Ds. Ben Kotzé is destyds as die “predikant van die bergies” bestempel, maar hy is ook die institusionele geheue van Observatory buite Kaapstad. Hy het met Willemien Brümmer gepraat oor aardse wonderwerke.
Die voormalige NG pastorie met die lae siersteenmuurtjie en groen ysterhekkie is een van die min in die Kaapse voorstad Observatory sonder elektriese heinings en vestingmure.
Dis vanuit die staanspoor duidelik ds. Ben Kotzé se deur staan vir ’n ieder en ’n elk oop – van kunstenaars en skrywers tot haweloses, omdat die “hemelpoort vir almal beskikbaar is”.
Byna nes die eenvoudige Igreja das Fronteiras teenaan die sakristie in Noord-Brasilië van wyle Dom Hélder Câmara, oftewel die “biskop van die agterbuurte”, word dié oudpastorie, Betesda, skynbaar deur “suiwer genade” beskerm.
Kotzé (73), wat al meer as 47 jaar saam met sy vrou, Heréza, hier woon, spring flink op en gaan haal ’n boekie met die einste Câmara se meditasies. “Ek glo nie dit (om jou huis in ’n fort te verander) werk nie. Câmara het gesê jy kan nie beweer jy glo in die Here, maar jy sluit al jou deure nie.”
Hy vertel een van baie staaltjies: “Omdat hy teen die bewind gepraat het van daai jare, het die staat iemand gestuur om hom te vermoor. Die ou het aan die deur geklop en Câmara het hom genooi om in te kom en toe vra die ou: ‘Maar waar is Dom Hélder Câmara?’
“Hy antwoord toe: ‘Dit is ek’ en die huurmoordenaar sê: ‘Maar ek kan jóú tog nie doodmaak nie!’ ”

Ben lag rympies af in sy sonlig-deurdrenkte sitkamer van waar hy kan uitkyk oor Collingwoodstraat en die wel en wee van ’n gemeenskap wat hy al byna ’n halfeeu dien. “Câmara is ook die biskop wat gesê het as jy ’n olifant sien en hy staan met sy poot reg om ’n muis te vertrap, en jy doen niks nie, is jy aan die kant van die olifant.”
Staggie en die limousine
Dié predikant wat hom hier in sy “huis van genade” nog altyd aan die kant van die muise geskaar het, tree einde vanjaar uit as leraar by die Ebenezer-gemeente in Woodstock, wat in 1839 vir vrygestelde slawe gestig is.
In 2022, ná sy 70ste verjaardag, moes hy ook uittree as predikant van die laaste NG gemeente in Observatory, wat hy sáám met sy VGK-gemeente deur noodtoestande en Apla-aanvalle en kwynende getalle sou lei. Hy bly egter uitvoerende hoofbeampte van Loaves and Fishes, wat volgende jaar al drie dekades agter die lang ry palms in Chathamweg sal staan en al vir rofweg 280 000 mense skuiling en kos gebied het.

Dié “plek van vernuwing” was die logiese opvolg op die sopkombuis oorkant die KwikSpar wat Ben en Heréza saam met 11 ander kerke in die omgewing begin het omdat hulle besef het die behoefte in die omgewing het niks minder as ’n mirakel nodig nie.
“Dok Ben”, geklee in ’n blou-en-wit geruite hemp, glimlag. “Ons het in 1990 die sopkombuis begin en hier by 1993 het ons die grond van die stadsraad gekoop en toe saam met ou tannies wat die fondamente kom help grawe het die plek gebou. Jy sal my nie glo nie, maar Rashied Staggie, wat doodgeskiet is, was een van die eerstes wat vir ons R200 gegee het. Hy het met sy limousine daar verbygery en gevra: ‘Wat gebeur hierso?’ En toe ons verduidelik, haal hy die geld uit.”
‘Oom Bey’
Hierdie nieamptelike beskermheilige van Observatory vind sy roeping met ’n ompad in 1969 ná die mees vernietigende aardbewing in die geskiedenis van Suid-Afrika.
As die “stoute” seun van ’n NG predikant wil hy aanvanklik nie in die bediening gaan nie omdat hy gesien het “mense is iemand anders as die predikant op besoek kom”.
Hy lag. “Maar later in my st. 9-jaar is daar ’n aardbewing by Tulbagh wat my laat besef hoe kort die lewe is. Die hele reaksie daarop het my net laat dink is dit nie dalk tóg vir my nie? Ek wou altyd mense help en mense se stories hoor.”

Juis daarom dat dié jong tokkelok reeds in sy studentejare besluit om vir “oom Bey” (Beyers Naudé), “destyds die grootste persona non grata in die NG Kerk”, te gaan kuier. Hy reis dus na die destydse Transvaal en die ontmoeting ontsluit ’n ganse nuwe wêreld.
Oom Bey beding vir hom ’n studiebeurs om Suid-Afrika uit die buiteland te beleef en hier voer hy onderhoude met meer as ’n duisend mense. Met sy terugkeer word hy die Kaapse kontakpersoon vir Naudé se Christian Fellowship Trust en begin op sy beurt ook om studente aan wyer wêrelde bekend te stel.
Die middelpunt vir wat hy sy “travelling for transformation” doop, bly egter Betesda, wat die egpaar se heel eerste huis word in sy eerste gemeente. Hulle koop dit later by die kerk en dis ook hier waar hulle eendag “sag wil heengaan”.
“Hulle het my hier beroep, want my pa was ook hier predikant en hulle het gehoor ek het ook teologie gedoen.”
‘Hier kom hulle nóú’
Dis juis tydens ’n aweregse teedrinkery in die einste sitkamer toe ’n biskop uit Zimbabwe hom nooi om te kom kyk hoe lyk die res van Afrika. Hy kry vier Ikeys en vyf Maties bymekaar, en pas nadat P.W. Botha aangekondig het niemand mag die land verlaat om met die ANC te praat nie, doen die groepie presies dít.
“Dit was 1985 en Thabo Mbeki het gevra of ons bereid sou wees om ’n gesprek te voer. Ons het seker so drie uur lank gesels in Harare met mense soos Alfred Nzo, Mac Maharaj en Ebrahim Patel. Mbeki self was die groot man wat aan die hoof van die tafel gesit het.”

Hy skud sy kop. “En hét die ding nou ontplof … Toe ons by die grenspos kom aan die Suid-Afrikaanse kant op pad terug, toe hoor ek hulle sê: ‘Hier kom hulle nóú.’ Hulle het ons almal aangetree en ure lank ondervra. Ons was glad nie gewild nie, en die veiligheidspolisie het ons maar gereeld afgeluister, maar jy besef net in ’n stadium jy moet doen wat reg is.”
Van kerkboef tot diaken
Al was bruin en swart kerkgangers nie destyds welkom in die NG Kerk nie, begin sy gemeente al baie vroeg met gesamentlike byeenkomste met die voormalige “sendingkerk” (vandag die VGK) en ander (minder wit) gemeentes.
Die sopkombuis is eweneens ’n gesamentlike poging deur verskillende kerke. “Die NG gemeente in Observatory was in my pa se tyd by die duisend en 30 jaar later, toe ek daar begin in 1979, was dit net mooi 400. Toe ek in 2022 klaarmaak, was daar skaars 30. Dit was hoekom ek begin het met die Liesbeek Christian Action Group omdat ek gevoel het hier is min Afrikaanse mense en ons moet kontak hê met die Katolieke en die Presbiteriaanse, die Anglikaanse kerk, die AGS en die Pinksterkerk en so aan.”
In 1993 besluit dié kerke dis tyd om iets te bou waar haweloses ook gehuisves kan word en die “beginsels van dissipline en roetine streng toegepas word”. Hulle grawe dus self die fondamente vir Loaves and Fishes en registreer dit as ’n sogenaamde tweedefase-skuiling vir hawelose volwassenes.

