Profiele

‘Ek het steeds hoop’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Willie Esterhuyse was in die 1980's 'n leidende meningsvormer en ook 'n verkenner in die gesprekke wat gelei het tot onderhandelinge tussen die destydse apartheidsregering en die ANC. Johannes Froneman het met hom gesels op die vooraand van 'n verkiesing waarin die ANC mag kan verloor.

Prof. Willie Esterhuyse. Die foto is in 2008 in 'n onderhoud geneem. Esterhuyse, wat destyds as politieke profeet en verkenner uitgereik het na die ANC om onderhandelinge met die NP-regering oop te maak, is krities oor wat van die land geword het, veral onder die leierskap van oudpres. Jacob Zuma en pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Gallo Images
Prof. Willie Esterhuyse. Die foto is in 2008 in 'n onderhoud geneem. Esterhuyse, wat destyds as politieke profeet en verkenner uitgereik het na die ANC om onderhandelinge met die NP-regering oop te maak, is krities oor wat van die land geword het, veral onder die leierskap van oudpres. Jacob Zuma en pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Gallo Images

Die 87-jarige afgetrede professor is so innemend soos altyd in sy en sy vrou, Annemarie, se aftreeplek buite Stellenbosch. Hy is nie sonder 'n paar skete en kwale nie, maar die gesondheid van die land pla hom meer.

Hierin deel hy sy besorgdheid met die gewese pres. Thabo Mbeki, wat reeds sedert hul eerste gesprekke in 1987 in Engeland 'n vriend is. Dié gesprekke het uiteindelik destyds bygedra tot die Kodesa-onderhandelinge, die demokratiese verkiesing van 1994 en die aanwys van Nelson Mandela as president.

Dis nie dat Esterhuyse 'n spesiale rol vir homself in die geskiedenis opeis nie, maar hy is wel in 2003 met die Orde van Luthuli (silwer) vereer vir sy uitstaande rol in die handhawing van dialoog tussen die ANC en destydse regering. Dit het bygedra tot die verwydering van allerlei struikelblokke tussen die partye.

Maar wat het toe geword van die hoë ideale van destyds van 'n demokratiese, nierassige land? Is hy tevrede met wat daarvan geword het en hoe die land vandag lyk?

Kwalik. Die huidige kleptokrasie is nie wat hy in die oog gehad het toe hy in die PW Botha-era aanhoudend vir fundamentele hervorming gepleit het nie.

Hy het gereeld op uitnodiging landwyd opgetree, koerante het daaroor berig en hy het briewe en artikels geskryf wat apartheid van binne die Afrikanerdom aangevat het.

Dit het hom nie altyd gewild gemaak nie. En sommige kritici vra dan ook vandag aan die destydse hervormers: Hoe dan nou? Is hierdie die land waarvoor julle julself beywer het?

Die professor sê reguit: "Cyril Ramaphosa is 'n yslike verleentheid." Hy wys half terloops daarop dat wit, liberale kapitaliste die president skatryk gemaak het. Geld kan mense nogal verander, mymer hy.

Prof. Willie Esterhuyse in die gesprek waarin hy kommer uitspreek oor die situasie in die land. Foto: Johannes Froneman
Prof. Willie Esterhuyse in die gesprek waarin hy kommer uitspreek oor die situasie in die land. Foto: Johannes Froneman (SYSTEM)

Esterhuyse meen alles in die land het vreeslik verkeerd geloop onder pres. Jacob Zuma. Hy verkies om nie te verwys na sy vriend Mbeki se kaderontplooiing en rampspoedige MIV/vigs-beleid nie. Die land het onder Mbeki darem nie so agteruitgegaan nie. Maar Mbeki is uit sy pos geskop - en nou vra dieselfde party sy hulp met die komende verkiesingsveldtog.

Opvallend plaas Esterhuyse vandag die fokus op veiligheid in die breë. Soos so baie ander mense glo hy: Dit is die kern, want hy kyk verder as sy eie gemaklike, veilige situasie. Die nood van miljoene raak hom diep, reeds sedert hy destyds, in 1985, by die Stedelike Stigting betrokke geraak het en die situasie in die swart townships van naby leer ken het.

"Ek het baie oor goeie openbare bestuur gelees. Dit gaan altyd uiteindelik oor veiligheid. Hieroor het ek 'n verandering van mening gehad. Dit gaan nie alles oor geregtigheid nie. Dit gaan oor veiligheid, sekuriteit en geregtigheid. Sonder veiligheid (ingesluit sekuriteit) is daar geen geregtigheid nie."

