Die enigste kans wat ons almal op aarde het om gelyk te wees en te presteer is om 'n oorspronklike en dapper lewe te lei, sê Nataniël aan Murray La Vita.
Die telefoniese onderhoud met Nataniël, wat hom in sy huis in Pretoria bevind, geskied teen die agtergrond van sy nuwe video-rubriek, Kwessie van die dag, op Netwerk24.
Die onderhoud begin by die begrip "balans".
"Kyk, balans is 'n baie moeilike ding. Vir elke verkeerde ding wat jy eet, moet jy een regte ding eet. Maar die belangrikste ding is ons as Suid-Afrikaners is ongelooflik negatief - dit is ons kenmerk. En dit is nou erger, want óórlog, hongersnood, genocide - ál hierdie goed - word nou soos televisieprogramme aangebied. En ons sien dit die hele tyd.
"En géén oorlog gaan ooit weer gewen word nie, want die geheim van 'n oorlog is geheimhouding. Jy gee skelmpies vir 'n spioen inligting sodat hy iets kan doen. Alles word nou verkondig op televisie: Môre kwart oor drie kom hierdie trein in Oekraïne aan; hulle bring soveel bomme. Hiérdie land gee Dinsdag soveel geld. So, die vyand weet mos dan om voor te berei.
"Dit gaan dus - omdat dit nou as vermaak aangebied word en daar te veel inligting is - nooit ophou nie, want almal weet alles. Dit is 'n verskriklike tragedie.
"Ek kan dit in Europa ruik. Hulle het nog 'n genetiese geheue van die wêreldoorloë. Groot gemors begin altyd in Europa, want hulle bly te na aan mekaar en hulle raak vies.
"Hulle lewe al klaar, ek sien dit in die kuns in Europa, dit is alles fantasie en oor beautiful goed en prinsesse in ball gowns wat geskilder word, maar die skadu van oorlog hang oor die hele Europa. Dit is... ons was nog nooit op so 'n plek nie. Ons sê dit al jare, maar dit bly nog steeds so: Dis ons ergste jaar ooit, want die aarde is goddeloos en gaan agteruit en daar is bittermin geloof in die mensdom en in ander goed.
"So, vir elke ellende in jou lewe moet jy dankbaar wees vir iets. Net om waansin te verhoed, vier iets aan die einde van die dag - dít doen ek; ek gaan nié slaap sonder dat ek sjokolade gehad het nie; élke dag van my lewe, dúúr, régte sjokolade, en min. Ek moet iets vier - dat ek nog 'n huis en water en elektrisiteit en mooi klere en relatiewe veiligheid het, en nog die laaste stuiptrekkinge van 'n loopbaan.
"Daar is baie mense wat glád nie het nie, wat met plastiekbakke teen 'n polisieheining staan en smeek vir kos; wat weggejaag word uit lande omdat mense dink die aarde behoort aan hulle. Dis 'n vreemde ding, as iemand in jou land kom, vlugtelinge... wat die Franse doen en wat my so beïndruk, is al die vlugtelinge word die taal geleer, want hulle het almal vaardighede en geleerdheid; jy vlug nie omdat jy 'n skelm is nie, jy vlug want jou lewe is bedreig.
"So, balans is ál hoe ek oorleef. Ek móét vir elke ding waaroor ek woedend is oor iets bly wees, al moet ek dit loop soek in die yskas. Maar daar móét dankbaarheid wees vir die ellende. Sonder daai balans... ons is nie slim genoeg om dít te oorleef in ons kop nie."
‘Ek gee'
Ons praat oor hoe om die ellende en armoede wat oral om ons is te hanteer.

"Ek is as mens gelukkig, want ek werk op my eie eiendom. Daar gaan partykeer 'n week verby dat ek nie my eiendom verlaat nie. Ek sien minder van wat aangaan. Ek bly in 'n woud. Hier is nie hondjies en voorstedelike geluide nie. Alles wat jou elke dag ontwrig, vermy ek, maar ek gee, ek gee by 'n verkeerslig, selfs al lieg hulle. Ek weet van 'n vrou wat hier in Menlyn by 'n verkeerslig dúisende rande gemaak het. Ek gee, want dit is meer guts as wat ék het.
"Daar is sóveel nood. Ek doen baie charity-werk, maar dit het verander. My tyd en my geld is op voordat ek by 'n organisasie kom, want ek wéét altyd van iemand in die nood. Daar is altyd iemand, of dit nou familie is of dit 'n ou vriend is of dit straataf is - jy is altyd bewus van hiér het iemand nou alles verloor.
"En die hartseer ding daarvan is, ons het soveel hulp wat ons moet gee in die nabyheid. Daar is sóveel bejaardes op aarde wat versorg moet word, want ons lewe te lank en mense tref ook nie voorbereiding nie.
"Daar is soveel nood dat die wesies en die mense wat géén struktuur het nie, laaste op die lys is om gehelp te word. En ek dink prioriteite is daar belangrik. Iémand moet spesialiseer en konsentreer: Réd jý die dolfyne; réd jý die hondjies, dan kyk ek na die kinders en jy kyk na die ou mense.
"Ek moet dit altyd vir mense sê, want kunstenaars word die meeste gebel vir liefdadigheid. Dan moet ek vir die vrou sê: Ek kan jou help, maar ek kan nie vir jou afslag gee nie, ek doen reeds hierdie maand soveel werk dat ek nie die daglig gaan sien op payday nie.
"Ek prioritiseer: Ek help vir dié en dié en dié - en dít is waar ek die streep moet trek, want daar is nog ander goed wat moet gebeur en ek het een miljoen peetkinders wat moet studeer. Mense moet prioritiseer en, hoe wreed dit ook al klink, daarby hou.
"Ek praat ook oor hierdie dinge in my rubriek. Elke mens moet doen wat hy kan. Niemand kan meer nee sê nie. Dit is nou maar net die lewe waarin ons lê. En dit is nie meer net hier nie. Baie mense het ontsnap, maar ek sien in Europa daar word gebedel, verskríklik... Daar is oral nood op die aarde; dít is waar ons nou is."
Familievas
Het hy dit al oorweeg om te emigreer?

"Ek sal nooit permanent Frankryk toe trek nie. Ek wil op die ou end ook nie permanent hiér woon nie. Ek sal wil rondreis totdat ek inmekaarsak... Ek kan nie séttle nie; dít maak my hónd-oud in 'n week. Hoe ouer ek word, hoe meer familievas word ek en ons is versprei. My sussie is nou op die oomblik in Duitsland, sy was verlede week in Frankryk by my broer. Die ander is hier; my ma is in die Kaap. Ek sal altyd tussen die familie wil beweeg, en nou is daar 'n nuwe kindjie in my lewe - ek is vir die eerste keer 'n peetóúpa.
"So, ek gaan my lewe en my tyd opdeel. Maar wat ek wél weet, wat ek sien, is in Frankryk is jy tot en met jou dood deel van die samelewing; jy word nie weggesit nie. En die stede is so uitgelê dat in die straat waar jy woon, sal jy jou drank, jou kos, jou apteek, 'n park vir die hondjie, jou koffie, jou baguette kry - álles is in sulke kosmos-bestane. So, die bejaardes - beautifully dressed - stap in die strate, hulle is gesonder as ons s'n, want hulle stap. Hulle is deel van die samelewing en niemand toet vir hulle nie want voetgangers het in Europa voorkeur."

In Suid-Afrika is dit anders. Ouer mense beland in "wegkruipkolonies".
"Ek wil nooit daarin wees nie. Ek wil tussen my kuns wees. Ek wil my paintings sien tot op die laaste dag. So, ek werk my mórsdood om 'n onafhanklike oudag te kan hê.
"Gelukkig sien ek artists soos Barbra Streisand - hulle is 80, ook Cher en sulke mense, en hulle wérk nog, hulle perfórm nog, hulle dóén projekte.
"As kunstenaars het ons 'n ander lewe as iemand wat 'n maatskappy moet verlaat of wat moet ophou onderwys gee of wat nou te oud is om te preek. Dís 'n storie wat óns gespaar bly.
"Of ek nog 'n gehoor gaan hê oor 10 jaar, weet niemand nie. Maar ons dink anders daaraan. En as kunstenaars moet ons óngelooflik spaar. Verál iemand wat alleen is soos ek, wat nie kinders het nie. Kinders is 'n belegging.
"Ek sien nou in ons familie hoeveel miljoene dit kos om bejaardes reg te versorg... te entertain. En ek sal moet personeel hê in my huis om eendag só te kan lewe. So, dit bly 'n geweldige kwessie. Maar dáár is Europa lígjare voor ons. Jy bly tót op die dag van jou dood lid van 'n aktiewe gemeenskap.
"Ek sal altyd soontoe gaan, maar ek sal altyd ook terugkom, want ek het baie familie en vriende wat nié gaan beweeg nie. En ek het baie skátryk miljoenêrsvriende en familie wat teruggekom het, want hulle wíl hier wees.
"So, ek gaan wees waar ek kan funksioneer en waar ek geselskap het, maar waar dit is, weet ek nie."
‘Gewone goed'
Hy wil hê mense moet na sy video-rubriek kyk, "want presies waaroor ek en jy praat, is in elke episode".

"Ek praat direk met die kamera en ek praat glád nie oor politiek nie - hulle verdien dit nie - en ek praat glád nie oor die wêreldgoed wat ek nie kan verander nie.
"Ek praat daaroor dat ek eendag 'n meester sal wees van my lewe. Baie mense is só suksesvol; ek ontmoet CEO's en legendes en hulle is as mense disásters; hulle is geestelik só verarm en intellektueel so klein.
"Ek weet te veel van te veel bekende mense en dan dink ek: Genúgtig, as mense weet wat in jóú huis aangaan! Of hoe sleg jou verhouding met jou kinders is. Jy weet? Dáái goed. Of sjefs wat ek nie vir jou kan beskryf hoe hulle sélf eet nie.
"Dan is dit vir my belangrik... Ek praat nét oor gewone goed. Die énigste kans wat ons álmal op aarde het om gelyk te wees en te presteer is om 'n oorspronklike en dapper lewe te lei. En mense skeep dit af, hul gewíg, hul gesondheid, hul vel, hul huis, hul kommunikasie, is die laaste op hul agenda. Sosiale goed en werk is vir hulle belangriker, en dít is vir my heeltemal verkeerd om.
"Mense mag verstom wees as ek nou vir jou vertel hoe snipper 'n mens 'n kool terwyl daar oorlog aan is, maar ons kan nie verval omdat daar oorlog is nie.
"Iemand moet iets staande hou sodat as die oorlog klaar is, daar iéts is om na toe terug te kom. Ons kán multitask, ons kán help verander, ons kan ons verstom aan die oorlog, ons kan leer om reg by te dra op die aarde, maar ons kan nog steeds 'n goeie lewe lei."
• Kwessie van die dag begin op 4 Augustus en bestaan uit 10 episodes.




















