Stemme

Michael le Cordeur: Dít is hoekom gr. R belangrik is

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Noudat gr. R verpligtend is, wil die departement van basiese onderwys die uitdagings hieraan verbonde oorkom deur met ouers saam te werk sodat almal op dieselfde bladsy is oor voorskoolse onderrig, skryf Michael le Cordeur.

Sedert Angie Motshekga, vorige minister van basiese onderwys, die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela) sewe jaar gelede geproklameer het, het sommige organisasies, politieke partye en individue klem gelê in die media op twee klousules, naamlik dié oor taal- en toelatingsbeleid.

Min melding is gemaak van die ander 56 klousules, waaronder die instelling van verpligte gr. R.

Gr. R was nog altyd deel van die Suid-Afrikaanse kurrikulum en dateer van 2002 se kurrikulum. Nadat tekortkominge waargeneem is, is die beleid in Januarie 2012 aangepas, wat gelei het tot die totstandkoming van die Kurrrikulum-en-assesseringsbeleidsverklaring (Caps). Dit is dus nie nuwe wetgewing nie. Dit was nog altyd daar, maar was nie verpligtend nie en kon daarom nie afgedwing word nie.

Ingevolge Bela, wat pres. Cyril Ramaphosa verlede jaar onderteken het, is ouers egter nou verplig om toe te sien dat hul kinders gr. R bywoon in die jaar waarin die kind ses jaar oud word. Volgens Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, gaan die departement voort om gr. R in te stel, ondanks talle uitdagings. Maar wat behels die gr. R-kurrikulum en waarom word dit so belangrik geag?

Gr. R (in Engels is dit reception year) is die skooljaar voor gr. 1 en is ingestel om leerlinge voor te berei vir formele onderrig. Dit is 'n kritieke tydperk in voorskoolse onderrig wat kinders help om die sprong te maak van informele leer by die huis of kleuterskool tot 'n gestruktureerde leerervaring. Kinders kry vir die eerste keer te doen met formele kurrikula vir die aanleer van vaardighede wat nodig is vir akademiese sukses. As kringbestuurder in Stellenbosch het gr. R-onderwysers my gereeld meegedeel dat dit hulle soms 'n jaar neem om leerlinge skoolgereed te kry voordat hulle met die amptelike kurrikulum kan begin.

Luidens Caps is gr. R 'n integrale deel van die grondslagfase, waar die fokus op drie vakgebiede val, naamlik taal, wiskunde en lewensvaardighede. Caps vir die grondslagfase se taal en lewensvaardighede dek gr. R tot gr. 3, maar daar is 'n aparte beleidsdokument vir wiskunde. Dit word nie van gr. R-onderwysers verwag om taal, wiskunde en lewensvaardighede formeel te onderrig nie, maar om gr. R-leerlinge aan hierdie vakgebiede bloot te stel deur geïntegreerde speel-gegronde aktiwiteite.

Hoekom is dit belangrik?

Gr. R is om veelvoudige redes belangrik:

• Ontwikkeling van die basiese vaardighede

Gr. R ontwikkel die ontluikende kind se kritiese vaardighede soos basiese geletterdheid en syferkundigheid. Die gebrek aan gr. R is die vernaamste rede waarom Suid-Afrika laaste uit 64 lande geëindig het in die internasionale geletterdheidstoetse (PIRLS) asook die TIMMS-toetse vir wetenskap en wiskunde. Gr. R ontwikkel ook die kind se fynmotoriese vaardighede (soos om met 'n skêr te knip, wat later weer gaan help met skryf) asook groter motoriese vaardighede soos om 'n bal te vang.

Gr. R help kinders met die ontwikkeling van fyn motoriese vaardighede, soos om met 'n skêr te kan knip. Foto: Getty Images
Gr. R help kinders met die ontwikkeling van fyn motoriese vaardighede, soos om met 'n skêr te kan knip. Foto: Getty Images

• Sosialiseringsvaardighede

Kinders leer sosiaal-emosionele vaardighede wat hulle in staat stel om interaksie te hê met hul portuurgroep. Hulle leer sosiale waardes aan, soos wat aanvaarbare gedrag is en wat nie. Dit bevorder dissipline en die vorming van gesonde vriendskapsbande. Hierdie sosialiseringsproses is belangrik om selfvertroue en emosionele weerstand te bou.

• Aanpassing by skoolroetine

Gr. R stel die kind bekend aan die skool se roetine en help hulle om aan te pas by die struktuur, reëls en verwagtinge van die formele skoolomgewing. Dit help dat die oorgang na gr. 1 glad en minder stresvol verloop.

• Kweek 'n liefde vir leer

Ondanks die speel-gegronde en interaktiewe leer, kweek gr. R 'n positiewe ingesteldheid jeens skool. Kinders leer om skool te geniet, wat kritiek belangrik is vir 'n langtermyn- akademiese loopbaan.

