Proust met Alexa Strachan

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Alexa Strachan is die feesbestuurder van Aardklop. Die fees word vanjaar van 24 tot 29 September in Potchefstroom gehou.

Alexa Strachan.
Alexa Strachan.

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?

My vier kinders. Ek sien hoe hulle mense word wat die wêreld en al sy bewoners met respek en empatie hanteer.

Wat is jou idee van perfekte geluk?

Om in die spieël te kyk en te hou van die mens wat terugkyk.

Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?

Vol.

Wat is jou gunstelingberoep?

Altyd die een waarmee ek tans besig is. Dalk is dit 'n vorm van selfbeskerming. Bepalings en voorwaardes geld: Alle admin streng uitgesluit.

Wat is jou kosbaarste besitting?

Ek probeer my bes om nie te klou aan aardse dinge nie, maar as ek iets móét kies: seker my oorlede pa se polshorlosie en knipmes. Foto's waarvan die oorspronklike negatiewe nie meer bestaan nie.

Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?

Pieter, my sielsgenoot, beste vriend, klankbord, klaag- en vraagbaak, en gunsteling-mede-rusiemaker.

Wat is jou gunstelingreis?

Die bootreis rondom Nieu-Seeland saam met my op-die-boot-werkende-kinders as geskenk vir my 50ste verjaarsdag.

Wat is jou sterkste karaktereienskap?

Lojaliteit.

Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?

Iewers vroeg in st.2, toe ek nog met onskuld na die wêreld kon kyk.

Wat is die een ding waarvan jy die minste­ hou?

Vooroordeel en oesters.

Wat is jou grootste vrees?

My eie sinisme.

Wat is jou grootste uitspattigheid?

MCC, wat ek reeds nie kan bekostig nie, om nie eers te praat van sjampanje nie!

Watter lewende mens verag jy die meeste?

Die meeste politici en alle ander magsugtige en immorele opportuniste.

Waaroor het jy die meeste spyt?

Ek was te verwaand om drama te gaan swot.

Watter talent sou jy graag wou hê?

Corlea se stem en Nataniël se kreatiwiteit en werksetiek.

Waar sal jy die graagste wil bly?

Net hier in Pretoria: plek van majestueuse donderstorms, my geboortestad en waar my mense met al hul dingetjies vandaan kom.

Wat beskou jy as die grootste ellende?

Behalwe honger en armoede: die verlies aan mense, en die verlatenheid wat daarmee saamkom.

Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?

Intelligensie.

Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?

Intelligensie.

Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?

Ongeduld.

Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?

Selfbedrog.

Wat waardeer jy die meeste omtrent jou vriende?

Die drie van hulle? Die feit dat hulle my verduur ten spyte van al my foute wat hulle só goed ken.

Wie is jou grootste (fiktiewe) held?

Enigeen wat oor die krag van onsigbaarheid beskik.

Wie is jou gunstelingskrywer(s)?

N.P. van Wyk Louw, P.G. du Plessis, John Steinbeck, Gabriel García Már­quez­, Milan Kundera, Solzjenitsyn?.?.?.

Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?

As ek te lank daaroor moet dink, dan seker met niemand nie. Die mens is feilbaar.

Wie is jou helde in die ware lewe?

My pa, want hy was onvoorwaardelik lief vir my, hoewel hy gereeld gesê het: "Ek verstaan jou glad nie."

Watter lewendige mens bewonder jy die meeste?

Mmm, Sandra Prinsloo, meestal omdat sy presies weet waar sy in die grootse heelal inpas.

Wat dink jy is die mees oorskatte deug?

Vroomheid, want dis só gereeld vals.

Wanneer vertel jy leuens?

My ma lees Beeld, so kan ek maak asof ek nie hierdie vraag gesien het nie?

Watter woord of frase gebruik jy te veel?

Behalwe 'n rits swetswoorde: Ek gaan myself nie herhaal nie! En: Los dit net, ek doen dit self.

As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?

Meer selfdissipline, minder menings. 'n Lyf wat kan bybly by my wil.

Wat is jou gunstelingname?

Lorentz, Alexander, Christoff, Tana.

Hoe sal jy graag wil sterf?

Onbewus.

As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?

'n Klip.

Wat is jou motto?

Doen so min as moontlik skade, terwyl jy soveel as moontlik pret het.

SPELETJIES VANDAG

CTA