragvliegtuie, en minstens vier swaar M-400 Atlas-vragvliegtuie, wat sal beteken dat die SANW self groter stukke toerusting oor lang afstande sal kan ontplooi pleks daarvan om vliegtuie ten duurste daarvoor te huur.

Maritieme patrollievliegtuie word ook dringend benodig, met C-295’s wat vir daardie doel omskep kan word. En die SA Leër benodig meer en moderne infanteriegevegsvoertuie, 105 mm-artillerie, en een of ander tyd ook nuwe ligte, mediumgrootte en swaar vragmotors. Om maar net enkele items te noem. Intussen moet die bestaande toerusting van al die takke van die weermag in stand gehou en waar nodig operasioneel aangewend kan word.

Brittanje en ander Europese moondhede sal waarskynlik nie daarin belangstel om ooit oorlogskepe permanent in Simonstad te stasioneer nie. Maar wat van die VSA? En die Volksrepubliek van China, Rusland of Indië? Waar pas die Simonstad-vlootbasis in by die huidige Suid-Afrikaanse regering se buitelandse beleid?

Suid-Afrika moet onder alle omstandighede absolute beheer oor die Simonstad-vlootbasis behou. Die land moet internasionaal waarlik neutraal staan.

Ten einde ons seewaartse en landsgrense se integriteit te verseker, moet die SANW behoorlik gefinansier word. Wat die SA Vloot betref, moet die regering by wyse van spreke ’n nuwe Simonstad-ooreenkoms aangaan, maar dié keer met die burgers van Suid-Afrika; ’n Ooreenkoms wat onder meer sal bepaal dat die Vloot in alle opsigte in staat gestel sal word om sy mandaat te kan uitvoer om die land en al sy inwoners te beskerm. Dit geld ook die SA Leër, Lugmag en Mediese Diens.

In die loop van meer as 20 jaar het ek al baie oor die SANW se geskiedenis en uitdagings geskryf. Ander navorsers het dit al in veel meer besonderhede gedoen. Ons moet aanhou skryf en debatteer, maar diegene wat in ’n posisie is om iets daadwerkliks te doen om die SANW weer op te bou, moet dit dringend doen. Die SANW kan gered word, maar die tyd raak min.

• André Wessels is ’n senior professor (emeritus) in geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat, en is as navorsingsgenoot steeds aan dié instelling verbonde. Hy is die outeur van ’n groot aantal publikasies, insluitendeA century of South African Naval History: The South African Navy and its Predecessors, 1922-2022 (Naledi, 2022 en 2023).

weekliks@rapport.co.za

100003

SPELETJIES VANDAG

CTA