Profiele

Proust met Blaine Jones

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Blaine Jones is 'n radio-omroeper en lid van RSG se Op en wakker-span.

Blaine Jones.
Blaine Jones.

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?

Dat ek deel is van 'n uitmuntende RSG-span op die grootste Afrikaanse ontbytprogram in Suid-Afrika.

Wat is jou idee van perfekte geluk?

Dankbaarheid vir die seëninge (en uitdagings) wat my te beurt val. Die geleenthede om daagliks te groei in ervaringe en nog die tyd te hê om reg te kan maak waar ek verbrou. Om gesond te kan wees, 'n stabielie inkomste te verdien en 'n werk waaruit jy onuitputbare bevrediging kry - en natuurlik my eie gesin eendag.

Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?

Ek is honger vir groei en geleenthede en voel soms geïrriteerd met myself dat dinge te stadig gebeur.

Wat is jou gunstelingberoep?

Om 'n radio-omroeper te wees is 'n droom. Die adrenalien-belaaide rol van 'n joernalis is ook aanloklik. En ek wil graag die TV-bedryf aandurf.

Wat is jou kosbaarste besitting?

'n Bybel wat aan my oorlede oupa behoort het. Dit was 'n geskenk vanaf my ouma vir my 21ste verjaardag.

Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?

My gesin; my ouers en jonger broer. En Kaapse koesisters, in stroop gebak en met baie klapper bedek.

Wat is jou gunstelingreis?

Paternoster aan die Kaapse Weskus, waar 'n mens kan asemhaal en jouself wees, vry van enige inhibisies.

Wat is jou sterkste karaktereienskap?

Beslis my uithouvermoë. Ek gee nooit moed op nie, maak nie saak wat die omstandighede is nie.

Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?

As sorgelose kind en nou, as grootmens, elke einde van die maand as my salaris inbetaal word.

Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?

Onbetroubare en oneerlike mense.

Wat is jou grootste vrees?

Hoogtes

Wat is jou grootste uitspattigheid?

Ek het 'n passie vir binnenshuise ontwerp. So wanneer ek 'n geldjie het, spandeer ek dit op iets moois vir my woonstel.

Watter lewende mens verag jy die meeste?

My ma sê altyd, as jy Bybel lees en bid, is dit nie jou plek om ander mense te verag of vinger te wys nie. Hulle sal self eendag verantwoording moet doen. Daarom fokus ek maar my energie om aan myself te werk.

Waaroor is jy die meeste spyt?

Oor absoluut niks. Elke fout wat ek nog ooit gemaak het, was 'n leerskool. Dit het my die gereedskap gebied om te groei, om nie weer in dieselfde strikke te beland nie. Ek leer nog elke dag.

Watter talent sou jy graag wou hê?

Om te kan sing!

Waar sal jy die graagste wil bly?

Wene in Oostenryk.

Wat beskou jy as die grootste ellende?

Armoede. Dat mense nie eens die alledaagse goed wat ons as vanselfsprekend aanvaar kan bekostig nie.

Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?

'n Man wat sy pligte en verantwoordelikhede nakom, maar ook kan wys dat hy kwesbaar kan wees.

Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?

'n Vrou met ambisie, wat sag kan wees as dit nodig is, maar ook ferm as sy moet.

Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?

Ek is baie hard op myself en raak ongeduldig en gefrustreerd met myself as ek nie iets gou kan baasraak nie.

Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?

Selfsugtige, eie-ek mense, wat nie ander se belange op die hart dra nie.

Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?

Die positiewe impak wat hulle op my het, deur hulle raad en leiding en dat hulle altyd my beste belange op die hart dra.

Wie is jou grootste (fiktiewe) held?

Harry Potter.

Wie is jou gunstelingskrywer(s)?

J.K. Rowling, Stephen King en André Brink.

Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?

Rosa Parks, Amerikaanse aktivis. Nes sy neem ek nie nee vir 'n antwoord nie.

Wie is jou helde in die ware lewe?

Chris Bumstead, Casey Neistat, Cathy Dlodlo, Gordon Ramsay en my ouers.

Watter lewende mens bewonder jy die meeste?

Trevor Noah.

Wat dink jy is die mees oorskatte deug?

Om 'n balans in jou lewe te hê. Oscar Wilde som dit so perfek op: "Moderation is a fatal thing, nothing succeeds like excess."

Wanneer vertel jy leuens?

Ek vertel net wit leuentjies?.?.?.

Watter woord of frase gebruik jy te veel?

"My bru" en "Blaine Jones, RSG-verkeer".

As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?

My maer bene.

Wat is jou gunstelingname?

Bee, Blaino, Papi Blaino, Yster, Blaino the main ou.

Hoe sal jy graag wil sterf?

In my slaap.

As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?

'n Kat, want dan kan ek heeldag eet en slaap.

Wat is jou motto?

Life is short, live in the moment.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM