Sy pas verskene memoires sal vir hom werk as dit vir almal ‘net so 'n bietjie meer hoop gee', sê Jonathan Jansen aan Murray La Vita.
Die onderhoud met prof. Jonathan Jansen vind plaas teen die agtergrond van sy boek Breaking Bread: A memoir. Ons sit in 'n vertrek wat grens aan sy kantoor in die opvoedkundegebou van die Universiteit Stellenbosch waar hy buitengewone professor in opvoedkunde is.
Jansen is 'n besonder erudiete mens wat hier en internasionaal hoë aansien geniet as pedagoog en denker op die gebied van die onderwys. Hiervan getuig die groot hoeveelheid boeke op 'n rak agter hom en, teen 'n ander muur, die glaskas gevul met die talle boeke wat uit sy pen verskyn het sowel as die toekennings wat hy ontvang het.
In Breaking Bread skryf hy: "This fullness I experienced of living, learning and leading on a worldclass campus [Stanford] that regularly ranked among the top two or three universities on the planet was easily the happiest time of my life."
Dit is by Stanford dat hy tot die gevolgtrekking gekom het 'n universiteit staan of val met die gehalte van sy professore en dat die lewensbloed van die instelling "is to be found in its intellectual life and culture that streams through the organisational veins giving a bright red colour to its complexion".
Jansen is geklee in 'n stemmige hemp, das en broek, maar dra daarby hardloopskoene. Dít skep die indruk van iemand wat hom op meer as een terrein begeef (betrokke is by meer as net die ivoortoring). Hy kom nou pas van 'n hoërskool af waar hy as vrywilliger gratis werk doen.
"Jy sal onthou in die boek skryf ek oor Crestway High in Retreat. Dit is die plek waar ek probeer het om selfmoord te pleeg toe my pa verdwyn het.
"En toe hierdie skool wat nog steeds daar staan teen my ouerhuis - dis letterlik 10 of 12 treë van die skool af - die slegste uitslae gekry het in die Wes-Kaap, wou ek eers wegloop, want my 18 uur 'n dag maak my moeg, jy weet, maar toe hoor ek my oorlede ma se stem in my kop: ‘Charity begins at home.' Toe bel ek die onderwysdepartement en sê vir hulle: ‘Julle hoef my nie te betaal nie, Maties betaal my reeds, maar ek sal elke dag 'n halfdag werk, van halfsewe in die oggend tot eenuur,' soos vandag. En dan ry ek die 40 km hier na my kantoor toe en sewe-, agtuur, negeuur kom ek by die huis en dan is ek pap. Nie fisiek moeg nie, ek het nog altyd so gewerk, maar emosioneel is ek moeg.
"Soos netnou, 'n uur gelede, sit ek in die hoof se kantoor en daar is 'n terrible storie van 'n kind wat goed aangevang het. So, soos ons hierdie skool probeer omkeer en ek van die kinders mentor, moet ek nog steeds hierdie trauma hanteer wat die kinders elke dag beleef, en die stres op die onderwysers.
"Maar ons wen," sê Jansen wat in Breaking Bread ook boeiend skryf oor sy jare as onderwyser.

Hy skryf oor die uitdagings van arm kinders of kinders wie se huise voor hul oë in Distrik Ses gesloop word, en sê: "The pain was in the ordinary . . ."
Ook: "One way in which I responded to the gloom of those times was to devote myself to the whole lives of the students for whom I was responsible. It was a practice I had started at Vredenburg Secondary. I would visit every student in my register (homeroom) class in their homes."
In reaksie hierop sê hy:
"Wanneer ek met Afrikaanse mense gepraat het, het hulle altyd na die onderwys verwys as 'n roeping. Ek was eers sinies daaroor, maar nou dink ek dit is waar. Jy móét vóél daar is iets wat jou trek in die rigting van die onderwys wat deels geestelik is; dit gaan nie net oor die salaris nie; daar is nie geld in die onderwys nie.
"Dit gaan nie net oor die kind se kop nie; dit gaan oor sy siel, oor sy hárt . . . Selfs vandag, as ek 'n kind sien hier by die skool waar ek werk . . . Dit reën en ek gaan koop 'n honderd, tweehonderd reënjasse by elke Pep Stores wat nog reënjasse het, omdat . . . Natuurlik wil ek hê jy moet intellektueel uitstaan, maar ek wil ook hê jy moet kos hê in jou maag; ek wil ook hê jy moet 'n reënjas hê; ek wil ook hê jy moet gesond voel."
‘Vreeslik vervies'
Jansen se ma, Sarah, het 'n "daadwerklike kulturele skuif" gemaak en haar kinders Engels grootgemaak. Hy sê die een rede waarom hy sy eerste jaar van 'n BSc-graad aan die Universiteit van die Wes-Kaap gedruip het, is omdat hy nie "formele Afrikaans" verstaan het nie.

"Ek het my vreeslik verviés, veral by Tukkies of Kovsies, as mense vir jou kyk en besluit jy is 'n Afrikaanssprekende. Ek kan nie vir jou sê hoe dit my de moer in maak nie. Maar dit is omdat die wit Afrikaanse ou aanneem jy is ‘Kleurling', daarom moet jy Afrikaans wees.
"Alledaagse Afrikaans kon ek verstaan, maar nou sit jy in die klas en hier kom Grobbelaar, hy was een van die misfits van die akademie, en hy is viés vir jou omdat jy swart is, en hy is vies vir jou omdat hy daar is by die UWK . . . Nou voel jy dit as 'n student. So, daar is die rassisme, maar nou sukkel jy ook met die taal . . . koolhidrate en carbohydrates kon ek verstaan, maar stikstof . . . wee jy wat is stikstof in Engels? Nitrogen! Hoe de vet moet ek dít weet? Nou moes ek huis toe gaan en vertáál en hulp kry van my ma wat Afrikaanssprekend was toe sy grootgeword het in Montagu.
"So, daar was 'n taalstorie, daar was 'n rassismestorie en dan was daar natuurlik Soweto '76, en die UWK was baie betrokke in terme van solidariteit en al daai goed."
Dit was ook daagliks 'n stryd om van Retreat af by die UWK uit te kom. Hy sou aan die Universiteit van Kaapstad wou studeer, onder meer omdat dit veel nader aan hul huis was, maar is, weens rasse-oorwegings, nie daar toegelaat nie.
"Ek dink die rede waarom ek so baie tyd en geld ingesit het in die eerstejaars by Kovsies en Tukkies, is omdat ek nie wou hê my studente moet ook sulke ervarings hê nie.
"My kinders . . . ek gee nie om of hulle wit swart of groen is nie; dié deur is altyd oop. Hulle klop aan my deur; ek sê: ‘Daar's my yskas; gaan kry vir jou iets.' Ek wil hê hulle moet dit geniet omdat ék dit nie geniet het nie."
‘Die storm kom'
Het hierdie ervarings 'n invloed gehad op hoe hy Afrikaans aan die UV hanteer het?

"Kyk, ná my UWK-ervaring raak ek vriende met mense soos Jakes Gerwel, Hein Willemse en Achmat Davids. En tóé verstaan ek die rýk geskiedenis van Afrikaans; die lékkerheid van Afrikaans, want onthou: In my jeug toe ek Afrikaans hoor, die formele Afrikaans, was dit die polisie by die deur wat jou wil neuk. En op daardie Afrikaans het ek gereageer, ook as gevolg van Soweto, en die wit Afrikaners verstaan nie dít nie.
"Teen die tyd dat ek rektor was [by die UV], I fell in love with Afrikaans; dit was 'n ander Afrikaans. As jy Afrikaans gepraat het met my vriend Leon Wessels . . . shit, ek is lief vir dáái man; hy praat mos op so 'n fyn manier; dan wil ek sélf . . .
"Maar toe Nederlandse uitruilstudente vir my sê hulle het klasse bygewoon waar Afrikaanse dosente lesingnotas en eksamenwenke in die oorwegend wit, Afrikaanse lesings sou gee, maar nié in die oorwegend swart, Engelse lesings nie, toe is ek resistant. En ek dink, nee, dit sal lekker wees om 'n universiteit te hê waar jy Engels én Afrikaans kan praat, en as ons regtigwaar ruim dink, kom ons kyk ook na Sesotho.
"Teen daai tyd is daar al in die breë kampuspolitiek reeds ook bewegings in terme van Fees Must Fall, toe sien ek die storm kom. Ek het toe vir myself gesê: Nee, dit kan nie só aangaan nie - kom ons sit die vraagstuk op die tafel. En ons het vir twee, drie jaar geworstel met die ding, en toe besluit ons self . . . En teen hierdie tyd - en ek sien dit ook hier by Stellenbosch - het die wit Afrikaanse studente reeds aanbeweeg. Jy sal baie min ouens sien met daai Vryheidsfront Plus-tipe-houding, want hulle wil Dubai toe gaan, hulle wil Viëtnam toe gaan; hulle weet hulle gaan werk in New York en daardie plekke.
"Vir húlle is dit nie meer 'n issue soos vir hul ouers of grootouers nie. In terme van afstand - sowel 'n emosionele afstand as wat tyd betref, is hulle al weg van hierdie kwessie af.
"So, dis redelik máklik om by die voormalige Afrikaanse universiteite . . . Potch is 'n bietjie van 'n outlier, maar dis 'n ander storie . . . Mense is net gemaklik: Almal praat Afrikaans; almal praat Engels; jy hoef nou nie 'n reël te hê teen hierdie een of die ander nie. Maar in die klaskamer-situasie was dit vir ons 'n wesenlike probleem."
‘Daai stuk díng in my hart'
Jansen skryf in Breaking Bread oor 'n "persoonlike transformasie".

"My personal transformation started before I accepted the job of rector at the University of the Free State (UFS) in 2009. I remember the moment clearly. A father and his daughter came to see me after dark in the education dean's office at the University of Pretoria."
Hy sê: "Daar was 'n paar sulke insidente, maar dit was die groot een. Die agtergrond is: Ek was redelik kwáád vir wit mense gewees as gevolg van wat gebeur het met ons families in terme van property en so aan. Ek was redelik viés vir die stelsel van rassisme en al dié goed; apartheid blah-blah-blah.
"En so, alhoewel ek baie devoted was aan my studente, wit of swart, was daar nog daai stuk díng in my hart gewees. Ek erken dit . . ."
Die aand toe hy besoek ontvang het van 'n behoeftige wit pa en sy dogter, wat hy toe gehelp het, herroep hy só:
"Hier kom hierdie man met sy kind en ek kan sien ek is meer bevoorreg as wat hy is en hy sê: ‘Dekaan, maak asseblief 'n plan met my kind. Sy wou altyd onderwyser word.' En in daardie oomblik sien ek my pa en ek sien myself daar sit en hy sê vir my hy het nie geld vir my om universiteit toe te gaan nie.
"Van dáái dag af kon ek nie meer dieselfde wees nie, want hoe kan ek 'n mens beoordeel op grond van . . . Dié kind het dieselfde regte, dieselfde menslikheid, dieselfde drome, dieselfde ideale as enige ander kind.
"Toe Maties nie vir Bianca de Koker 'n beurs gegee het nie ten spyte van haar toppunte, toe vlieg ek van Bloemfontein af Kaap toe en ek sê vir dié kind se ma, 'n kassier by die Spar: ‘Ek gaan vir jou kind 'n beurs gee.'
"En dít was net moontlik as gevolg van daai insident [by UP]. En daai Bianca de Koker het só 'n transformerende rol gespeel by Kovsies - sy was 'n rolmodel en sy het akademies uitgeblink in Pretoria. So ek is baie, baie, baie dankbaar teenoor daardie man . . . Ek weet nie eers wat sy naam is nie.
"Daarom sê ek altyd vir mense as ek werkswinkels doen vir maatskappye: Moenie met my praat oor die transformering van jou organisasie tensy jy nie jouself getransformeer het nie.
"Jy kan mos nie, ek meen: Wat is die basis van jou aksies? Ek sê dit vir ouers ook: ‘Jóú kind gaan 'n probleem wees as jy nie sélf . . .' want die kinders leer mos van ons af hoe om te wéés en hoe om te wees met ander mense."
‘Geweet wat om te doen'
Jansen beaam dat hierdie "persoonlike transformasie" ook beïnvloed het hoe hy die rassismevoorval by die Reitz-koshuis hanteer het toe hy rektor van die UV was. Hy het groot omstredenheid veroorsaak toe hy onder meer die universiteit se klagte teen die vier manstudente wat vyf vroulike werkers op 'n rassistiese wyse verneder het, teruggetrek het en hulle genooi om hul studie aan die universiteit te hervat.
"Ja, en ek dink ek sou ook nie die uitnodiging aanvaar het om daar aansoek te doen as ek nie eers die Tukkies-ervaring gehad het nie, want toe is ek reg; toe is Knowledge in the blood al reeds geskryf. En ek het geweet wat om te doen."
In Knowledge in the Blood: Confronting Race and the Apartheid Past beskryf Jansen sy teenstrydige ervarings as eerste swart dekaan van onderwys aan die Universiteit van Pretoria - enersyds geweldige hoflikheid en menslikheid en andersyds uiters onhoflike en onmenslike gedrag.
"Ek het ook geweet om net 'n streng strafregtelike benadering te volg . . . daar is nie 'n maniér dat jy só 'n dieper verandering gaan kry by mense nie. Dit was nodig vir my om te kom doen wat ek gedoen het by Kovsies."

Hy skryf nie net om akademiese of persoonlike redes nie, sê Jansen.
"Vir my sal my boek werk as dit vir jong mense, veral ook kinders op skoolvlak, en vir alle mense in ons gemeenskap, across the board, net so 'n bietjie meer hoop gee, man. Dat hulle kan dink: ‘Ek is eintlik . . .' Ek sê altyd vir jong mense die Jansens is nie slim nie, maar ek werk harder as enigiemand. En as jy net dít kan verstaan: Jy hoef nie 'n Einstein te wees nie, jy moet net weet hoe om hard te werk.
"Ek sukkel nou nog met die feit dat baie van die kinders in my matriekklas baie slimmer was as ek, en dít is die waarheid, en tóg het dinge gebeur wat vir my kanse gegee het. En toe die deur oopgegaan het, toe hardloop ek daardeur."



















