Profiele

Proust met Hykie Berg

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Hykie Berg is 'n akteur en skrywer. Sy jongste boek, Geroep vir meer: Om suksesvol te lewe, het pas verskyn.

Hykie Berg.
Hykie Berg.

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?

Leméh, my dogtertjie. My tweede grootste prestasie is om elke liewe dag te oorkom en skoon te bly. As jy verslaaf was aan dwelms los jy dit nie net een dag nie, dit is 'n elke dag-ding.

As ek vandag skoon is, was dit 'n suksesvolle dag vir my.

Wat is jou idee van perfekte geluk?

Ek dink nie die lewe gaan oor geluk nie. Ek glo pyn, ongemak en moeilike tye is 'n groot geskenk, want dit is waardeur ons sterker word en groei.

Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?

Ek ervaar serenity. Ek het al voorheen uitgebrand. My geestesgesondheid is goed, al is ek gediagnoseer met 'n hele klomp goed - depressie, ADHD, bipolariteit, angsversteurings. En ek was lank op baie medikasie, maar vandag gaan dit baie goed. Ek is rustig en het vrede.

Wat is jou gunstelingberoep?

Ek geniet alles wat ek doen, want ek maak seker dat alles wat ek doen in my "why?" val - dit wat sin en mening vir jou lewe gee en wat jou doel dryf.

My "why?" is om mense te inspireer en hoop te gee. Maar om gehore toe te spreek is by verre my gunsteling.

Wat is jou kosbaarste besitting?

'n Coke-botteltjie wat my ouma in 1976 in Jerusalem gekry het. Alles op die botteltjie staan in Hebreeus en sy het water uit die Jordaanrivier daarin gegooi, waarmee ek gedoop is.

Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?

Die Here, en dan ook Gerridene, my vroutjie.

Wat is jou gunstelingreis?

Toe ek in 2016 saam met 'n groep Israel toe is.

Geroep vir meer: Om suksesvol te lewe.
Geroep vir meer: Om suksesvol te lewe.

Wat is jou sterkste karaktereienskap?

My belangstelling in mense.

Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?

In 2010 toe ek Survivor gewen het en R1 miljoen in my bankrekening gekry het.

Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?

Wanneer die toiletpapier in 'n openbare toilet klaar is en jy moet die yster-dingetjie druk om die toiletpapier van bo af te trek en dan moet jy dit losmaak. Dit irriteer my tot in die derde hemel in!

Wat is jou grootste vrees?

Dat iets met my vrou en kind moet gebeur. En slange. Ek háát slange.

Wat is jou grootste uitspattigheid?

Wanneer ek en Gerridene gaan uiteet.

Dis vir ons lekker. Ons het nie 'n groot sosiale lewe nie. In my vorige lewe was dit R30000 in 'n strip club, crack, cocaine, en vier dae in 'n bordeel. Gelukkig is daai dae verby.

Watter lewende mens verag jy die meeste?

Ek verag nie mense nie.

Waaroor is jy die meeste spyt?

Dat ek die jaar ná skool nie oorsee gegaan het vir 'n jaar nie.

Watter talent sou jy graag wou hê?

Ek wens ek kon elke liewe aksent in die wêreld 100% namaak.

Waar sal jy die graagste wil bly?

Vleesbaai

Wat beskou jy as die grootste ellende?

Mense wat geen droom het nie. Mense wat doodgaan op 25, maar eers begrawe word op 75. Hulle vind nooit uit wat hul doel en roeping is nie.

Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?

Wanneer 'n man sag is en hy sy vrou hanteer soos 'n koningin.

Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?

Wanneer sy totaal en al eerlik met haarself kan wees, kwesbaar kan wees en haar gevoelens met haar geliefdes kan deel.

Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?

Ek vergeet goed soos name en ek verloor goed soos sleutels en beursies.

Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?

Wanneer mense kla oor hul omstandighede, maar niks doen daaraan nie.

Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?

As ons mekaar ná 'n lang ruk weer sien, tel ons net weer op waar ons mekaar gelos het.

Wie is jou grootste (fiktiewe) held?

Daniël in die Bybel.

Wie is jou gunstelingskrywer(s)?

Og Mandino, Paulo Coelho en Napoleon Hill.

Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?

Galileo Galilei

Wie is jou helde in die ware lewe?

My pa.

Watter lewendige mens bewonder jy die meeste?

Vir seker my pa.

Wat is die mees oorskatte deug?

Ek dink nie enige deug kan oorskat word nie, maar ek vind dit wel nutteloos as maatskappye hul waardes by hul kantore uitstal, soos eerlikheid en integriteit. Moet jy dit nie in elk geval wees nie?

Wanneer vertel jy leuens?

Almal vertel elke dag vir hulself leuens. Ons maak asof dinge nie so erg is soos wat dit regtig is nie of ons maak dit erger as wat dit regtig is.

Watter woord of frase gebruik jy te veel?

Next level!

As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?

My impulsiewe gedrag. Te vinnig praat, te min luister, te gou iets sê, te vinnig besluite maak.

Wat is jou gunstelingname?

Leméh; omgedraai is dit "hemel".

Hoe sal jy graag wil sterf?

Ek glo ek gaan 121 jaar oud word en Moses wen met 'n jaar. Dan sal ek graag net my oë wil toemaak en gaan.

As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?

'n Arend.

Wat is jou motto?

If you want things to get better, you need to get better. If you want things to change, you need to change. If you want things to grow, you need to grow because when you grow, everything else grows around you.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM