Daar is plek vir gesonde debatvoering en meningsverskille in Afrikaanse kerke. Dis wel populistiese sienings wat op 'n inkwisisie-styl afgedwing word wat die nare beeld skep wat kerke soms uitstraal, sê Tanya van Wyk. Hanri Wondergem het met haar gesels.
Lees jy van 'n "medeprofessor in die departement sistematiese en historiese teologie", dink jy dalk outomaties aan 'n wyse, grys ou man wat in hogere taal praat en steeds baklei om die vakgebied en die kerk se gebruike van die oertyd te beskerm.
Maar dis prof. Tanya van Wyk wat só op die Universiteit van Pretoria (UP) se webwerf voorgestel word, 'n 43-jarige vrou met 'n modieuse dikraambril, 'n nuwerwetse kort kapsel en sterk menings.

"Haar huidige navorsingsfokusse sluit diskoerse oor inklusiewe taal, politieke teologie, gender, feministiese teologie en etiek en godsdiens en volhoubare ontwikkeling met 'n fokus op geslagsgelykheid in," lui dit verder.
En, lees 'n mens, Van Wyk is onder andere ook 'n navorsingsgenoot aan die Humboldt-Universiteit (in Berlyn, Duitsland) en 'n geordende predikant van die Nederduits Hervormde Kerk van Afrika (NHKA).
Sy is natuurlik ook by Beeld-lesers bekend as gereelde rubriekskrywer wat amper enige onderwerp onder die son aanpak.
Maar wat beteken "sistematiese teologie" - die studieveld waarin sy haarself bevind?
"Sistematiese teologie is 'n ander beskrywing van wat ons jare gelede sou beskryf het as dogmatiek of dogmatologie," sê sy.
"Ek bestudeer die kerk se kerkleer. Ek hou nie van die woord dogma nie. Dit druk 'n dinamiese geloofsbelydenis in 'n boksie in.
"Vir my gaan dit oor die grammatika van geloof. Dit is die manier hoe die kerk oor eeue heen taal ontwikkel het om iets oor God te bely.
"Ek verstaan sistematiese teologie as iets meer dinamies as dogmatiek. Dis die filosofiese stroom van teologie," sê Van Wyk, wat ook Christelike etiek doseer - "die praktiese been van sistematiese teologie".
‘Trekkrag'
Van Wyk is op 5 April 1981 in Boksburg gebore en het haar kinderjare hier aan die Gautengse Oos-Rand deurgebring.
"My gesin het uit vier mense bestaan. My ma (Wilna), my ouma (Peggy) en my jonger boetie (Tobie)."
'n Jaar of twee voordat sy in 1999 gematrikuleer het, het sy eendag skielik die "trekkrag in die maag" (vir ander bekend as "die roeping tot die bediening") gevoel.
Haar ouma en ma het met trots aan hul destydse predikant van haar roeping vertel.
"Maar hy het aan my gesê die tyd is nog nie reg vir vroue om predikante te word nie."
Al het die Hervormde Kerk toe reeds al sowat twee dekades lank vroue as predikante georden, is sy effens van stryk gebring. Sy het ander studierigtings, soos joernalistiek of politieke wetenskap, oorweeg.
"En toe voel ek weer die trekkrag."

Sy het van 'n beursskema van die Hervormde Kerk te hore gekom. "En die res is geskiedenis."
Maar het die trekkrag haar dan nie in die bediening ingetrek nie? Daar is verskillende maniere van bediening, sê Van Wyk.
"Die akademie is my manier."
Sy het ná skool eers twee jaar as 'n kelner in 'n koffiewinkel gewerk om geld te spaar om verder te gaan studeer. In hierdie twee jaar het sy Grieks en Hebreeus deeltyds deur Unisa gestudeer.
In 2002 het sy met voltydse studie aan die UP begin. Vier grade in teologie het gevolg - 'n BTh, MDiv, MTh en PhD.
Leierskap
Maar dis frustrasie oor die slakkepas waarteen vroue as leiers verkies word, wat Van Wyk na die volgende hoofstuk van haar lewe gelei het.
Sy sê in die afgelope 100 jaar is nog net een enkele vrou as hoof van 'n departement in die UP se teologiefakulteit aangestel.
"Dis dit. Een vrou."
Sy het daarom besluit om 'n MPhil in sakebestuur aan die UP se Albert Luthuli-leierskapinstituut aan te pak met verantwoordelike leierskap as fokus.
Terwyl sy nog verlede jaar daarmee besig was, het die UP besluit om 'n leierskapprogram vir vroue te ontwikkel en haar genader om die koördineerder daarvan te wees. Sy benader dié taak met een groot vraag: "Wat het 'n institusionele kultuur nodig om te verander om ontvanklik te wees vir die idee van vroueleiers?"
Sy sê dit help nie as daar 'n program geskep word en vroue word gestuur om hul leierskap te ontwikkel, maar dan keer hulle terug na 'n instelling wat nie ontvanklik daarvoor is nie.
Die program is nog in sy beginjare, maar sy hoop om uiteindelik die UP te omskep in " 'n sentrum van uitnemendheid vir vroueleiers". Nie net in die akademie nie, nie net in die teologie nie, maar deur die bank.
Van Wyk ontvang haar MPhil-graad volgende week en gaan by die gradeplegtigheid ook vereer word as die toppresteerder in die kursus.
"Ek is 'n teoloog wat verlede jaar by 'n ander fakulteit (ekonomiese- en bestuurswetenskappe) ingeskryf het en ek is die toppresteerder . . . Ek het met lof geslaag."
Sy is nie net trots op die prestasie nie, maar dit het haar opnuut laat besef hoe waardevol haar eie vakrigting is. "Teologie is kompleks. Dit leer jou om te dink."
Van Wyk beskryf haarself as iemand met 'n sterk persoonlikheid. Maar, verklap sy, haar sterkste eienskap is ook haar swakste eienskap. "Ek vat nie nee vir 'n antwoord nie."
Sy bly in 'n woonstel 'n klipgooi van die UP se kampus af. "Ek is nie getroud nie. Ek het nie kinders nie."
Sy was voorheen in 'n kortstondige huwelik wat in 'n egskeiding geëindig het.
Uit die aard van die "komplekse toneel van hoër onderwys" moet sy reis en laataande werk. "Maar dis lekker. Dit is 'n voorreg."

Sy beskryf die Tuks-kampus as "een van die mooistes in die land" met ongelooflike tuine. Van haar werkplek af het sy 'n uitsig op 'n labirint wat in 2017 gebou is toe die teologiefakulteit 'n eeu oud geword het.
'n ‘Alleen-pad'
Van Wyk preek steeds af en toe by 'n kerk "anderkant die boereworsgordyn". Sy is gemeentelid van die Maranatha-kerk in Parktown, wat die Nederlandssprekende gemeente van die Hervormde Kerk is.
Toe Tobie in Januarie 2016 op die ouderdom van 33 jaar weens hartversaking sterf en Peggy in September van daardie jaar op 85 dood is, het sy gekies om haar broer en ouma self te begrawe. "Dit was 'n moeilike voorreg. Dit was my laaste eerbetoon en eerbewys aan hulle. En ek het niemand anders vertrou om dit te doen nie," sê sy.
Hoewel 2016 'n moeilike jaar was met die afsterwe van twee geliefdes, staan dit nie vir haar uit as die seerste seer nie, juis omdat sy anders dink oor die dood. "Ek beskou die dood as deel van die lewe."
Haar seerste seer was eerder die "alleen-pad" wat sy moes stap om haar doktorsgraad te verwerf. Dit het baie onafhanklike navorsing vereis en sy moes lang tye op haar eie werk. "Dit was 'n uitdaging. Dit het my gelouter op 'n manier wat ek nie verwag het nie."
Van Wyk het boonop een van die moeiliker stukke in die kerkleer, "Die belydenis van die Christelike kerk oor God as 'n Drie-eenheid", as onderwerp vir haar doktorale proefskrif gekies.
In teologie, sê sy, staan dit as die "triniteitsleer" bekend. "God as 'n Drie-eenheid verteenwoordig 'n verskeidenheid as 'n eenheid. Skepper (God). Trooster (Gees). Verlosser (Christus).
"As ons net dié verskeidenheid en verhouding kan verstaan as metafoor vir hoe kerkwees behoort te lyk - waardering van verskeidenheid, waardering vir verhoudings en verhoudings wat nie hiërargies is nie, wat soort van gelyk is. Dit was die hooftema van my proefskrif, 'n trinitariese ekklesiologie."
Wat dit eintlik in leke terme beteken, sê sy, is dat sy die belydenis van God as Drie-eenheid gebruik "om ietsie oor kerk te probeer verstaan in die 21ste eeu".
Twis en tweespalt
Verskille en onenigheid in die kerk, en ook in die tradisionele susterkerke, kom al jare lank.
"Rassespanning, seksualiteitskwessies, daar is nagedink oor hoe kinders gedoop moet word en of hulle nagmaal moet gebruik . . ."
Dan vat dit boonop baie lank vir kerke om 'n besluit te neem, "soos dit maar gaan met instellings wat oud is".
Gunstelinge:
Stokperdjies: Om te skilder met olieverf
Boek: Die Harry Potter-reeks
Rolprent: Contact
Gereg: Indiese kerrie
Drankie: Rooiwyn
Woord: Ongestadig. Sinonieme is veranderlik, wisselvallig, wispelturig, onvas, onbestendig, wisselbaar.
Uitdrukking: "Dit kom uit Etienne van Heerden se boek Gebeente, toe die hoofkarakter na die sterre gekyk het en gepraat het van God se spandabelrigheid."
Gunsteling-Bybelvers- of -boek: "Die boek Prediker. Veral die deel wat handel oor 'n tyd om te kom en 'n tyd om te gaan (Prediker 3:1-11)."
Van Wyk verstaan die frustrasie daaroor, sy ervaar dit self. Sy glo "goeie debatvoering" is gesond, maar dis ongelukkig nie wat sy aldag in die kerk ervaar nie.
"Ons leef in 'n tydperk waar mense nie gemaklik daarmee is om op 'n spektrum oor goed na te dink nie. Mense dink in uiterstes. Met oogklappe aan. In boksies."
Sy sê as die gevegte in die kerk bloot gesonde genuanseerde meningsverskille was, sou daar nie rede tot kommer gewees het nie.
"Maar ons sien hierdie populistiese benadering gekoppel met 'n soort van 'n fundamentalistiese benadering wat nou en dan intree. Dan word daar woorde soos skeurings rondgegooi. Dit is ongelukkig die enigste kant van die kerk wat baie mense sien."
Die oplossing?
"Ons moet leer om met versoenende verskeidenheid te werk," verklaar sy.
"Ek dink nogal die hervormde teologie het al die bestanddele en die verwysingsraamwerk om vloeibaar te wees om eenheid en verskeidenheid te akkommodeer."

Bid vir wysheid. Bid vir onderskeidingsvermoë. Bid vir insig sodat ons ons hande kan uitsteek en ons moue kan oprol.
Wat moet mense dink wat van buite die kerk na die onenigheid in die kerk kyk? "Onthou dat die kerk uit mense bestaan, mense wat struwelinge het en nie oor alles saamstem nie."
Wanneer die kerk nie oor iets saamstem nie, word dit uitgebasuin. "En dis omdat daar die idee is dat die kerk veronderstel is om perfek te wees. Maar wie het gesê die kerk is die perfekte plek?"
Bid daarvoor
Het sy raad vir gelowiges oor die komende verkiesing? "Almal bid dat die party wen wat hulle ondersteun, so vir wie luister God?" vra sy glimlaggend.
"Dink eerder na oor wat jy met jou eie twee hande kan doen om die samelewing 'n beter plek te maak."
Omdat ons onsself soms in 'n maalkolk bevind, is dit dikwels maklik om die skuld vir dit wat verkeerd is, op iemand anders te plaas. "Ja, daar is leiers wat nie doen wat hulle moet nie. Maar ons moet na buite kyk en onsself afvra hoe ons 'n verskil kan maak voordat ons kla."
En as jy wel oor politiek wil bid?
"Bid vir wysheid. Bid vir onderskeidingsvermoë. Bid vir insig sodat ons ons hande kan uitsteek en ons moue kan oprol."
• Wondergem is Beeld se dagredakteur.
Hoe gaan Van Wyk te werk om haar rubriek vir Beeld te skryf?
"Ek wou baie lank eintlik 'n joernalis gewees het. So dis vir my so lekker dat ek vandag vir die koerant kan skryf," sê sy.
Haar eerste rubriek het in 2019 verskyn, "oor voorskote wat vir verskillende mense verskillende betekenis het".
Sy hou altyd haar oor op die grond vir rubriek-idees en let op as mense om haar praat. Dan maak sy 'n knoop in haar oor (of trek haar notaboek nader om die idee neer te pen). Sy put inspirasie uit alles, van rolprente tot plakkate op lamppale en vroue wat klets op die Gautrein.
Die idees word rubrieke terwyl sy in die bad ontspan en Sondagmiddae is haar gunstelingskryftyd.
"Elke rubriek is anders. Jy raak iemand óf op 'n intellektuele vlak aan óf jy raak hulle op 'n sielsvlak aan."
Van Wyk laat haar lei deur die kreatiewe proses en geen onderwerp is taboe nie.

