Dis baie meer as ’n blote nagskuiling: Inwoners gaan deur ’n streng keuringsproses sodat hulle seker kan wees hulle werk met mense “wat regtig wil verander”. Voordat hulle aanvaar word, onderteken hulle ook ’n ellelange stel reëls (soos dat hulle gereeld die maatskaplike werker op die perseel moet sien). Hulle betaal R65 per dag en elkeen is op ’n “program” sodat hulle individueel kan ontwikkel.
Een van die amper Bybelse suksesverhale hier is dié van wyle Nathan Kaplan, wat byna 20 jaar in die tronk was. Ná sy vrylating breek hy by die NG kerkgebou in Observatory in, en plunder onder meer musiekinstrumente, nagmaalwyn en ’n vleissnymasjien wat hy met dagbreek verkoop sodat hy dae lank op ’n high kan wees.
Deur ’n bisarre sameloop van omstandighede word hy ’n inwoner by Loaves and Fishes en die huismoeder bring ’n paar inwoners na die einste NG kerk. Ná afloop van die diens bieg Kaplan by Kotzé: “Onthou jy so ’n paar maande terug het iemand by jou kerk ingebreek?”
’n Stilte. “Dit was ek.”
Die volgende Sondag vra Kaplan die gemeente om vergiffenis en jare later word hy selfs ’n diaken in die einste kerk.
Hamburgers uit die hemel
Die meeste inwoners bly tussen ses en 12 maande – maar een vrou bly ’n volle vyf jaar.
“Sy het op die plein in Bellville gekraam en ’n dogter met fetale alkoholsindroom gebaar. Die vroedvrou bel toe en sê: ‘Ons moet haar hier uitkry, uit Bellville. Kan sy na julle toe kom?’ Sy was só vuil en in só ’n toestand, maar sy het reggekom en ’n diaken in ons kerk geword.
“Die mooiste van alles is toe die vroedvrou wat haar gebring het die dag sterf, kry ek ’n oproep om te laat weet Loaves and Fishes gaan R40 000 erf. Jong, en toe die geld inkom, is dit amper R270 000! Blykbaar was daar ’n klomp geld waarvan hulle nie geweet het nie en aan die begin van die jaar het ons nog die laaste R30 000 gekry.”

Al trek dié skuiling steeds finansieel noustrop, glo Kotzé duidelik aan die beginsel van die vermeerdering van die brode en die visse. Hy vertel van die dag toe die huismoeder besef die geld is op en daar is nie kos nie en dink “ ’n broodrolletjie met ’n goeie stukkie wors daarin sal nou lekker wees. Die volgende oomblik bel Karen Dudley van The Kitchen en sy sê ons het broodrolletjies hierso, en wors ook wat ons oor het – wil julle nie hê nie?”
Hy skaterlag.
Ons ry na Loaves and Fishes, waar Ben ons aan ene Dexter voorstel wat 20 jaar aan tik en Mandrax verslaaf was. Hy is deur U-Turn na dié fasetwee-skuiling verwys en danksy die berading wat hy hier gekry het, werk hy nou heeltyds as sjef by ’n kerk in Kirstenhof.
“Toe ek hier aangekom het, het ek 53 kg geweeg en nou weeg ek 74 kg. Soos jy kan sien, is die kos hier ongelooflik!”
‘A man can change’
Op pad terug na Betesda word dit duidelik Dok Ben is ook ’n soort institusionele geheue vir Observatory – ’n buurt waar elke gesig, net soos in die Cliff Richards-liedjie, ’n storie vertel.
“Hulle sê Wolraad Woltemade het ook hier gebly in ’n stadium, en jy weet mos die eerste Vryburgers se plekke was hier?”
Deur sy motorruit wys hy die ou vuurhoutjiefabriek en die voormalige kersefabriek en die klein skakelhuisie waar die Sports Science-instituut glo begin het uit. Ook die voormalige Palace Bioscope, waar hy en Heréza in hul studentedae die enigste wit mense in die teater was en die huis waar die familie van die vermoorde Anton Lubowski gewoon het.

Net voordat hy my weer by my motor aflaai, vertel hy van die besope hawelose man wat hom jare gelede in sy tuin trompop loop en vra: “Sir, is there hope for me, sir?”
Hy nooi hom in vir ete en uiteindelik neem hy hom na sy ma (wat skree: “Take him away!”) en toe na sy suster “wat hier anderkant gebly het in die bobbejaanhokke”.
“So twee weke later kry ek hom in die berg, en toe is hy heeltemal buite homself. Hy het destyds vir kol. Mike Hoare, die mercenary, gewerk en hy sê toe: ‘You know sir, he gave me one great commission, and that is to blow up Table Mountain, sir.’
“Daai selle ou het een middag hier kom stilhou en hy vra: ‘Sir, how do you like me now?’ Hy het ’n netjiese pak klere aan en hy wys vir my sy bakkie en vertel my van sy besigheid.”
Dié sieletrooster straal van oor tot oor voor Betesda, waar ’n engel dalk nét die water kan kom roer. “Hy sê: ‘Sir, I just want to show you: A man can change.’”
3881
