• Kweek 'n liefde vir wiskunde

In 'n tyd waar ons bekommerd is oor die afname in matrikulante wat wiskunde neem, is dit raadsaam om te kyk wat gr. R bied ten opsigte van die aankweek van 'n positiewe ingesteldheid jeens wiskunde. Matrikulante wat sê dat hulle die vak haat, het dalk nie in gr. R blootstelling gehad aan wiskundige aktiwiteite soos syferspeletjies, verhoudings tussen klein en groot, patrone en funksies (die basis van algebra), ruimtes en verskillende vorms (geometrie), asook afmetings en data-hantering (meetkunde) nie. Selfs al was dit speel-speel, word die grondslag van wiskunde in gr. R vasgelê.

Vroegtydige blootstelling aan wiskunde - reeds in gr. R - kweek by kinders 'n liefde vir dié vak. Foto: Getty Images
Vroegtydige blootstelling aan wiskunde - reeds in gr. R - kweek by kinders 'n liefde vir dié vak. Foto: Getty Images

Behoefte aan onderwysers

Gr. R is 'n hoogs gespesialiseerde vakgebied en 'n taak wat nie aan enigeen toevertrou kan word nie.

Volgens amptelike data van die departement van basiese onderwys is daar tans 792 309 gr. R-leerlinge in 17 188 skole. Dit het 'n gunstige impak op die skoolgereedheid en die akademiese prestasie van leerlinge.

Aan die negatiewe kant is daar 21 207 gr. R-onderwysers van wie 16 520 (dus 78%) nie gekwalifiseerd is om vir gr. R klas te gee nie. Die meeste gr. R-onderwysers ontvang 'n (laer) salaris van beheerliggame. Daar is dus 'n groot behoefte aan gekwalifiseerde gr. R-onderwysers, veral noudat dié graad verpligtend is. Die staat het 'n verantwoordelikheid ten opsigte van die finansiering van gr. R, maar soos ons weet, is die staatskas leeg. Dit plaas verdere druk op die private sektor.

Voordelig vir ouer en kind

Kinders én ouers trek voordeel uit gr. R. Leerlinge word akademies gereed gemaak en is beter voorbereid op akademiese uitdagings. Danksy die holistiese benadering van gr. R is leerlinge wat dié graad deurloop, kognitief, emosioneel en sosiaal goed aangepas. Leerlinge is meer onafhanklik en het die nodige selfvertroue, wat help om kritiese denke en probleemoplossingsvaardighede te ontwikkel.

Ouers word beloon met gemoedsrus in die wete dat hul kind gehalte-onderrig in 'n veilige omgewing ontvang. In die gr. R-jaar is daar gereelde interaksie tussen ouer en onderwyser. Sodoende word 'n gesonde band tussen ouer en onderwyser gesmee, wat lei tot gesonde kommunikasie en ouerbetrokkenheid wat die kind tot voordeel strek. Die doel is om 'n naatlose en aangename oorgang na die skoolomgewing vir ouers en kinders te bewerkstellig.

Prof. Michael le Cordeur Foto: Gallo Images
Prof. Michael le Cordeur Foto: Gallo Images

Uitdagings

Ondanks al die voordele van gr. R is daar talle uitdagings, soos die gebrek aan 'n volhoubare infrastruktuur. Gr. R vereis spesiale klaskamers en speelruimtes, asook opgeleide onderwysers, veral in landelike gebiede en townships. Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys in die regering van nasionale eenheid (RNE), se onderneming om hierdie uitdagings landwyd aan te spreek word dus verwelkom.

Die vraag is hoe gaan die departement monitor of alle kinders vir gr. R ingeskryf is en hoe gaan die departement teen ouers optree wat hul plig versuim? Volgens Gwarube wil sy saam met ouers werk om hulle bewus te maak van hul verantwoordelikheid. Ek verwelkom haar benadering. Om ouers in die tronk te stop gaan nie die probleem oplos nie (ingevolge die wet kan ouers tot 12 maande tronkstraf opgelê word indien hul kind wat veronderstel is om in gr. R te wees nié in die skool is nie). Dit is 'n opvoedingstaak wat tyd gaan verg.

Deur gr. R verpligtend te maak word 'n stewige grondslag vir suksesvolle onderwys en toekomstige prestasie vir alle kinders gelê. Ja, daar is nog baie uitdagings wat oorkom moet word, maar die RNE se verbintenis tot vroeëkinderontwikkeling is iets wat lankal moes gebeur het en 'n groot stap in die regte rigting om vir al ons kinders gelyke toegang tot gehalte-onderwys te bied.

• Le Cordeur is 'n emeritus professor in opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans en 'n onderwyskonsultant. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM