Dié Oop Kaarte-onderhoud het oorspronklik in Die Burger verskyn op 4 September 2009. Netwerk24 publiseer dit weer met Martie Retief Meiring se dood.

"Ek het nou net klaar gekraam!"
Martie Retief-Meiring geniet die oorblufte stilte wat volg op dié ses woorde. Daardie heerlike lag klink op wanneer sy verduidelik sy het pas haar Donderdag-rubriek Van Alle Kante voltooi.
"Enige skryfwerk is 'n Via Dolorosa. Maar as jy eers voor daardie rekenaar gaan sit, dan word dit 'n ander storie. Dan word dit eintlik 'n epiese tog - jý en die rekenaar. Jy panic as jy nie aan iets kan dink nie. Jy panic ook oor 'n struktuur. Jy is nóóit tevrede nie. As ek moet ophou skryf, dan weet ek wragtig nie wat ek sal kan doen nie."
Haar rubrieke laat mense nie koud nie. Sy skryf reguit en lekker oor taai kwessies. As dit nie "Rugbyafrikaans" op Loftus is nie, loop Julius Malema deur.
"Ag, jy weet, partykeer dink jy: O jinne, hiérvan gaan mevrou So-en-so nie hou nie! Of: Ou dominee sal nou baie die hel in raak. Jy weet, ek het 'n wonderlike man hierso, ou mnr. Dempsey. Hy is nou al in die negentig - 'n fantastiese mens. Maar dan dink ek soms: O, vandag gaan ek vir mnr. Dempsey kwaad maak!
"Ek verwelkom nogal kritiek. Al is dit partykeer nie in die kol nie, is dit altyd waardevol. Ek het hierso 'n paar detractors wat vies raak vir my; eintlik meer die idees. En ek het ook 'n paar mense wat my gedúrig op my taal wys, waarvoor ek eintlik baie dankbaar is. So, jy het later so 'n netwerk. Jy weet: O hel, vandag gaan ek vir Minnaar die dúiwel in maak met hierdie taal."
Orde van Tafelberg
Indien 'n mens op 'n grou lenteoggend in Hertestraat in Stellenbosch afstap, gaan jy beslis twee keer kyk na die vrou en haar poedels wat daar oorkant in die deur van 'n slawehuis verskyn. Die grys strook in die kuif van haar blinkbruin bob kan jou aan Susan Sontag laat dink. En daar is ook iets van 'n Christiane Amanpour aan haar: elegant, vol selfvertroue, kosmopolities.
Maar dit is in die gesprek met Martie Retief Meiring dat jy ook van die ander eienskappe van Sontag, die groot intellektueel, en Amanpour, die groot joernalis, by haar aantref.
Sy is pas deur Naspers met die Orde van Tafelberg vereer. Dié orde gee erkenning aan " 'n spesiale vennootskap met 'n Naspers-genoot". Haar "vennootskap" strek oor dekades. Toe sy ná haar studie aan die Universiteit van Stellenbosch by Die Oosterlig gaan werk het, was haar pa baie bly. "Dit is die universiteit van die lewe wat jy nou betree," het hy aan haar gesê.
"Dit was, nè!" roep sy uit.
Inderdaad. Sy het voortgegaan en 'n internasionaal gerekende joernalis geword wat uit Londen vir Nasionale Koerante verslag gedoen het, maar ook vir die BBC gewerk het. In Suid-Afrika het sy buiten vir publikasies soos Die Vaderland, Die Burger en Huisgenoot natuurlik ook vir Vrye Weekblad geskryf.
Ons sit in die geurige agtertuin van die slawehuis. Jasmyn rank teen die muur en 'n verbleikblomstruik staan in blom.
Martie en haar man, die argitek en kunstenaar Hannes Meiring, het hulle 'n aantal jare gelede uit Pretoria in die Wes-Kaap kom vestig - aanvanklik op Vredenburg aan die Weskus, en later op Stellenbosch, waar hul dogter, Kabous Meiring, gestudeer het.
'n Opmerking oor hoe mooi dit hier is, laat haar sê: "Hierdie is die onderdorp! Jy moet gaan na Mostertsdrift toe. Jy moet die dorp vat op jou terme. Hier is genoeg. Daar's goeie konserte en daar is goeie kuns. Jy kan eintlik hier lewe in 'n amper beskutte . . . Dis 'n dorp wat skinner. Jy moet weet jy kan nie by elke dinéé sommer net sê wat jy wil nie."
Sy lag.
"En as jy oor Afrikaans praat, weet jy nie of die ou hiérdie kant of die ou hiérdie kant van jou pro of teen is nie. Die T-opsie en sulke dinge . . . it is alive and well and living in Stellenbosch."
Is dit lekker om in so 'n dorp te woon?
"Ja," sê sy met 'n glimlag. "Maar, kyk, my groot ambisie is om in 'n Joodse ouetehuis te gaan bly in Seepunt. Hulle loop lekker daar langs die see; hulle speel baie brug, en ek is mos nou sélf 'n bietjie Joods, so dit is vir my wonderlik. Ek dink nie hulle sal baie daarvan hou dat 'n mens so íngaan in hulle wêreld nie, maar ja, dit moet lekker wees."
'n Vonkelende ironie, 'n ondeundheid, is nooit ver van Martie af nie.
"My oumagrootjie en haar man moes kersten om in Suid-Afrika te kom. Hulle het van Holland af gekom; hulle was Van Nierops. Sy was 'n heeltemal merkwaardige mens. Sy was 'n musikus, en sy het ook toe in die NG Kerk orrel gespeel. Die Toringkerk in die Paarl."
Sy praat nou sagter. Daar is 'n verhoogde intensiteit in haar stem.
"Daar is iets so ongelooflik onsterfliks aan die Joodse gees. En daardie strewe na kennis! Hulle is so wys, só wys. Ek het 'n taamlike boekery oor die Joodse geskiedenis en Jode en so aan."
Is dit wat sy so in die Jode bewonder, nie ook wat van háár so 'n aantreklike mens maak nie? Martie die mensch.
"My maatjie toe ek baie klein was, Zelda, sy was 'n Jodin . . . sy is natuurlik nog 'n Jodin. En Zelda se ma is in die oorlog dood, en toe het haar pa-hulle uitgekom hiernatoe.
"En dit was die hártseerste ding omdat sy nie hemel toe sou gaan nie omdat sy nou nie vir Jésus ken nie. En toe het haar tante en my ma 'n ooreenkoms: Zelda het altyd 'n Krismispresent gekry, en ék het 'n ekstra bord kos gekry by Paasfees. So, ons het mekaar se gelowe op daai manier geëer.
"Ons het in Johannesburg gewoon. My pa was in die . . . destyds was die binnelandse en buitelandse diens saam gewees. Hy was 'n staatsamptenaar. Soos hy gesê het: a simple servant."
Hulle het rondgetrek.
"Ons was in Johannesburg, maar die Kaap was ons húis gewees. Ons het elke jaar teruggekom. Ons het altyd gesê ons gaan huis toe. Maar ons was ook in Durban, en dit is daar waar ek op hoërskool was. Ek was ook vir 'n jaar in Helpmekaar (Johannesburg); in st. 6."
Slawe
En nou is sy, 'n Paarlse Retief, weer hier in die Boland.
"Ek is baie gelukkig in dié opsig dat ek nou ook taamlik met Idasvallei en Cloetesville te doen het. So jy het te doen met die spektrum van die mense hier. Kayamandi ook. En dít is wat so lekker is.
"Hene, jy moet party van die stories in Cloetesville hoor van die vroeër jare. Ook veral in Idasvallei. Toe hulle nou nog getrek het, die mense . . . uit die dorp geskuif is. Dán besef jy wat eintlik die vesel van die dorp behoort te wees.
"Ons het ook mos nou die jaar voor verlede jaar begin met die Trammakassi-projek, die slaweprojek, om ons eie slawegeskiedenis hier na te vors. Jissie, dit was so 'n verrykende, fantastiese begin.
"Jy ken die plase, jy weet wie waarheen gegaan het: Ansela wat gekom het na Muratie toe . . . en hier in die Jonkershoekvallei, wié was daar? Antonie van Angola was daar.
"Hier is iets wat so tasbaar nog is aan ons ou slawegeskiedenis, en dít is wat vir my . . . As ek 'n droom vir Stellenbosch het, dan is dit dat die slawegeskiedenis in 'n sin ons identiteit moet wees. Die slawe was die boere, hulle was ook die vakmanne gewees. Hulle het so 'n groot rol gespeel in die vestiging van Stellenbosch."

Vroeër het ek deur die huis gestap en die lieflike kunswerke geniet. Ons praat oor Irma Stern "wie se regte storie nog geskryf moet word". Martie vertel van die uitdagings wat 'n biograaf in die gesig staar. Sy het Elita en haar lewe met FW de Klerk geskryf en is nou weer besig met 'n biografie, waaroor die sluier nog nie gelig kan word nie.
"Ek het so baie ander dinge ook. 'n Mens moet afskaal. Ek was nog altyd ook baie betrokke by Aardklop (aanvanklik as 'n direkteur en nou as fasiliteerder van die Sol Plaatje-diskoersreeks en as 'n keurder van dramatekste), en dit het baie tyd geneem. En die Trammakassi . . . Jy is besig met allerhande goed wat jy nie eintlik behoort te doen nie. Dit is tydrowend. As jy skryf, moet jy skrýf.
"Buiten die rubriek het ek ander skryfwerk. En ek sê nie nee nie - dís die groot ongeluk. Noudat ek nie meer so baie weggaan nie, is dit vir my baie makliker en lekkerder. Jy weet, ek kan gaan sit soggens - ek werk gewoonlik so vyf ure, en dan loop ek met die honde of ek lees."
In wat nou volg, word ons daaraan herinner dat dit ook Martie se besonderse geesdrif en lewenslus is wat van haar so 'n geliefde mens maak:
"Máár ek het 'n baie lekker ander ding wat ek doen." Sy bly stil. "Ek haak uit! Ek het nóú weer uitgehaak. Ons is so 'n groot klomp mense wat een keer 'n jaar - die einde van Augustus - Nieuwoudtville toe gaan. Ons gaan blomme kyk, en die mans kyk rugby en ons hou groot partytjie. Dit is só ontspanne. Nou sien jy mense wat jy net een keer in 'n jaar sien. Dis 'n wonderlike ding. Dis soos 'n Stammtisch; soos 'n irreverent nágmaal."
Nuuskierig
Hoekom sê sy nie nee nie?
"Ag, ek dink dis nuuskierigheid. En dis altyd 'n uitdaging. 'n Mens wil dink aan jou eerste sin. En dis 'n ding van: As ék dit nie doen nie, gaan iemand dit doen wat nie so goed is nie. Nie dat ek so baie van my werk dink nie . . . want ek wil byvoorbeeld nadat dit verskyn het, dit nooit weer lees nie."
Sy sê dit is ook nuuskierigheid wat haar by Vroue vir Vrede, Kontak en partypolitiek (in 1989 die Demokratiese Party se kandidaat in Pretoria-Oos) betrokke laat raak het.
"Dis blooming well nuuskierigheid! Kyk, jy weet ek het in 'n politieke huis grootgeword - Sap en Nat. Politiek was altyd 'n gesprek in ons huis. Daar was altyd opponerende menings. Ek het baie vroeg geweet ek is 'n Jan Smuts-man en my broer is 'n D.F. Malan-man.
"Dit is in jou gene om betrokke te wees by dinge wat jou regtig raak. Die dinge wat my regtig raak, is vroue - en veral swart vroue. Ek het wónderlike vriendskappe en ervarings en dinge geleer by swart vroue; die stedelike swart vroue.
"Met Vroue vir Vrede en Kontak het ons hierdie wonderlike vriendskappe en verbintenisse opgetel. Dis iets wat vir altyd by 'n ou bly . . . Ek is betrokke by kunsgoed en so aan - dis ook 'n belangstelling; dis 'n pássie.
"Man, ja, ek sê jou mos: Die groot ding is 'n mens sit en gesels met 'n klomp mense en dan raak jy opgewonde oor 'n idee, en as jy jou weer kom kry, is jy viervoet vás in die idee en aan die werk en so aan."
Sy begin 'n ou deuntjie neurie: I can't say no!


