As sommige wit mense 'n goeie werk oorsee kan kry, moet hulle dit aanvaar.

Vir hom gaan veiligheid oor meer as onmiddellike fisieke welsyn, maar ook oor voedselsekerheid en 'n werk - presies dit wat die ANC-regering ondanks talle beloftes ná 1994 nie aan miljoene Suid-Afrikaners kon lewer nie.

Gaan werk liefs oorsee

Oor die wyse waarop mense wat nie swart is nie oor die jare uit die regering en die ANC se topleierskorps geskuif is, is hy ook uitgesproke.

Esterhuyse wys byvoorbeeld op die gebrek aan diversiteit by regeringswoordvoerders. Dit lyk nie vir hom of wit mense nog 'n plek in die hoër staatsdiensrange het nie. Dieselfde geld ook ander ontstoke minderheidsgroepe in die land, voeg hy by.

"Alle mense kan nie (of wil nie) in die private sektor wees nie. Maar die openbare sektor moet vir almal oop wees."

In die lig hiervan voeg hy by: "As sommige wit mense 'n goeie werk oorsee kan kry, moet hulle dit aanvaar."

Van die meeste 60-plussers is hierdie uitspraak half te verwagte, maar uit die mond van Willie Esterhuyse is dit nogal ingrypend. Gelukkig vir hom en sy vrou woon vyf van hul ses kinders en kleinkinders naby en net een in Namibië.

Tog is dit nie eens nodig om vir Esterhuyse te vra of hy alles weer oor sou doen nie. Natuurlik sou hy. Sy goed gedokumenteerde argumente teen apartheid is op morele gronde gedoen. Daarom moes dit afgeskaf word.

As gelegitimeerde NG leraar was sy standpunte teen rassediskriminasie altyd duidelik, al het dit hom jare geneem om te aanvaar dat "groot apartheid" - dus die idee van onafhanklike swart tuislande - ondoenbaar was.

Wat my hoopvol maak, is dat 'n nierassige middelklas aan't ontwikkel is.

So moes hy ook maar 'n pad stap.

Het hy - soos talle ander mense wat die demokratiseringsproses (en die ANC) destyds in goeder trou ondersteun het - sy goedgeaarde idealisme verloor? Het hy nou ná al die jare en soos baie ander 'n ontevrede konserwatief geword?

Kwalik. Esterhuyse mag skerp kritiek op die huidige bestel hê, maar hy hou vol daar is hoop.

"Wat my hoopvol maak, is dat 'n nierassige middelklas aan't ontwikkel is. Dit gaan dalk nie reeds vanjaar beslissend in die verkiesing wees nie, maar wel oor 'n paar jaar.

"Uit die politieke geskiedenis leer ons dat lande gered word deur georganiseerde middel-groepe. Maar dan moet jy die regte leiers hê."

Is Roger Jardine met sy Change Starts Now-party dalk die man wat so 'n "opstand" van die nierassige middelklas kan lei?

Dalk, sê Esterhuyse, maar hy beklemtoon dat daar ideaal gesproke drie of vier sterk leiers na vore moet kom.

"Hulle sal die woede van die middelklas in sterk steun by die stembus moet omskep. En dan sal hulle praktiese planne in werking moet stel."

Politieke profeet

Esterhuyse sal uiteraard geen rol in hierdie fase van die land se geskiedenis speel nie. Hy het darem sy deel gedoen. Hy het lank sy rol as politieke profeet gespeel en toe sy taak as tussenganger gehad. Toe het hy veral op sake-etiek gekonsentreer en gekies om nie persoonlik by die onderhandelingsproses betrokke te raak nie.

In die latere jare het Esterhuyse 'n aantal boeke oor teologie en die geskiedenis van vrede by sy talle ander boeke gevoeg. Hy kan verder terugkyk op 'n groot aantal akademiese artikels, plus die dosyne artikels en rubrieke wat hy deur die jare geskryf het.

Die seun van Laingsburg het sy direkteurskappe neergelê, maar dien nog by die Thabo Mbeki-stigting. Sy advies word nog gevra, maar hy het 'n effe vergete openbare figuur geword.

Hier op sy oudag is daar soms 'n tikkie hartseer te bespeur. Of dalk teleurstelling. Maar die vonk van hoop blink steeds in sy oë.

• Johannes Froneman is 'n joernalis en mediahistorikus­ van Kleinmond.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM