Profiele

Proust met Angus Taylor

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Angus Taylor is 'n beeldhouer.

Angus Taylor.
Angus Taylor.

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?

Die getal betekenisvolle verhoudings wat ek lyk my handhaaf.

Wat is jou idee van perfekte geluk?

Besonderse ervarings wat jou emo­sioneel en intellektueel roer. Ook betekenis en betrokkenheid; gesondheid en vryheid.?

Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?

Soos gewoonlik heel gelukkig, maar met so 'n ondertoon van ligte stres of 'n effense gevoel van dringendheid.?

Wat is jou gunstelingberoep?

Ek het nog net met klei gespeel (professioneel), 'n bietjie restaurantwerk en weermagspeletjies gedoen (gedwonge) en klas gegee. Van alles is dit vir seker om met klei te speel.?

Wat is jou kosbaarste besitting?

My hande en liggaam.?

Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?

My bewussyn.?

Wat is jou gunstelingreis?

Ouer word: die stadige maar sneller wordende aanstap en ervaring van 'n lewenslengte.?

Wat is jou sterkste karaktereienskap?

'n Oop gemoed en die aanvaarding dat ek min weet.

Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?

Saam met Rina op die Griekse eiland Kos.?

Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?

Menslike groot-"gattigheid". ?

Wat is jou grootste vrees?

Die optrede van oortuigde onkundige mense, veral groepsgedrewe. ?

Wat is jou grootste uitspattigheid?

Speelgoed, soos fietse, vlieërs, branderplanke en te veel wyn.?

Watter lewende mens verag jy die meeste?

Verag is effe sterk. Daar is wel baie mense van wie ek besonder min hou, soos ideologies geïnspireerde, dogmaties oortuigde en dus geslote mense.?

Waaroor is jy die meeste spyt?

Ek probeer my bepaal by wat binne my beheer is en doen my bes; daarom dra ek nie eintlik spyt rond nie. Ook kan ek net weet wat ek weet, wanneer ek dit weet. So as ek gister onkundig opgetree het, was dit relevant in of tot gister.

Watter talent sou jy graag wou hê?

Ek sou graag tjello wou kon speel. ?

Waar sal jy die graagste wil bly?

Waar mense saam 'n kultuur, 'n omgewing, 'n kollektiewe tuiste net help opbou.

Wat beskou jy as die grootste ellende?

Menslike optrede sonder konteks­tuele ondersoek na sowel geskied­kundige as toekomstige gevolge.

Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?

Ons (soms dom) gedrewe, doelgerigte eenvoudigheid.?

Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?

Die detail in denke en sosiale sensitiwiteit, begrip of intelligensie.

Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?

Ek sukkel om te doen wat ek moet doen wanneer ek dit nie wil doen nie.?

Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?

Die aangryp van narratiewe waarmee ons verdoesel wat ons verkeerd doen aan onsself, ander en ons omgewing.

Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?

Eerlikheid en aansporing tot meer vanweë die voorbeeld wat hulle stel. ?

Wie is jou grootste (fiktiewe) held?

Die Groot Gees wat wandel.

Wie is jou gunstelingskrywer(s)?

Iain McGilchrist, Ian McEwan, Kazuo Ishiguro, Haruki Murakami, Margaret Atwood, Breyten Breytenbach, Antjie Krog se gedigte, Ted Hughes­ en Tom Waits.

Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?

Daar is 'n Boeddhistiese gesegde wat lui: As jy die Boeddha op jou pad kry, maak hom dood, want dis jóú pad. Eerlikwaar, niemand. ?

Wie is jou helde in die ware lewe?

Mense wat die wêreld opbou, wat bewustelik omgaan met alles wat leef sonder 'n hoë dunk van hulself as individu of spesie, wat kwesbaar bly en hul skadukant erken.?

Watter lewendige mens bewonder jy die meeste?

Daar is niemand wat ek kan verhef tot die status van bewondering nie; alles is om die helfte net geluk.

Wat dink jy is die mees oorskatte deug?

My bevoorregte agtergrond, my liefde, fokus en dus vaardigheid vir die maak van dinge, want die helfte van dit alles is net geluk.?

Wanneer vertel jy leuens?

Om my eie of iemand anders se hart te beskerm. ?

Watter woord of frase gebruik jy te veel?

F*k.?

As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?

Ek sou minder wou slaap en meer gedoen wou kry; sou dalk graag minder kinderdaegevolge wou dra; minder eksistensialisties wou wees en meer idealisties; minder realisties en meer optimisties. ?

Wat is jou gunstelingname?

Sibusiso, Cameron, Tristan, Uku, Kobus en Anna.?

Hoe sal jy graag wil sterf?

Tevrede met 'n vol hart en, indien moontlik, in water.?

As jy ná jou dood kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?

As 'n walvis, maar duisend jaar ge­lede voor die uitvinding van plastiek en harpoene en twak.

Wat is jou motto?

Wat is, is?.?.?. hanteer en bestuur dit.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM