André de Villiers is 'n 4x4-spesialis. Die nuutste reeks van sy kykNET-program, 4x4 met André, begin Maandag.

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?
Dat ek my passie kan uitleef in my werk, asook dat ek die grootste 4x4- spesialis in Suid Afrika is.
Wat is jou idee van volmaakte geluk?
Om enige vorm van 'n enjin-gedrewe rytuig se stuur vas te hou, en wanneer my hart adrenalien pomp nadat ek 'n 4x4-hindernis suksesvol voltooi het, asook om op my Harley te klim en die langpad aan te durf!
Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?
Uitstekend, want ek het hierdie week my Adventure-motorfiets gekry.
Wat is jou gunstelingberoep?
Om vry te wees in die natuur en my jare se voertuigbestuur-ervarings, asook 4x4-kennis, oor te dra aan ander om hulle wyser en gelukkiger te maak sodat hulle ook kan ervaar wat vir my lekker is - op 'n veilige manier.
Wat is jou kosbaarste besitting?
Al my kinders en hul suksesvolle lewensverhale.
Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?
My Harley-Davidson-motorfietse.
Wat is jou gunstelingreis?
Alle 4x4-safari's na die onbekende terreine waar ek die natuur se stilte en mooi prentjies ervaar.
Wat is jou sterkste karaktereienskap?
Om lewensuitdagings by die horings te pak en dit suksesvol voltooi. Kannie is lankal dood van kruiwa stoot!
Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?
Alleen in die natuur, hetsy op 'n 4x4-safari, in die Bosveld te voet of op my boot met 'n visstok in die hand.
Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?
Produkte van 'n swak gehalte waar die "ingenieur" nie sy sintuie en gesonde verstand gebruik het tydens die ontwikkelingsproses nie!
Wat is jou grootste vrees?
Om nie meer 'n stuurwiel te kan vashou nie.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Om 'n nuwe ryding te kry en hom behoorlik tot die uiterste te toets.
Watter lewende mens verag jy die meeste?
Dis 'n mors van tyd. Ek stap liewers aan en bepaal my by dit wat saak maak en my gelukkig maak.
Waaroor is jy die meeste spyt?
Dat daar te min tyd in my dag is om alles wat lekker is in te pas.
Watter talent sou jy graag wou hê?
Ek woeker met my huidige talente wat spesiaal vir my uitgedeel is en ek is baie tevrede met hulle, so daar is niks anders wat ek wil hê nie.
Waar sal jy die graagste wil bly?
Daar waar ek niemand kan sien nie en die stilte van die natuur en sy geheime kan ervaar. En as dit nie moontlik is nie, by die see.
Wat beskou jy as die grootste ellende?
Om nutteloos te wees vir almal om jou en niks daaromtrent te doen nie.
Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?
Om te kan omgee en behulpsaam te wees, met baie liefde in sy dade.
Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?
Onvoorwaardelike liefde vir haar man wat die anker in die lewe is.
Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?
Om ongeduldig te raak vir ander mense se onnoselheid.
Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?
Mense wat nie kan luister nie en ook nie vrae vra as hulle nie weet nie.
Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?
Hul omgee vir my en hulle is altyd daar as dit moeilik gaan.
Wie is jou grootste (fiktiewe) held?
Ek het nie sulke helde nie en stel ook nie belang in hulle nie.
Wie is jou gunstelingskrywer(s)?
My admin-dame en draaiboekskrywer.
Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?
My pa.
Wie is jou helde in die ware lewe?
Mense wat innoverend en slim werk en altyd 'n goeie voorbeeld stel.
Watter lewende mens bewonder jy die meeste?
Die mens wat in my lewe 'n positiewe verskil maak wanneer ons bymekaar is.
Wat dink jy is die mees oorskatte deug?
Fiksierolprente is vir my 'n mors van tyd en energie, asook elektroniese speletjies.
Wanneer vertel jy leuens?
Wanneer ek dit die minste verwag en wanneer ek deur 'n beampte van die gereg voorgekeer word, veral in Afrika, wat baie gebeur.
Watter woord of frase gebruik jy te veel?
"Oh my word?.?.?."
As jy iets omtrent jouself kan verander, wat sal dit wees?
Niks nie, ek is so geskape, maar sal bietjie meer geduld wou kry met onnosel mense.
Wat is jou gunstelingname?
Harley-Davidson en Volkswagen.
Hoe sal jy graag wil sterf?
Saggies in my slaap.
As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?
Dieselfde "André 4x4", net nog beter en met vingers om kitaar langs 'n kampvuur te kan speel.
Wat is jou motto?
Om alles te gee in die lewe.














